Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nuwe hoop (deel 2) – Dag 6

Nuwe hoop met die wete dat God jou toekoms ken

Bybelteks(te)

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?

Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

8Klim ek op na die hemel, is U daar,

gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.

9Vlieg ek na die ooste,

of gaan woon ek in die verre weste,

10ook daar lei u hand my,

hou u regterhand my vas.

11Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,

of die lig rondom my om in nag te verander,

12maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie

en die nag so lig soos die dag,

duisternis so goed soos lig.

PSALMS 139:7-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

16U het my al gesien toe ek nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe

nog voordat ek gebore is.

PSALMS 139:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Stefan was op 15-jarige ouderdom ʼn begaafde krieketspeler van Bellville. Hy was vir twee jaar die enigste krieketspeler in sy hoërskool wat vir die Westelike Provinsie se o.19-krieketproewe genooi was. Aan die begin van daardie jaar het hy en sy enkelma egter ʼn uitdaging in die oë gestaar. Hy was toe reeds 1,9 meter lank en het ʼn nommer 12-skoen gedra. Sy toerusting het vinnig te klein geword vir hom. Die finansiële druk het dit daardie tyd onmoontlik gemaak vir sy ma om vir hom nuwe kriekettoerusting te koop.

Dít was die rede vir die e-pos wat sy op ʼn Maandag aan Radio Tygerberg (nou bekend as Tygerberg 104fm) gestuur het. By die e-pos was ʼn getuigskrif aangeheg van Stefan se krieketafrigter waarin hy ons vertel het van sy besluit om vir Stefan weens sy besonderse talent gratis af te rig. Hy was bewus van die gesin se finansiële situasie.

Een van my kollegas by die werk was diep geraak deur die e-pos en hy het besluit om uit sy eie sak vir Stefan been- en handskutte te gaan koop. Daardie Woensdagoggend kon ons vir Stefan tydens ons oggendprogram, Oggendrooi, op Radio Tygerberg bel met die nuus van die nuwe toerusting. Hy was in ekstase. ʼn Paar van ons luisteraars het dadelik na die aankondiging via ons SMS-lyn vir ons laat weet dat hulle ook ʼn finansiële bydrae vir Stefan se toerusting wou lewer. Daardie Vrydagoggend kon ons hom weer bel met die nuus dat ons ook vir hom nuwe skoene, ʼn kolf, ʼn helm en ʼn toksak tot die lys van nuwe toerusting kon voeg.

Ná daardie Vrydag se program het ek ʼn oproep van ʼn luisteraar genaamd Paul gekry. Hy het vir ʼn geruime tyd in Londen krieket gespeel. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het daar iets fout gegaan op die Heathrow-lughawe en sy toksak met al sy kriekettoerusting het daar agtergebly. In Suid-Afrika was hy genoodsaak om vir hom nuwe toerusting aan te koop aangesien hy by ʼn plaaslike klub vir krieketwedstryde moes opdaag. Hy het die nuwe toerusting vir twee of drie wedstryde gebruik voordat hy sy toksak uit Engeland terug gekry het. ʼn Paar jaar later het die bykans splinternuwe toerusting steeds in sy motorhuis gestaan. Hy het dit toe aan Stefan geskenk. Wat vir my uitgestaan het, was dat al Paul se toerusting die groottes is wat Stefan nodig gehad het – selfs die nommer 12-skoene! Paul het ook aangebied om Stefan te kontak om hom aan te moedig met sy krieket en as ʼn mentor vir hom op te tree.

Paul se oproep het my laat besef dat ʼn mens op een van twee maniere na hierdie insident kan kyk. Aan die eenkant kon die feit dat die toerusting die regte groottes was en dat Paul vir Stefan wou ondersteun ʼn blote toeval wees. Tog, aan die ander kant kan ʼn mens dit as ʼn goddelike ingryping beskou en sien hoe God self betrokke was. Hy het Paul se tydelike ongerief, terwyl sy toerusting in Londen agtergebly het, gebruik het om alles in plek te kry omdat Hy die toekoms ken en geweet het dat Stefan die nuwe toerusting en ook Paul se ondersteuning sou nodig hê.

Besef jy dat God ook jou toekoms ken en dat Hy weet wat jy gaan benodig nog voordat jy dit self weet? In Psalm 139:7-12 herinner die psalmdigter ons dat God oral is: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.” In vers 16 word bevestig dat God ons elkeen voor ons geboorte reeds geken het: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.”

As jy dus vandag mismoedig voel, begin God dank dat Hy ook in beheer van jou hede en toekoms is. Die tydelike ongerief wat jy tans ervaar mag dalk al wees wat Hy benodig om jou karakter te vorm en dinge agter die skerms in plek te laat val sodat jy ook op die regte tyd jou deurbraak kan beleef. Sterkte!

  • Die foto van Stefan kan op my Liglag-blog op my webwerf gesien word, of besoek die Facebook-blad, Stories van Hoop, en word ʼn lid van die groep.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS