Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 16

Verlate

Bybelteks(te)

MARKUS 15

34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

MARKUS 15:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 22

U het my gebed verhoor

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid.

2My God, my God, waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

3My God, ek roep bedags en U antwoord nie,

ook snags, maar ek kry geen rus nie.

4U is tog die Heilige

wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!

5Op U het ons voorvaders vertrou.

Hulle het vertrou en U het hulle gered.

6Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry;

op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.

7Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie.

Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag.

8Almal wat my sien, spot my,

hulle steek vir my tong uit

en knik met voldoening die kop en sê:

9“Laat dit aan die Here oor!

Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry

as Hy dan so baie van hom hou.”

10U het my die eerste lewenslig laat sien,

my veilig laat rus aan die bors van my moeder.

11Van my geboorte af is ek onder u sorg,

van die begin van my lewe af is U my God.

12Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,

want die nood is naby

en daar is niemand wat help nie.

13'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel,

soos beeste uit Basan staan hulle my toe.

14Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af.

15Ek is soos uitgestorte water,

al my bene het uitmekaar geval,

my hart het soos was geword,

dit smelt weg in my.

16Ek is so min werd soos 'n potskerf,

my tong kleef aan my verhemelte,

U laat lê my asof ek dood is.

17Soos honde omsingel hulle my,

die bende misdadigers sak op my toe,

hulle bind my hande en voete vas.

18Al wat been in my is, kan ek tel;

hulle kyk na my met leedvermaak.

19Hulle verdeel my klere onder mekaar

en trek lootjies oor my mantel.

20En U, Here – moet tog nie so ver bly nie,

Bron van my krag, help my tog gou!

21Red my van die swaard,

my kosbare lewe uit die mag van die honde.

22Red my uit die bek van die leeu

en tussen die horings van die wilde beeste uit.

U het my gebed verhoor!

23Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente,

U in die volle vergadering prys.

24Julle wat die Here dien, prys Hom!

Vereer Hom, nageslag van Jakob!

Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel!

25Die nood van die hulpelose

het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie,

Hom daarvan nie teruggetrek nie,

maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.

26My loflied in die volle vergadering kom van Hom af,

my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien.

27By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet,

en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys.

Mag hulle lank en gelukkig lewe.

28Mense oor die hele wêreld sal die Here erken

en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken,

29want die koningskap behoort aan die Here;

Hy heers oor die volke.

30Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem

en Hom as koning erken,

ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel.

31Die nageslag sal Hom dien,

en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word

van hierdie verlossingsdaad getuig:

die Here het dit gedoen.

Baie mense het al een of ander tyd in hulle lewens gevoel dat God hulle geheel en al verlaat het. Koning Dawid het definitief op ʼn stadium van sy lewe so gevoel en daarom het hy Psalm 22 geskryf. Dit is die openingsgedeelte van hierdie psalm wat Jesus aan die kruis aanhaal.

Het ek gesê “aan die kruis aanhaal”? Dit is nie eintlik ʼn beskrywing van wat werklik daardie Goeie Vrydag gebeur het nie. Jesus het dit heel waarskynlik uitgeskreeu in ʼn oomblik van angs. In hierdie enkele vers, as ons dit reg verstaan, het ons die hele evangelieboodskap. Alles word saamgevat in Christus en sy dood aan die kruis. Hier aan die kruis gebeur iets so diepsinnig dat geen menslike verstand dit ten volle kan begryp nie. “Verlaat deur God?” Is dit moontlik? Liewe leser, dit waarmee jy hier gekonfronteer word, is die misterie van Christus wat vir ons sondes gely het. Die finale verwerping wat ons eintlik moes beleef het, word nou op Hom gewerp. Hy dra ons sondes sodat ons vergewe mag word.

Moet dit asseblief nie ligtelik opneem nie. Wat hier gebeur is meer as wat woorde kan beskryf. Ons moet almal nederig en in verwondering voor God neerbuig. God straf sy eie Seun sodat ons vry kan wees! Het die wêreld al ooit van so iets gehoor?

Die waarheid is dat dit wel gebeur het. Dit beteken dat daar hoop is vir elkeen wat na Hom toe kom. Die boodskap van die kruis is dat selfs die mens wat dit die minste verdien, vergifnis, aanvaarding en hoop vir die toekoms sal ontvang as hy in ware en opregte berou na Jesus toe kom. Dit gee dikwels diegene aanstoot wat eerlik en opreg leef en wat van mening is dat slegte mense gestraf moet word. Maar wat hulle nie verstaan nie, is dat slegte mense wel gestraf is. Die Een wat vir hulle ingestaan het, het hulle straf gedra. ʼn Billike ruiltransaksie het plaasgevind. Hy wat geen sonde geken het nie, het sonde geword sodat hulle deur Hom regverdig voor God kan staan.

Is daar ʼn naam vir hierdie soort optrede? Ja! Dit word genade genoem. Genade, onverdiende genade vir sondaars, mits hulle na Hom toe kom – na die God/Mens, wat die Verlosser aan die kruis geword het.

Laat ons nie moed verloor nie want alle sondes kan vergewe word en alle sondaars kan aanvaar word. Kom kniel by die kruis – vandag nog!

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS