Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 7

Ek staan by die deur en klop

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 3

Die boodskap aan Laodisea

14Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea:

So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het:

15Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! 16Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.

17Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. 18Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.

19Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. 20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

21Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

22Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:14-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Welvaart kan ook nadelig vir ons wees. Dit kan mense selfvoldaan maak en veroorsaak dat hulle dink hulle het God nie meer nodig nie. Dit kan daartoe lei dat ons geestelik lou raak. Let daarop dat warm sowel as koud hier as positief waardeer word maar dat die louheid van die gemeente God naar maak. Dit is letterlik wat bedoel word met die uitdrukking: Ek (gaan) julle uit my mond uitspoeg. Soms is dit nodig dat God hard met sy kerk moet praat.

Volgens die boodskap aan die kerk in hierdie gedeelte bestaan ware, geestelike rykdom uit drie dinge. Dit is eerstens die troos dat lyding, soos goud wat gelouter word, deel is van ʼn verhouding met God. Tweedens is dit die vreugde oor die vergifnis van ons sonde wat so kosbaar is soos om wit klere te dra. Laastens behels dit die insig om ons afhanklikheid van God te besef en so van ons geestelike blindheid genees te word.

Dit is belangrik dat ons altyd van God afhanklik sal wees en gereeld tot bekering sal kom. Daarom laat God nooit sy kerk alleen nie. Soos met Adam en Eva in die tuin van Eden, kom soek God altyd weer na ons. Deur sy Woord en Gees klop God aan die deur van die kerk om ons te herinner dat Hy altyd daar is en besorg is oor ons. Die voortdurende proses van bekering begin nie by die mens nie maar by God wat klop en na ons soek.

Die teleurstelling is dat die deur toe is en dat God aan die buitekant staan en nie binne die kerk is nie. Waar God egter teenwoordig is in sy kerk, verander die verhouding in ʼn feesmaal. God se teenwoordigheid by sy kerk bring vreugde en intimiteit. Vir God gaan dit nie om mense te straf nie maar eerder om mense se verhouding met Hom te herstel.

Dink na oor:

  1. 1.Wat maak mense vandag selfvoldaan?
  2. 2.Hoe klop God aan die deur van ons harte?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS