Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 6

Verwerping

Bybelteks(te)

MARKUS 5

15Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik.

MARKUS 5

Die besetene van Gerasa

1Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. 2Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom.

3Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, 4want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. 5Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe.

6Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval 7en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” 8want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.”

10Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. 11Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. 12Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!”

13Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip.

14Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. 15Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. 16Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. 17Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.

18Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. 19Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.”

20Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

MARKUS 5:1-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons generasie is gewoond daaraan om vreemde en wonderlike foto’s of prente te sien. Die filmwêreld en spesiale effekte lei daartoe dat ons voortdurend ʼn skouspel verwag en ongelukkig is ons so bederf dat dit moeilik is om ons te beïndruk.

Maar hierdie verhaal in Markus 5:1-20 sal moeilik geklop word. Dit is, om die minste te sê, ʼn bisarre verhaal, maar ons moet weet waarop ons moet let en die les wat ons hieruit moet leer.

Eerstens is dit goed om te weet dat die gebied wat Jesus besoek het nie ʼn Joodse streek was nie maar ʼn land waar nie-Jode gewoon het. Die teenwoordigheid van die varke en die onaardse geskreeu van die man met die bose gees wat tussen die grafte gebly het, was heel waarskynlik alledaags in die bygelowige en donker wêreld van baie nie-Joodse gemeenskappe van daardie tyd.

Let dan daarop hoe die bose geeste teenoor Jesus reageer. Hulle het voor Hom neergeval en was bang vir Hom (verse 6,9). Die wêreld van die duisternis het geweet dat hulle tyd verby was met die koms van Jesus. Jesus het gekom om die werk van die duiwel te vernietig en alhoewel hy nog nie vernietig is nie, is Satan in beginsel reeds verslaan en kyk hy reeds die verskriklike oordeel van God in die oë.

Toe smeek die bose geeste Jesus om hulle toe te laat om in die varke in te vaar en Jesus het dit toegelaat. Die varke het almal versuip en die inwoners van die gebied was verstom.

Waarom het hierdie verhaal so afgespeel? Dit is alles so vreemd. Hoekom het Jesus soontoe gegaan? Hoe het die bose geeste Hom herken? Hoekom het Hy hulle stilgemaak? Hoekom het Hy aan hulle toestemming gegee om die varke in te vaar? Hierdie vrae en nog meer kom by ʼn mens op wanneer jy hierdie Skrifgedeelte lees. Maar hierdie vrae is nie Markus se doel met hierdie gedeelte nie. Hy wil hê dat ons moet sien hoe mense teenoor Jesus reageer.

ʼn Mens sou dink dat die arme verskrikte mense wat jare met hierdie mal man in hulle midde moes saamleef, dankbaar sou wees vir dit wat Jesus gedoen het. ʼn Mens sou dink dat hulle Jesus na hulle dorpie toe sou nooi en Hom sou smeek om ander te verlos. Maar nee, dit was nie die geval nie. Hulle dring aan dat Hy moet weggaan! Lees vers 17: Is dit nie ʼn vreemde reaksie nie? ʼn Verlosser verskyn, maar Hy word weggestuur. In beginsel is dit niks anders as wat baie mense vandag nog doen nie. Hulle sien die verskil wat Jesus in die lewens van ander maak, en tog is hulle vreemd genoeg bang vir Hom en draai hulle rug op Hom.

Ken jy sulke mense? Bid dat die Here hulle oë sal oopmaak en hulle harte sal versag.

Ten minste het een persoon vir Jesus verwelkom en hy het daarop aangedring om by Jesus te bly – die man wie God verlos het. Maar Jesus gee aan hom dieselfde opdrag wat Hy aan ons ook gee nadat ons sy krag ervaar het: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het” (Markus 5:19b).

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS