Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 2

Jou sondes word vergewe

Bybelteks(te)

MARKUS 2

5Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!”

Daar is geen groter behoefte in die hart en siel van die mens as om te hoor dat ons sondes vergewe is nie. So baie van ons se lewens en drome is vernietig as gevolg van (oordeels)foute van die verlede, woorde wat ons gesê het sonder om daaroor na te dink, slegte optredes en verkeerde dade.

Spyt en vrees oorheers soms die denke van selfs die beste mense. Na Moeder Teresa se dood in September (1997) het TIME ʼn artikel gepubliseer met die titel Mother Teresa’s Crisis of Faith. In hierdie artikel, wat tien jaar na haar dood verskyn het, is daar uit korrespondensie aangehaal dat hierdie eerbiedige vrou ook soms oor haar verhouding met God getwyfel het. Dit beklemtoon haar menslikheid en baie van ons kan met haar stryd identifiseer.

Hoe wonderlik om dan die woorde van ons Here Jesus Christus, ons Verlosser, te hoor: “… jou sondes word vergewe!” In hierdie verhaal in Markus is die man nie na Jesus gebring om sy sondes te vergewe nie. Hy was ʼn verlamde man en sy vriende het ʼn opening in die dak gemaak sodat hulle hom voor Jesus kon laat afsak sodat Hy hom kon genees. Maar ons Verlosser is wyser as die wysste man en Hy sien ʼn groter behoefte in hierdie man raak as bloot die genesing van sy ledemate, alhoewel dit ongetwyfeld ook ʼn baie groot behoefte was. Hy het ʼn veel groter behoefte gehad: die vergewing van sy sondes. Dit moet ons daaraan herinner dat ons uiterlike soms ʼn diper of groter behoefte in ons binneste verdoesel. Dikwels, wanneer mense byvoorbeeld sukkel met voortdurende depressie of ander probleme, is die heersende probleem nie noodwendig die hoofprobleem nie. Dikwels is daar ʼn verborge behoefte. Vergifnis is nodig vir sondes of mislukkings wat diep weggesteek is in vorige herinneringe.

Let daarop dat die timmerman van Nasaret nie net die insig het het om alles van ons te weet nie, maar ook die krag en gesag het om ons te vergewe as gevolg van wie Hy was en wat Hy vir ons kom doen het.

Miskien lees jy hierdie met ʼn swaar gemoed. Wat kan jy doen? Jy kan na Jesus toe kom in volle vertroue dat Hy nie net almal ontvang wat na Hom toe kom nie, maar dat Hy die volle gesag het om al ons sondes vir altyd te vergewe.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS