Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 6

Nuwe begin … met God se beloftes in jou hart

Bybelteks(te)

2 TIMOTEUS 3

16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

2 TIMOTEUS 3:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 13

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

HEBREËRS 13:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

ESEGIËL 36

26Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

ESEGIËL 36:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 53

5Oor óns oortredings is hy deurboor,

oor óns sondes is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,

deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

JAKOBUS 1

5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

Ná Dag 4 se dagstukkie waarin ek gepraat het oor die belangrikheid om aan God se beloftes vas te hou, het verskeie lesers my gevra hoe op aarde ʼn mens God se beloftes vir jou spesifieke situasie kan identifiseer.

Voordat ons by die beloftes kom, is dit belangrik om te onthou wat in 2 Timoteus 3:16-17 geskryf staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Die Woord van God is lewend en kragtig. Dit is vir ons ʼn flits vir ons lewenspad en ons ammunisie waarmee ons die vyand beveg – Jesus het immers God se Woord gebruik om die vyand in die woestyn te weerstaan. Hier volg ʼn paar praktiese voorbeelde hoe jy God se beloftes deel van jou lewe kan maak:

ALLEENHEID: As die vyand jou probeer oortuig dat niemand vir jou omgee nie, herinner hom aan die woorde in Hebreërs 13:5: “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.’ ”

BEKOMMERNIS: As die vyand jou met negatiewe gedagtes oorval wat jou laat stres, herinner hom aan die woorde in Filippense 4:6-7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

RUSIE MET ʼn GELIEFDE: As die vyand jou vertel dat jou huwelik op die rotse is of dat ʼn verhouding met ʼn geliefde vir ewig verby is, herinner hom aan God se woorde in Esegiël 36:26: “Ek sal julle ʼn nuwe hart en ʼn nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ʼn hart van vleis gee.” Geen hart is vir God te hard om om te keer nie!

GENESING: As die dokters vir jou ʼn slegte verslag gee en die vyand jou laat glo dat jy nooit genesing sal ontvang nie, herinner hom aan die woorde in Jesaja 53:5: “… deur sý [Jesus se] wonde het daar vir ons genesing gekom.”

WYSHEID: As die vyand jou laat twyfel of jy die regte besluit sal neem in jou werksituasie of ʼn situasie wat jou gesin raak, herinner hom aan die woorde in Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Gaan telkens terug na God se Woord. Skryf sy beloftes vir jou situasie neer. Wanneer jy dan weer mismoedig voel of negatiewe gedagtes jou wil oorweldig, kyk gerus weer daarna. Só beveg jy jou twyfel terwyl jy jou geloof in God versterk. Onthou, God verander nooit nie. Sterkte!

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS