Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 1

Die boodskapper

Bybelteks(te)

MARKUS 1

1Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:

Die optrede van Johannes die Doper

2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou regmaak.

3Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed,

maak die paaie vir Hom reguit.

4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

MARKUS 1:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

MALEAGI 3

1Ek gaan nou my boodskapper stuur,

Hy sal die pad voor My uit regmaak,

en dan sal die Here na wie julle soek,

skielik na sy tempel toe kom.

Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien,

gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.

JESAJA 40

2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,

sê vir hom

sy swaarkry is verby,

hy het geboet vir sy sonde,

hy het van die Here die volle straf ontvang

vir al sy sondes.

Hierdie woorde verwys na Johannes die Doper. Hy is as boodskapper gestuur om die pad vir Jesus gereed te maak. Dit is ʼn betekenisvolle ontwikkeling en ons moet nie die belangrikheid van hierdie Skrifgedeelte vir ons lewens vandag laat verbygaan nie.

In die vroeë tydperk van die Romeinse Ryk was dit algemene gebruik om ʼn boodskapper vooruit te stuur om die oorwinning aan te kondig wanneer ʼn Romeinse generaal ʼn oorwinning behaal het op ʼn veraf slagveld. Dit het ook plaaslike inwoners bemoedig en vertroue gegee in die vermoëns van hulle leërmag om hulle te beskerm. Maar in hierdie Skrifgedeelte het ons egter te make met die vervulling van ʼn ou profesie (Maleagi 3:1; Jesaja 40:2) oor die langverwagte Messias. God sou ʼn boodskapper stuur om die mense voor te berei vir die koms van die Messias en ook om ʼn beroep te doen om hulle te laat bekeer sodat hulle gereed sal wees vir wanneer Hy verskyn.

Daar is twee maniere hoe Johannes die Doper se verkondigings ons vandag kan help. Eerstens kan ons seker wees dat die Een waarna hy verwys die ware Seun van God is. Hy was nie ʼn vervalsing of ʼn illusie nie. Hy was die ware Messias wat gekom het om sy kinders te verlos. Maar tweedens weet ons, danksy hierdie aankondiging, dat Jesus volkome uniek is. Hy is so enig in sy soort dat ʼn boodskapper Hom vooruitgaan. Anders as die boodskappers wat uitgestuur is om die militêre oorwinnings van die Romeinse generaals te verkondig, word hierdie boodskapper gestuur om die pad vir die Here Self gereed te maak. Verder kom hierdie “Here” nie as ʼn magtige kryger nie, maar as ʼn dienskneg wat sy volk wil red deur vir hulle te sterf.

Die uniekheid van Jesus kom oral in die eerste hoofstukke van die Markusevangelie voor, maar dit is miskien beter om hierdie eiesoortigheid in die lig van sy gesag en sy mag te beskryf. Lees Markus 1 en let op die baie tekens wat getuig dat Jesus uniek is: ʼn stem uit die hemel tydens sy doop, sy versoeking in die woestyn, sy mag oor die manne wat Hy geroep het om sy dissipels te word, sy gesag oor bose geeste, en sy krag om die siekes te genees. Dit is alles gebeure wat dui op ʼn ware en unieke Individu met buitengewone gesag en mag oor die gebrokenheid van die mensdom.

Dit moet ons werklik bemoedig. Wanneer dit soms lyk of die koninkryk van Christus besig is om te verdwyn, moet ons sy krag en grootheid onthou. Dit is hierdie mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy jou as sy kind geroep het en dit is hierdie mag en krag wat ons elke dag op ons lewenspad vergesel.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS