Nuwe begin – dag 8
Nuwe begin … sonder donker geheime
Bybelteks(te)
JOB 11
HEBREËRS 4
ʼn Paar jaar gelede is ʼn man in Italië deur die polisie in hegtenis geneem nadat ʼn drie jaar oue Kubaanse krokodil in sy huis se bad gevind is. As volwasses kan hierdie krokodilspesie bykans drie meter lank word.
Die eienaar het die krokodil glo die land ingesmokkel toe dit steeds in die eier was. Hierna is dit in sy woonstel gebore. Wildkenners wat die reptiel uit die woonstel verwyder het, het gesê dit is goed dat hulle die dier betyds gevind het aangesien die Kubaanse krokodil as die wêreld se intelligentste, vinnigste en aggressiefste krokodil gereken word. Dit sou later dus veel moeiliker gewees het om die dier uit die woonstel te verwyder. Die eienaar is met £70 000 (op daardie tydstip meer as R700 000) beboet en kon ook tot een jaar tronkstraf gevonnis word.
In ons lewens kan donker geheime of onbelyde sondes met die krokodil-eier in Italië vergelyk word. Aanvanklik dink ons, net soos die eienaar, dat ons dit vir die wêreld kan verberg. Die gevaar dreig egter wanneer die eier oopbreek en die krokodil begin groei omdat dit buite beheer kan raak.
Watter “krokodille” vertroetel jy in jou lewe? ʼn Verslawing (aan kos, medikasie, dobbel, drank, dwelms)? Jou liefde vir skinderstories? Jou humeur of afbrekende woorde teenoor jou geliefdes? Die aandag wat jy van ʼn persoon buite jou huwelik ontvang – of wat jy gee? Besef jy dat God alles sien?
Luister na die woorde in Job 11:11: “God ken skynheilige mense, Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.” En ook in Hebreërs 4:13: “Daar is niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”
God wil jou help om van jou “krokodille” ontslae te raak omdat Hy weet watter skade dit in jou lewe kan berokken. Wil jy Hom nie vra om jou deur sy Heilige Gees te versterk om met iemand daaroor te praat nie? Ek is seker jy wil nie later met ʼn astronomiese boete, tronkstraf of ʼn krokodil buite beheer in jou huis sit nie! Sterkte.