Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Sewe dae van inspirasie uit Openbaring - Dag 1

Moenie bang wees nie

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 1

Voorwoord

1Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. 2Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.

3Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

DIE OPENBARING 1:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die boek Openbaring is geskryf om gelowiges wat bang was te bemoedig. Hulle was bang vir die regering van die dag, die Romeine, wat hulle vyandiggesind was. Hulle was bang vir hul eie mense, die Jode, wat hulle verstoot het omdat hulle Christene geword het en hulle was bang vir allerlei magte en kragte wat volgens die opvatting van daardie tyd ʼn invloed op die gebeure op aarde gehad het.

Die troos vir die gelowiges is dat Jesus Christus lewe. Hy is die lewende God en Heerser oor die heelal. Die inhoud van die boek Openbaring is nie voorspellings van dinge wat eendag in die toekoms nog gaan plaasvind nie. Dit is bedoel vir die kerk van alle tye. God bemoedig self sy kerk, sy dienaars, deur vir ons iets van die hemel op die aarde oop te breek. Engele tree dikwels in die boek as boodskappers van God op. Daarmee word beklemtoon dat dit ʼn betroubare boodskap is.

Wie Johannes presies was, maak nie regtig saak nie. Hy verteenwoordig die kerk as die instrument waardeur God sy boodskap oordra. God praat met ons deur gewone mense. God se boodskap is nie iets om voor bang te wees nie. Dit maak ons eintlik baie gelukkig. Ons is soms huiwerig om die boek Openbaring te lees aangesien dit soveel simboliek en beeldspraak bevat. Ons hoef egter nie bang te wees om dit te lees nie. Die boek is bedoel om ons te troos. Ook die eindtyd is nie iets waarvoor God se kerk hoef bang te wees nie. Ons hoef nie in vrees te lewe vir Jesus Christus se wederkoms nie. Dit is iets waarna sy kerk kan uitsien. Vir elke geslag is die tyd waarin ons lewe ʼn beslissende tyd.

Dink na:

  1. 1.Met watter vrese leef mense vandag?
  2. 2.Hoe bemoedig God sy kerk?
  3. 3.Dank God nou dat jy deel van sy kerk is.
  4. 4.Vra God om jou te bevry van enige vrese wat daar dalk in jou hart is.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS