Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 2

Genade en vrede vir julle!

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 1

Aanhef van die brief

4Van Johannes.

Aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië.

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Tema van die boek

7Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag.

Ja, dit is seker!

8“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

DIE OPENBARING 1:4-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die sewe gemeentes verteenwoordig die kerk van alle tye en plekke. Die getal sewe dui daarop dat dit God se kerk is. God praat ook met sy kerk vandag, met my en jou. Anders as wat aardse konings met hulle onderdane sou maak, groet God sy kerk met woorde van genade en vrede. Ons hoef nie bang te wees vir God se teenwoordigheid nie, al is God almagtig en ewig.

Die sewe Geeste voor God se troon is ʼn ander manier om van God se Gees te praat, of soos dit aan ons bekend is as die Heilige Gees. Dan val die kollig op Jesus Christus. Hy het vir ons kom wys hoe God werklik is. Daarom is Hy die geloofwaardige getuie. Deur sy opstanding uit die dood het Jesus Christus getoon dat God meer mag het en heers oor die konings van die aarde.

Dit is vir gelowiges van alle tye wat soms onder moeilike politieke omstandighede lewe ʼn groot troos. Deur ons geloof in Jesus Christus het ons egter ʼn besondere verantwoordelikheid. God se koninkryk moet deur die manier waarop ons leef ʼn werklikheid word. Anders as die priesters in die Ou Testament, het gewone gelowiges nou direkte toegang tot God.

Soos wat wolke dikwels in die Bybel verband hou met God se teenwoordigheid, dui Jesus Christus se koms op die wolke hier op God se teenwoordigheid by sy kerk. Elke keer as ons opkyk en die wolke raaksien, word ons daardeur verseker dat God by ons is. Hulle wat Jesus Christus nie so sien nie sal egter in selfverwyt weeklaag. God is altyd daar en daarom word Hy die Alfa en Omega genoem.

Dink na:

  1. 1.Hoe beleef ons God se teenwoordigheid by ons?
  2. 2.Hoe kan ons God se teenwoordigheid meer sigbaar maak?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS