Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 13

U is die Christus

Bybelteks(te)

MARKUS 8

29“Maar julle,” vra Hy hulle, “wie, sê julle, is Ek?”

Petrus antwoord Hom: “U is die Christus!”

MATTEUS 16

Die belydenis van Petrus

13Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

MATTEUS 16:13-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie is ʼn wonderlike oomblik in die evangelieverhaal. Matteus het dit in nog meer detail opgeteken in Matteus 16:13-20. Hy skryf verder: “ ‘Gelukkig is jy, Simon Barjona,’ het Jesus vir hom gesê, ‘want dit is nie ʼn mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.’ ”

Wonder jy ook soms waarom dít wat vir jou so duidelik is oor Jesus en die evangelieboodskap vir ander so moeilik is om te begryp? Of waarom jy soms in die erediens so diep geraak word deur die boodskap en ander rondom jou lyk asof hulle nie eers luister nie.

Hierdie is ʼn vreemde, diepgaande waarheid. Net soos Petrus vir Jesus nie uit sy eie krag en begrip kon erken as die Messias nie, so kan ons ook nie die waarheid aangaande Jesus verstaan as dit nie aan ons geopenbaar word nie. God, in sy groot genade, open ons oë en skielik kan ons dit verstaan wat voorheen vir ons verborge was.

Dit is rede om God te loof en prys, dat Hy deur sy groot genade ons oë vir die waarheid geopen het. Al die genesings van blinde bedelaars of mense waarvan ons in die evangelies lees, het eintlik hierdie groot gebeure aangekondig – die Heilige Gees wat mense se harte en verstand kom open sodat hulle in Christus kan glo en gered kan word.

Die gevolg is dat ons baie nederig voor die aangesig van God moet buig met die wete dat wat ons is, is deur sy genade alleen. Daarom moet ons mense wat nog nie verstaan nie nederig en met deernis hanteer. Ons moenie skoorsoekerig of arrogant wees nie nie. Ons moet bid dat die Here hulle in genade sal aanraak sodat hulle ook van harte kan glo.

Ons moet ook onthou dat ons mense nie kan dwing om te glo deur te argumenteer nie. Dit is die werk van die Heilige Gees. Maar ons moet voortdurend vir ons geliefdes en vriende bid dat indien ons ʼn kans kry om met hulle hieroor te praat, ons woorde vergesel sal word met die lewegewende krag van die Heilige Gees. En mag ons dan met blydskap sien hoe baie tot geloof kom omdat God in sy genade die waarheid aan hulle harte openbaar het.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS