Nuwe begin – dag 7
Nuwe begin … naby aan God
Bybelteks(te)
HANDELINGE 3
JESAJA 35
Op Vrydag 13 Januarie 2012 het ʼn Suid-Afrikaanse egpaar, Laurence Davis en sy vrou Andy, saam met ʼn kleiner groep van die 3 206 passasiers op die luukse Italiaanse passasierskip Costa Concordia aangesit vir ete. Rondom 21:45 was daar ʼn harde geluid toe die skip naby die eiland Giglio ʼn rots tref. Hierna het chaos op die skip losgebars terwyl die passasiers en bemanningslede na die reddingsbote skarrel.
Toe die Davis-egpaar sien dat die water by die skip instroom, het hulle besef dat hulle van die skip moes afkom. Laurence het sy bril in sy baadjiesak gesit, sy vrou se hand gevat en saam het hulle vier verdiepings ver tot in die koue see gespring voordat hulle 100 m na ʼn eiland moes swem. Hulle het vir 45 minute gespook om verby die rotse die land te bereik. Die oorsaak van die ongeluk word aan die Griekse kaptein, Francesco Schettino, se nalatigheid toegeskryf aangesien die skip 6 km van die roete afgewyk het. Teen die Sondag het die dodetal op vyf gestaan terwyl 27 passasiers en bemanningslede as vermis aangemeld is. Die uiteindelike dodetal het op 34 te staan gekom.
As ons ongehoorsaam is aan God, Hom uit woede wegstoot of iets anders in ons lewens bó Hom plaas, begin ons soos die Costa Concordia al verder van sy perfekte roete vir ons lewens dwaal. Dit is dán dat ons die gevaar loop om rotse te tref wat ons lewens groot skade kan berokken.
Is dit hoe jy vandag voel? Só ver van God af dat jy nie meer weet hoe om na Hom terug te keer nie? Só vasgevang in die yskoue water van uitdagings dat jy nie meer hoop het dat jy land sal bereik nie? Luister na die woorde in Handelinge 3:19: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.” En in Jesaja 35:4 staan geskryf: “Wees sterk, moenie bang wees nie … God kom julle red!”
God kan en wil ons uit elke krisis red. Al wat ons moet doen, is om waarlik berou vir ons sondes of ongehoorsaamheid te hê, om Jesus Christus ons Verlosser te maak en die Heilige Gees as ons navigasiestelsel aan te stel om te verseker dat ons nie die regte koers verlaat nie. As ons dit doen, sal ons beleef hoe God ons uit die ysige water tot in sy reddingsboot tel en hoe Hy aan ons die wonderlike toekoms wys wat Hy reeds vir ons beplan het. Moet dus nie wag totdat jy die rotse tref nie. Neem vandag daardie besluit. Sterkte.