Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 7

Die kosbaarste ding

Bybelteks(te)

SPREUKE 4

23Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan,

want dit bepaal jou hele lewe.

SPREUKE 4:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Markusevangelie word ons voorgestel aan die volgehoue konflik tussen Jesus en die duiwel. Jesus is egter altyd die Oorwinnaar want Hy het alle mag in die hemel en op aarde. Ons moet ook onthou dat die duiwel vir ewig en altyd verslaan is toe Jesus aan die kruis gesterf het.

Vandag wil ek dit egter beklemtoon dat die duiwel nie ons engiste vyand is nie. Ons eie harte kan ook ʼn vyand wees. Wat word bedoel met ons “harte”? Dit verwys gewoonlik na daardie innerlike deel van ons waarmee ons dink, voel, besluite neem en ons lewens leef – ons diepste, innerlike wese.

Dit is hierdie deel van ons wat deur die sonde aangeval word. Die ou natuur skuil nog daar en tree soms na vore en laat ons sondig. So, ons moet teen ons self waak. Ons moet versigtig wees en selfbeheersing uitoefen.

Die hart is ons vesting wat ten alle tye bewaar moet word. Daar word gesê: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word”. Ons doen soms meer moeite om ons huise en materiële besittings te bewaar as ons hart. Hoe bewaar jy jou hart? Al wat jy moet doen is om jou verstand te gebruik. In die eerste plek moet jy dit nie doelbewus blootstel aan dinge wat dit kan besoedel nie. Stel dit eerder bloot aan daardie dinge wat jou in staat stel om meer godvresend te leef.

Let daarop dat die vers ook sê “meer as alles”. Dit beteken dat jou geestelike lewe altyd die hoogste prioriteit moet wees. Daar is baie dinge wat ons aandag aftrek en baie pligte wat ons aandag verg, maar ons moet om genade bid om altyd ons harte op die Here en sy woord gerig te hou sodat ons te alle tye hulp van Hom kan ontvang.

Wat beteken “oorsprong van die lewe”? Dit beteken dat wat ook al ons harte besit en wat ook al die belangrikste liefde is wat daar woon, in die res van ons lewens neerslag sal vind. Soos ʼn stroom ondergrondse water in ʼn fontein uitborrel, so sal alles wat in ons harte is, uitborrel en ons lewens aanraak. Kom ons maak seker dat dit wat van ons innerlike wese uitborrel tot eer van God sal wees, ons lewens sal verryk, ander mense sal help en ons gemeenskappe positief sal beïnvloed. Ons moet ook onthou dat die verhaal van ʼn Verlosser wat gekruisig is en opgestaan het, die middelpunt is van dit wat uit ons harte voortspruit.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS