Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 17

Regverdig gemaak

Bybelteks(te)

ROMEINE 3

God verlos die mens

21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

ROMEINE 3:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dink net vir ʼn oomblik hoe baie die goeie dade van invloedryke mense in die wêreld al bereik het. Alhoewel ons in ʼn gevalle wêreld leef, moet ons nie vergeet dat ons na die beeld van God geskape is nie. Daarom is die mensdom in staat tot baie goeie dinge, maar ook tot slegte en bose dinge. Filantrope het deur die eeue hospitale vir die siekes gebou, skole vir arm kinders voorsien, en kos verskaf aan mense wat honger is. Hulle het verskeie slim planne beraam om diegene te help wat hulleself om een of ander rede nie kan help nie. ʼn Mens hoef net aan natuurrampe soos aarbewings en vloede te dink om te besef hoe welwillend en ruimhartig die wêreld kan wees.

Maar hoe goed, edel of prysenswaardig hierdie pogings ook al is, ons moet nooit die Bybel se leringe uit die oog verloor dat ons steeds nie vir God kan ken nie, ongeag ons goeie dade en “geregtigheid”. Ons kan Hom net waarlik ken as Hy Hom aan ons openbaar.

In hierdie teksvers lees ons dat dit presies is wat Hy doen. “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar …” Watter soort geregtigheid is dit? Dit is die geregtigheid van Christus wat al die goeie werke en edele dade wat mense oor al die eeue heen gedoen het vervang. En wat maak sy geregtigheid so spesiaal? Hy het Homself vir ons opgeoffer as versoening vir ons sondes. God belowe ons dat almal wat in sy Seun glo geregverdig sal word – sy Seun wat reeds aan die kruis vir ons sondes betaal het. Dit beteken dat ek nie meer hoef te probeer om myself vir God aanvaarbaar te maak nie – want dit is ʼn onmoontlike taak. Die onfeilbare geregtigheid wat God aan my gegee het, maak my aanvaarbaar vir die Vader. So, ek mag dalk moedeloos en soos ʼn mislukking voel, maar nou weet ek dat my gevoelens nie nie belangrik is nie. Die waarheid oor my is belangrik en dit is dat ek “deur God geregverdig is”. Ek is verlos, vergewe en vry van al my sondes en skuld.

Boonop is dit waarna die Ou-Testamentiese wet en profete heeltyd na verwys het. Daarom is dit nie nuut nie, dit is wat God van die begin af beplan het.

Ons moet egter nie ophou om goeie werk te doen nie. Inteendeel, ons moet dit vermeerder, maar hierdie keer met die wete dat dit ons nie in die hemel gaan bring nie, maar eerder ʼn bewys is dat ons aan die Here behoort en dat die Hemel ons uiteindelike bestemming is.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS