Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 18

Hy het opgestaan

Bybelteks(te)

MARKUS 16

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Somtyds sê mense dat hulle sal glo as hulle maar net ʼn wonderwerk kan beleef. Sommige gaan verder en sê dat die wonderwerk op hulle persoonlik gerig moet wees. As die Here hulle uit hulle omstandighede verlos, dan sal hulle glo.

Eerstens is die Bybel vol wonderwerke wat deur honderde mense aanskou is en tog het hulle nie geglo nie. Hulle het eerder geskreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Ons onderskat soms hoe onontvanklik on harte kan wees. Ons beskik vandag oor ongelooflike film- en televisietegnologie wat ons in staat stel om die wonders van die bodem van die see tot die onbeskryflike grootsheid van die buitenste ruimte te kan sien. En tog glo baie mense steeds nie.

Toe Jesus op aarde was het Hy drie wonderwerke gedoen waar Hy mense uit die dood opgewek het. Die eerste was Jaïrus, die raadslid van die sinagoge, se dogtertjie, die tweede was die seun van die weduwee van Nain wat in Lukas 7 vir ons opgeteken is, en die derde was die opwekking van Lasarus in Johannes 11. Baie mense was getuienis van hierdie gebeure maar het steeds nie geglo nie. Sommige het wel geglo.

Maar al die evangelies vertel die verhaal van Jesus se kragtige opstanding uit die dood. Al hierdie vertellings dui op ʼn kragtige wonderwerk – die wegrol van die klip, die geskokte wagte en die man met wit klere aan – alles is vir ons opgeteken. En tog het mense se harte steeds verhard.

Maar wat beteken dit vir ons wat glo? Wel, Jesus se opstanding is nie dieselfde as die opwekking uit die dood van die ander drie nie. Want al drie van hulle het uiteindelik weer gesterf. Hierdie wonderwerke is gevalle van opwekking eerder as opstanding. Maar toe Jesus uit die dood opgestaan het, was dit vir ewig. Die dood is oorwin. En sy opstanding is ʼn belofte vir almal wat op Hom vertrou dat hulle ook eendag uit die dood sal opstaan en die ewige lewe sal ontvang.

Ons praat nie nou oor diegene wat gesterf het voor die opstanding van Jesus nie. Dit is ʼn onderwerp op sy eie.

Ons wat in Jesus glo het die meeste hoop. Dit is waar dat ons fisies wel sal sterf, maar ons sal nie vir ewig sterf nie. Die Here wat ons altyd beskerm, selfs wanneer ons siele by Hom is, sal ons uit die dood opwek. Ons sal nuwe liggame ontvang en op ʼn nuwe aarde leef met ʼn nuwe hemel onder die heerskappy van die ewige Koning. Moet nooit, nooit moed verloor nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS