Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 4

Reaksies

Bybelteks(te)

MARKUS 4

20Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

In sommige gemeenskappe regoor die wêreld word die prediking van die woord van God hartlik verwelkom en daar is goeie reaksie. In ander gemeenskappe word die bybelse boodskap nie verwelkom nie en word dit geïgnoreer.

Hoekom hierdie verskillende reaksies? Wel, een van die kwessies wat die Nuwe Testament dikwels aanspreek is die verskillende reaksies op Jesus en sy woord.

In die gelykenis van die saaier vind ons vier verskillende reaksies op die goeie nuus. Sommige mense hoor dit, maar hulle harte is ontoeganklik en Satan neem alle herinneringe aan dit wat hulle gehoor het weg. Ander hoor die woord en neem dit met blydskap aan, maar die woord skiet nie wortel nie. Alles bly baie oppervlakkig. So wanneer hulle as gevolg van die evangelie gekonfronteer of vervolg word, word hulle afvallig en laat vaar die waarheid.

Daar is nog ʼn reaksie op die woord van God waarmee ons almal bekend is. Hulle aanvaar aanvanklik die boodskap, maar verskeie dinge lei hulle aandag weg van Jesus en sy woord – die gesin, kinders, sakeverpligtinge – en uiteindelik is die waarheid nie meer deel van hulle lewens nie. Ons almal ken so ʼn persoon. Is alles dan verlore? Spreek die evangelieboodskap dan tot niemand meer nie? Inteendeel, Jesus vertel ons van die goeie grond wat tot honderdvoudig voortbring van dit wat gesaai is.

Daar is altyd iemand wat hoor en glo. Soms is dit iemand van wie jy dit kan verwag, maar aan hulle is die geskenk gegee om te kan verstaan en hulle dra dan die vrugte.

Miskien dink jy nou aan jou eie ondervinding. Miskien het dit lank geneem voordat jy die lig gesien het. En alhoewel jy nie die hele boodskap toe verstaan het nie, het jy genoeg verstaan om jou opgewonde te maak en die evangelieboodskap het begin om in jou lewe wortel te skiet. En kyk nou. Selfs al is jy nie belangrik in die oë van die wêreld nie, het baie mense miskien reeds danksy jou die evangelie gehoor of baie het die liefde van Christus deur jou ervaar en is daardeur geseën. Jy is die een wat die vrug dra.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS