Bible Society of South Africa

Oorlog en vrede – Dag 3

Mag

Bybelteks(te)

PSALMS 46

God is vir ons 'n toevlug

1Vir die koorleier. Van die Koragiete. Op die wysie van “Jong Vroue”. 'n Lied.

2God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;

Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

3Daarom is ons nie bang nie,

al gee die aarde pad,

al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

4al druis en skuim die waters van die see,

al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela

5Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,

in die heilige woning van die Allerhoogste.

6God is daar; die stad sal nie wankel nie.

God sal hom help nog voor die môre kom.

7Nasies kan raas en koninkryke wankel,

maar as God sy stem laat hoor,

smelt die aarde weg.

8Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

9Kom kyk wat die Here gedoen het,

watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring:

10die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou,

pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend,

oorlogswaens verbrand Hy met vuur.

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

PSALMS 46:1-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die skrywer van Psalm 46 fokus op die groter prentjie. Net soos in die psalms wat ons gister en eergister gelees het, gaan hierdie psalm ook oor God as ons beskermer. Maar die beelde in Psalm 46 is groot: die aarde skud, berge val in die see, koninkryke stort ineen.

Tydens oorlog kan dit vir mense voel of die aarde skud en alles ineenstort. Dit is nie net die soldate wat dit ervaar nie, maar ook gewone burgers. Maar God is bo dit verhewe, sê die psalmdigter, en as Hy praat, luister almal. Wat ook al gebeur, God se einddoel is duidelik: Hy sal die geveg uiteindelik laat ophou. Net God het die mag om dit te laat gebeur. Hy sal ʼn einde maak aan alle oorloë, Hy sal vrede en beskerming aan almal bring.

God sê by monde van die psalmdigter: “Ek is verhewe bo die nasies, Ek is verhewe bo die aarde” (Afrikaans 2020-vertaling).

Hoe ervaar jy God se krag en wat merk jy daarvan op in hierdie tyd?

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS