Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 14

Die Koning wat gekom het om te sterf

Bybelteks(te)

MATTEUS 16

Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan

21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

MATTEUS 16:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

Mark Twain het op ʼn keer geskryf: “A person with a new idea is a crank until the idea succeeds.” Daar is baie voorbeelde in die geskiedenis van mense wie se wonderlike idees eers verwerp en toe later aanvaar is en toe van hulle helde gemaak het.

Die dissipels het seker ook gesukkel met hierdie ietwat vreemde gedagte toe hulle Jesus hoor sê dat Hy gaan sterf en weer opstaan. Hulle gedagtes was nog vol van die nuwe openbarings wat Hy aan hulle gegee het, dat Hy die Christus is – die Messias van Israel.

Hulle het egter ʼn probleem ondervind met die idee dat Jesus die Messias is want hulle het eenvoudig in wêreldse terme gedink. Die Messias was ʼn Koning, ʼn soldaat wat deur God gestuur is om al Israel se vyande te verslaan en Jerusalem weereens as die belangrikste stad in die wêreld te vestig. Dit was vir hulle moeilik om nie in militêre terme te dink wanneer dit by die Messias kom nie, want vir die Jode was verlossing ʼn hoofsaaklik politieke verlossing en ʼn regverdiging dat hulle inderdaad die volk van God is. So, die idee dat die Messias moes sterf was geheel en al buite die grense van hulle denkwêreld en dit het vir hulle heeltemal absurd geklink.

Maar soos ons weet het Jesus inderdaad aan die kruis in Jerusalem gesterf. Drie dae later het Hy uit die dood uit opgestaan. Stadig maar seker het dit tot die dissipels deurgedring dat Jesus se geveg nie met die Romeine was nie, maar met Satan. Hy het nie sy lewe opgeoffer vir ʼn wêreldse rede nie, maar as ʼn versoeningsoffer vir die sondes van die wêreld. Hy het sy bloed gegee, nie net om Israel vry te koop nie, maar om almal vry te maak wat in Hom glo en vertrou vir redding.

Dit is die Verlosser wat ons almal nodig het. Iemand sonder sonde wat vrywillig aan die kruis gesterf het as plaasvervanger vir elkeen van ons.

Vol vertroue kan ons na God toe gaan met die wete dat al ons sondes vir altyd vergewe sal word.

Ons moet altyd onthou waarom Jesus na die wêreld gekom het. Dit was eerstens om die sonde te hanteer. Wanneer ons dit vergeet, loop ons die gevaar om voortdurend teleurgesteld te wees omdat Hy nie al ons probleme uitgesorteer het nie.

Maar as ons onthou dat Jesus gesterf en opgestaan het presies soos Hy gesê het Hy sal, kan ons moed hou want al is ons lewens ook hoe moeilik kan ons weet dat Hy reeds die grootste van alle probleme oorwin het – skuld en sonde. Daarom sal Hy ons met al die kleiner probleme help wat in hierdie verdorwe wêreld oor ons pad kom.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS