Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 3

Ore om te hoor

Bybelteks(te)

MARKUS 4

9Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Ons weet almal dat ʼn mens soms hoor maar nie luister nie. Ek dink ons almal kan getuig van vervelige lesings, sprekers, of gesprekke waaraan jy verplig was om deel te neem, maar die geleentheid of onderwerp het jou geensins geïnteresseer nie.

Jesus verwys na iets soortgelyk in hierdie teksvers. Hy het aarde toe gekom as God se Seun om die mensdom te verlos, maar daar was baie teëstanders wat Hom nie wou glo nie en wat Hom openlik teëgegaan het. Jesus het toe hierdie stelling gemaak wat ʼn groot waarheid bevat: slegs diegene wat wíl hoor, kán werklik hoor!

Die waarheid is dat baie mense nie na Jesus of na die woord van God wil luister nie. Hulle blyk afsydig en onontvanklik te wees. Dit is slegs diegene wie se ore God oopgemaak het wat werklik hoor wat Hy wil sê. Natuurlik is daar mense wat dink dat hulle ontvanklik is vir God en vir godsdiens, maar hulle is so vol van hulle eie idees, dat die woord van God geen kans het om in hulle lewens pos te vat nie.

Baie mense sal vandag beledig voel as daar gesuggereer word dat hulle nie na God wil luister nie want “hulle ore is nie geopen nie”. Dit is ongelukkig so dat baie mense dink hulle weet alles, maar eintlik weet hulle niks nie.

Wanneer ons sulke mense teëkom moet ons nie vir hulle kwaad word of hulle verwerp nie. Ons moet eerder onthou dat ons ook moontlik op ʼn stadium so was. Toe is ons in genade deur God aangeraak en nou kan ons hoor en verstaan. Laat ons voortdurend die Here vra om ons ore oop te hou om sy woord te hoor en te glo.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS