Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 11

Waar is Jesus wanneer ek Hom nodig het?

Bybelteks(te)

MARKUS 5

22Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

MARKUS 5:22-43AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dié verhaal in Markus 5:22-43 is baie interessant. ʼn Bekommerde pa het vir Jesus gevra om sy 11-jarige dogtertjie te genees. Hierdie man met die naam Jaïrus was nie ʼn vyand of kritikus van Jesus nie. Hy was maar net ʼn pa, alhoewel hy belangrik in sy gemeenskap was as een van die raadslede van die plaaslike sinagoge.

Ons lees dat Jesus saam met hom gegaan het, maar onderweg is Hy voorgekeer deur iemand anders met ʼn groot behoefte. Die vrou wat aan Jesus geraak het, het reeds vir jare aan bloedvloeiing gely. Ons kan ons maar net indink hoe sy fisies, emosioneel en sosiaal moes gely het aangesien sy as onrein beskou was. Indien sy getroud was, het haar man haar heel moontlik al verwerp. Jesus het toe gestop en eers vir haar gehelp.

Intussen het Jaïrus se dogtertjie en gesin angstig op Jesus se koms gewag. Besef Hy nie hoe ernstig hulle dogtertjie se toestand is nie? Hoekom kom Hy nie dadelik nie? Hoekom laat Hy toe dat Hy voorgekeer word? Hulle het oor al hierdie dinge gewonder.

Hoe dikwels voel ons nie ook so in ons eie omstandighede wanneer dinge moeilik gaan nie. Jy is desperaat en jy bid tot God, maar dan gebeur daar niks nie.

Toe kom die nuus dat die dogtertjie gesterf het, maar Jesus ignoreer eenvoudig die boodskap en sê vir die raadslid om maar net te bly glo en hom nie te ontstel nie. Glo jy in die noodlot, in medisyne, of in die onbekende? Nee, glo net in Jesus. Deur op Hom te vertrou sê ons eintlik vir Hom: Ons glo dat U van God kom. Ons glo dat U alle mag in die hemel en op aarde het. Alhoewel ons nie u weë verstaan nie, weet ons dat nie net weet U die beste nie, maar U sal doen wat reg is volgens u plan vir ons.

En soos ons weet, is daar ʼn gelukkige einde vir Jaïrus se dogtertjie. Sy word genees en die gesin is vertroos.

Beteken dit dat daar altyd genesing vir ons is? Of dat elke krisis op ʼn positiewe wyse opgelos sal word? Nee! Wat hierdie wonderlike verhaal vir ons vertel is dat daar ʼn dag sal kom wanneer Jesus ons almal uit die graf sal “opwek”. Daar sal geen meer dood, siekte en hartseer wees in die nuwe wêreld wat Hy vir ons sal gee nie.

Maar natuurlik vertel hierdie verhaal ook van die Here se deernis met ons op hierdie spesifieke oomblik! Ons kan definitief ons angs en hartseer na Hom toe bring. Maar onthou: die dogtertjie het gesterf voordat sy opgewek is, en so is dit ook met ons. Soms lyk dit asof ons omstandighede nie juis verbeter nie. Inteendeel, dit lyk soms of dinge vereger. Met ander woorde, soms lyk dit of die slegste dinge moontlike met ons gebeur sonder dat die Here ingryp.

Indien jy ʼn kind van God is moet jy weet dat Hy mag oor alle dinge het en steeds in beheer is van jou omstandighede.

Hy wil vir ons sê: Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo! Moenie glo in die mistieke krag van geloof soos baie bygelowige nie, maar glo in Hom, in sy liefde vir jou wat Hy deur sy dood aan die kruis bewys het. Glo dat Hy in beheer van jou lewe is en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk tot eer van sy Naam. Wat ook al die uitkoms van jou persoonlike dilemma mag wees – goed of sleg – jy jy is nooit afgesny van sy sorg nie en jy is nooit buite sy plan vir jou lewe nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS