Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 16

Nuwe begin … met ʼn groter fokus op wat werklik belangrik is

Bybelteks(te)

DIE OPENBARING 21

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

DIE OPENBARING 21:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gestel jy blaai môreoggend deur die koerant en lees tot jou skok ʼn berig wat lesers meedeel dat jy gisteraand gesterf het. Buiten vir die aanvanklike skok, sal jy trots wees op wat jy in die huldeblyk lees?

Die bogenoemde scenario mag absurd klink, maar dit is wat aan die begin van die 20ste eeu met Alfred gebeur het. Geskok het hy ʼn paar keer die opskrif van die huldeblyk gelees: “Die Plofstofkoning sterf”. In die artikel het die joernalis deurgaans na hom as “die handelaar van die dood” verwys aangesien hy dinamiet ontwerp het wat tot die vervaardiging en verspreiding van verskeie ander gevaarlike wapens gelei het. Wat Alfred veral geskok het, was die besef dat die joernalis tog iets beet gehad het. Maar wou hy as “die handelaar van die dood” bekend wees? Natuurlik nie.

In daardie oomblik het Alfred besef dat hy ʼn tweede kans gekry het – een om sy toekomstige grafskrif (en huldeblyk in die koerant) te verander. Ná baie gebede het hy in die daaropvolgende weke bewus geword van die helende krag van Jesus Christus terwyl daar in sy hart ʼn behoefte ontstaan het om iets nuuts te doen wat ʼn verskil in mense se lewens sou maak.

Vir die res van Alfred Nobel se lewe het hy sy tyd, energie en geld aan opheffingswerk en die bevordering van vrede tussen verskillende strydende groepe spandeer. Met sy dood (en tot vandag toe), word Alfred Nobel eerder onthou as die stigter van die Nobel Vredesprys as die uitvinder van dinamiet.

Ek vra weer, sal jy trots wees op die woorde op jou grafsteen as jy vandag sou sterf? Wat moet jy in jou lewe verander? Luister na die woorde in Openbaring 21:5: “Toe sê Hy ([God] wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ ”

God spesialiseer in tweede kanse. Hy het immers vir Saulus, Paulus gemaak. Vir Simon, Petrus. Ook die prostituut Ragab, die vrou wat die Israelitiese spioene uit Jerigo gered het, het ʼn tweede kans gekry! Net soos Alfred Nobel het jy vandag ʼn geleentheid om die bewoording van jou grafsteen (en huldeblyk in die koerant) te verander. Gaan jy die kans met albei hande aangryp? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS