Oorlog en vrede – Dag 7
Leef saam in vrede
Bybelteks(te)
JESAJA 2
Gister het ons gelees van die hoopvolle toekoms wat Jesaja bied. Vandag sien ons dat hy aan die begin van sy boek reeds vir ons gewys het wat vir God belangrik is. Alle nasies sal na die berg van God optrek waar Hy sal regspreek. Ná sy verhoor sal Hy ʼn einde maak aan alle oorloë en geweld. Wapens sal in landbougereedskap omskep word.
Om die aarde vrugbaar te maak en God se skepping te geniet, is wat vir God saak maak. Hy belowe dat daar ʼn tyd sal kom dat mense sal besef dat hulle nie meer geweld teen mekaar hoef te gebruik nie. Almal sal in vrede saamleef.
Die teks (Jesaja 2:4) oor swaarde wat in ploegskare omskep word, word in verskeie kunswerke uitgebeeld wat jy by die Verenigde Nasies-gebou in New York sal vind. Dit wys dat die Bybelse teks steeds dien as inspirasie om oorloë te beëindig en vrede te herstel.
Wat kan jy vandag doen om hierdie visie te help bewaarheid?