Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 3

Moenie bang wees nie, dit is Ek!

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 1

Jesus se verskyning aan Johannes

9Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding. Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. 10Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor 11sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. 14Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. 15Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. 16In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn.

17Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. 19Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat hierna gaan gebeur. 20En dit is die verborge betekenis van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampe: die sewe sterre is die leraars van die sewe gemeentes, en die sewe lampe is die sewe gemeentes.”

DIE OPENBARING 1:9-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Johannes bevind hom op die eiland Patmos. Sy afsondering op die eiland beeld die lyding uit wat gelowiges van alle tye moet verduur. Net soos wat Jesus Christus verstoot is, sal sy volgelinge dit ook ondervind. Die wêreld sal altyd probeer om die stem van die kerk stil te maak. Johannes word nogtans deur die Gees meegevoer. Daarmee word ons daarvan verseker dat ons oral die teenwoordigheid van God se Gees kan beleef.

Ons ervaar God se teenwoordigheid onder andere op die dag van die Here, dit wil sê op ʼn Sondag, wanneer gelowiges bymekaarkom om Jesus Christus se opstanding te vier. Dit is vandag nog steeds die dag waarop God op ʼn besondere wyse met sy kerk deur sy Woord praat. Die kerk word die sewe gemeentes genoem en word voorgestel as sewe staanlampe. Die kerk moet immers die lig vir die wêreld wees.

In die Skrifgedeelte word daar na Jesus Christus, soos ook in die Evangelies, verwys as Iemand wat lyk soos die Seun van die mens. Die beskrywing van sy voorkoms hoef nie in detail verklaar te word nie. Dit beklemtoon net Jesus Christus se heerlikheid en gesag na sy opstanding uit die dood. Die troos vir die kerk is dat Jesus Christus die Lewende is en dat Hy by sy kerk is. Die beelde wat gebruik word hou ʼn dubbele troos vir die kerk in. Die beeld van die swaard uit die mond verseker ons dat Jesus Christus vanuit die hemel met sy kerk praat. Terselfdertyd hou Hy sy kerk, die sewe sterre, vas en regeer Hy sy kerk soos ʼn koning met sy septer in sy regterhand.

Jesus Christus se goddelikheid blyk uit die woorde: Moenie bang wees nie, dit is Ek. Daarmee stel God sy kerk gerus. Jesus Christus het die dood en die doderyk oorwin. Hy is by ons deur sy Woord en Gees.

Dink na:

  1. 1.Hoe word die stem van die Kerk vandag stilgemaak?
  2. 2.Waar beleef jy God se teenwoordigheid?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS