Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 15

Getsemane

Bybelteks(te)

MATTEUS 26

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

MATTEUS 26:37-39AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 5

8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Baie van ons het al ʼn swaar gemoed gehad of depressie beleef voordat ons ʼn spesifieke krisis of beproewing moes hanteer. Maar niemand het nog ervaar wat Jesus beleef het voordat Hy gevange geneem is in die tuin van Getsemane, ʼn tuin op die oewer van die Olyfberg, nie.

Let op die woorde in Matteus 26:37-28: “Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My’ ”. Waaroor gaan dit? Was Jesus net bang vir die verskriklike fisiese beproewing wat op Hom gewag het? Dit kan nie wees nie, want duisende voor Hom is reeds gekruisig en sommige van hulle het dit met groot dapperheid en selfs met minagting teenoor hulle Romeinse laksmanne verduur.

Iets baie ernstiger was besig om hier te gebeur. Die probleem was dat dit in Jesus se siel gebeur waar niemand dit kon sien nie. Hy was op die punt om die sondes van die wêreld op Hom te neem. Hy het ons las gedra en Hy was op die punt om Homself as plaasvervanger in ons plek te offer. Sonde moet gestraf word. God is regverdig en nie onwelwillend nie. Maar geregtigheid moet geskied sover dit die sonde aangaan. Sy Seun was op die punt om die straf wat ons toekom te dra. Jesus, in plaas van ons, het die oordeel van God in die gesig gestaar.

Maar wat het hierdie oordeel behels? Dit het beteken dat Hy uit die teenwoordigheid van sy Vader verban sou word. Ons kan nie eers begin om ons voor te stel wat dit vir die Tweede Persoon van die Drie-eenheid moes beteken nie – Hy wat vir altyd in die teenwoordigheid van die Vader was. Die belangrikste wat jy moet onthou, is dat dit alles vir jou was: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8).

Moet nooit aan God se liefde vir jou twyfel nie. Moet nooit dink dat jy nie goed genoeg is nie en dat God Hom nie aan jou steur nie. Onthou Getsemane. Daar het Jesus jou skuld op Hom geneem en voorberei om jou straf te dra. Hoekom? Want Hy het jou selfs voor jou geboorte liefgehad.

Wees nederig, verwonderd en oorstelp. Maar moet nooit moed verloor of aan sy liefde twyfel nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS