Bible Society of South Africa
Frank Retief

Onthou sy krag en goedheid – Dag 10

Dien die Here

Bybelteks(te)

SPREUKE 1

2Dié spreuke is bedoel

om mense wysheid te leer en hulle te onderrig

sodat hulle sal weet

wanneer iemand verstandig praat.

3So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid.

4Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word,

jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree.

SPREUKE 1:2-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

SPREUKE 7

1Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun,

hou by wat ek jou voorskryf,

2maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe,

maak wat ek jou leer jou eie,

so eie soos die appel van jou oog.

3Sorg dat jy dit altyd onthou,

maak dit 'n deel van jou lewe.

4Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,”

maak die insig familie van jou.

5Dit sal jou weghou van die slegte vrou af,

die vrou met die verleidelike praatjies.

6Ek kyk uit by my huis, by die tralievenster uit

7en ek sien mense wat nog baie moet leer;

ek merk onder hulle veral een onverstandige jongman

8wat oor die straathoek stap

en die pad na 'n vrou se huis toe kies.

9Dit is skemeraand, die nag se donker slaan toe.

10Daar kom die vrou hom tegemoet;

sy dra die klere van 'n prostituut,

sy is 'n vrou met listige planne.

11Sy is luidrugtig en uitdagend,

haar huis is te nou vir haar;

12sy maak haar ronde in die strate, op die stadspleine,

sy staan op loer by elke hoek.

13Sy gryp die jongman en soen hom,

onbeskaamd sê sy vir hom:

14“Ek moes maaltydoffers bring

en ek het vandag juis my geloftes betaal.

15Daarom het ek jou kom soek,

ek was op die uitkyk na jou en nou het ek jou gekry.

16Ek het 'n deken oor my bed gegooi,

'n deken van bont Egiptiese linne;

17ek het my bed besprinkel

met mirre, aalwyn en kaneel.

18Kom ons drink van die liefde tot die môre toe,

ons gee ons oor aan die liefdeslus.

19My man is nie tuis nie,

hy is op 'n lang reis;

20hy is weg met 'n vol beurs

en kom eers met volmaan terug.”

21So laat sy die jongman swig vir haar listigheid,

so verlei sy hom met haar gladde tong.

22Hy loop sonder weerstand agter haar aan

soos 'n bees op pad slagpale toe.

Soos 'n dwaas word hy in die strik gevang

23en netnou kloof 'n pyl sy lewer.

Soos 'n voël wat reg in 'n net in vlieg,

so is hy daarmee heen voor hy dit weet.

24Luister na my, my seun,

slaan ag op wat ek sê.

25Moet jou nie met so 'n vrou ophou nie,

moenie haar pad loop nie.

26Sy het die val van baie op haar kerfstok,

sy het al sterk manne laat ondergaan.

27In haar huis is jy op pad na die doderyk toe,

by haar is jy op pad na jou dood toe.

SPREUKE 12

15In die dwaas se oë is sy eie pad die regte;

wie wysheid het, luister na raad.

SPREUKE 12:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie sal met my saamstem dat ons wêreld ʼn behoefte het aan manne en vroue van integriteit en sterk morele waardes om leiers te wees. Daar is diegene wat van mening is dat ʼn morele revolusie nodig is en ek dink nie ek is heeltemal verkeerd as ek sê dat die hele wêreld siek en sat is van korrupsie en oneerlikheid nie. Ons samelewing is moreel bankrot. Wat staan ons te doen?

Volgens die Bybel het ons “wysheid” nodig. Wysheid is die vermoë om te weet wat om te doen, hoe om die regte besluite te neem en hoe om die lewe se slaggate te hanteer. Maar volgens die Bybel is daar ook so iets soos “anti-wysheid”. Daarmee word bedoel ʼn alternatiewe siening van wysheid wat die lewe alleenlik in wêreldse terme beoordeel. Dit stel mense in staat om op slinkse maniere geld te maak en groot sakeryke te bou.

Die Bybel se beskouing van wysheid is egter anders. Die beginpunt is om die Here te vrees, met ander woorde, om Hom te dien. Dit is die taal wat in die Ou Testament gebruik word vir die vroom, toegewyde Hebreër wat waarlik die God van Israel vertrou. In Nuwe-Testamentiese terme beteken dit om waarlik in Jesus Christus, die Seun van God en ons Verlosser, te glo en om vir Hom te leef. Dit beteken dat alles in ons lewe by Hom begin. Ons dink anders oor die lewe. Ons heg waarde aan dinge waaraan “anti-wysheid” (goddelose wysheid) nie waarde heg nie, soos dissipline, insig, sorg, reg, geregtigheid, regverdigheid, kennis en billikheid (Spreuke 1:2-4).

Ons lewensbeskouing is anders. Maar let daarop dat dit net waar word as ons die “Here dien”. Wanneer ons Hom as Here van ons lewens en ons harte ag, is dit wat Hy belangrik ag ook vir ons belangrik. Die dinge van die wêreld is dan nie vir ons belangrik nie want die wêreld se waardes is vals en lei ons gewoonlik weg van dit wat werklik saak maak.

Let op hoe hierdie spreuke eindig: “… dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.”

In Spreuke word daar dikwels na dwase verwys. Dit verwys nie na dom mense of na mense wat verstandelik vertraag is nie. In Spreuke is die dwaas eerder daardie persoon wat moreel en geestelik gestremd is. Hy dink daar is geen God nie. ʼn Dwaas is ʼn persoon wat nie onderrig kan word nie. Dit maak nie saak wat jy sê nie, in sy eie oë is hy altyd reg: “In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad” (Spreuke 12:15).

Bly eerder weg van mense wat nooit raad wil aanvaar nie en wat glo dat hulle altyd reg is.

Onthou dat kennis begin met die dien van die Here. Wanneer ons verhouding met die Here reg is, val alles in plek. Dien Hom en niemand anders nie.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS