Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 12

Die onvergeeflike sonde

Bybelteks(te)

MARKUS 3

22Die skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, het gesê: “Hy is van Beëlsebul besete!” en “Dit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy bose geeste uitdrywe.”

MARKUS 3

28“Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. 29Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die sonde.”

MARKUS 3:28-29AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie is baie ernstige woorde en moet ernstig opgeneem word. Tog is dit ook waar dat hierdie woorde groot verwarring en besorgdheid veroorsaak in die harte juis van diegene wie nie hierdie sonde kan pleeg nie.

Ons Here praat hier met mense wat groot wonderwerke aanskou en baie tekens gesien het van sy krag en bewerings dat Hy die Seun van God is. Tog het hulle harte verhard en het hul geweier om ontvanklik vir Hom te wees. Inteendeel, hulle het Hom beskuldig dat Hy kop in een mus met die duiwel is.

Die Heilige Gees is die Een wat Jesus voor ons stel en tot ons hart en verstand praat. Om dit te verwerp is om basies vir Jesus te sê dat jy Hom nie in jou lewe wil hê nie. Dit is wat die “skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het” gedoen het (Markus 3:22). Lastering, teenstand of verwerping van die Heilige Gees bestaan dus nie net uit woorde nie – want wie van ons het nie eens op ʼn tyd die Verlosser verwerp nie? Nee! Lastering teen die Heilige Gees beteken dat ʼn persoon voortdurend verhard en hardkoppig bly wat lewenslange verwerping van Christus en sy verlossing meebring. Om te sterf sonder berou oor jou sondes beteken dat daar geen verlossing en geen keuses meer is nie. Dit beteken dat jy as ʼn verlore mens sterf.

Maar dit is nie jy nie. Jy lees hierdie Vers-ʼn-dag omdat jy van God wil hoor. Jy verlang na nuus oor Hom. Jy wil graag meer krag ontvang om Hom te kan volg.

Ek het op ʼn keer twee bejaarde susters ontmoet wat oortuig was dat hulle verlore is want elke keer wat hulle gekniel het om te bid, is hulle gedagtes gevul met lasterlike dinge. Nee! Nie eers dit is laster teen die Heilige Gees nie. Dit is bloot ʼn aanval van die duiwel op sensitiewe mense. Mense met obsessiewe gedragsprobleme, senuweeprobleme of sielkundige behoeftes kan baie maklik oortuig word dat hulle onvergeeflike sondes gepleeg het.

Asseblief, skep moed. Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar om ons te red.

Almal wat Hom wil volg en waarlik in sy reddende genadewerk aan die kruis glo, sal ingesluit word in die nuwe wêreld wat kom, ongeag hoe swak hulle is of waarmee hulle ook al gepla word.

Dit is net diegene wat aanhou om Hom en sy weg na verlossing te verwerp wat finaal verlore is. Mense wat daarop aandring om hulleself te red of wat dink dat hulle goed genoeg is en nie ʼn Verlosser nodig het nie – dit is die mense wat in ewige gevaar verkeer.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS