Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 4

Bly getrou aan God

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 2

Die boodskap aan Tiatira

18Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira:

So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is:

19Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore.

20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.

24Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25hou net vas wat julle het, totdat Ek kom.

26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.

29Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 2:18-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons sal altyd voorbeelde kry van geloof, diensvaardigheid en volharding. Daar is sekerlik ook tye in ons eie geloofslewe wanneer ons dit regkry om aan God getrou te wees. Maar omdat die samelewing uit mense bestaan sal daar ook altyd ontrouheid aan God wees. Ons ervaar dit ook in ons persoonlike geloofslewe dat ons vanweë ons menslike swakhede in sonde en ongehoorsaamheid verval.

Die verwysing na Isebel in hierdie gedeelte herinner ons juis daaraan. Isebel het koning Agab tot afgodery verlei en die wingerd van Nabot met leuens en moord afgevat. Sulke ontrouheid kan selfs in ʼn godsdienstige gedaante voorkom. Dit word vir ons in die teksgedeelte bevestig deur die voorstelling van Isebel as ʼn profetes. Dit is soms mense en gebeure in die kerk self wat ons die seerste maak. Aan die ander kant moet ons waak dat ons nie deur ons eie optrede ander tot ʼn val bring nie.

Deur God se genade kan mense altyd weer tot bekering kom. Dit is ʼn proses wat lewenslank duur en ons sal almal kan getuig van hierdie voortdurende stryd wat in ons woed. Alhoewel God dit nie veroorsaak nie, kan Hy selfs lyding gebruik om mense tot inkeer te bring.

Dit is nie aldag maklik om aan God getrou te bly te midde van ʼn goddelose wêreld nie. Soms kan die druk om toe te gee aan die versoekings van die wêreld baie swaar word. God verwag egter nie van ons om allerlei verpligtinge na te kom nie. God se genade is vir ons genoeg. Daaraan kan ons vashou. Deur Jesus Christus se oorwinning behaal ons ook oorwinning oor die magte van die duisternis. Soos wat die morester die dag aankondig na die nag, skyn die lig van Jesus Christus steeds deur die kerk in die duisternis van ons tyd.

Dink na oor:

  1. 1.Hoe doen die bose homself vandag as iets goeds voor?
  2. 2.Hoe breek God se lig in ons donker wêreld deur?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS