Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 17

Nuwe begin … om jou geliefdes te motiveer

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 4

God is liefde

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.

1 JOHANNES 4:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van jongs af was Robert ʼn uitblinker op die sportveld. Dit was dus geen verrassing toe hy ná skool as lid van ʼn professionele voetbalspan gekies is nie. Hoewel sy lewe perfek gelyk het omdat hy gereeld vir foto’s moes poseer of handtekeninge aan aanhangers moes uitdeel, het Robert net een begeerte gehad: om uit sy pa se mond te hoor dat hy hom liefhet en aanvaar.

Robert se pa se drankverslawing het veroorsaak dat hulle ʼn gebroke verhouding gehad het. En hoewel hy begeer het dat sy pa ten minste een van sy voetbalwedstryde sou bywoon of daar wou wees om hom, soos vele ander spelers se pa’s, ná ʼn slegte wedstryd te bemoedig, het dit nooit gebeur nie.

Ná sy voetballoopbaan het Robert ervaar dat God hom na die voltydse bediening roep. Hy het by die kweekskool aangesluit, sy opleiding voltooi en saam met sy pragtige vrou ʼn baie suksesvolle gemeente begin bou. Steeds het hy en sy pa nie ʼn verhouding gehad nie.

Die skielike nuus dat sy pa ná ʼn hartaanval op sterwe lê, het Robert geruk. Hy het hom na die hospitaal gehaas. Toe hy in die noodeenheid instap was sy pa baie swak en duidelik gedisoriënteerd. Vir ʼn oomblik het hy Robert met die dokter verwar. Met ʼn swak hand het hy aan Robert se arm gevat en in ʼn fluisterstem gepraat: “Dokter, het ek jou al van my seun, Robert, vertel? Ek is só trots op hom. Hy is nie net ʼn briljante voetbalspeler nie. Hy is nou ook predikant van ʼn groot gemeente. Dokter, ek wens jy kan my seun ontmoet. Ek is seker jy sal baie van hom hou.”

Dáár langs die hospitaalbed het Robert vir die eerste keer in 35 jaar die woorde gehoor wat hy met sy hele wese begeer het. Eers later sou hy uitvind dat sy pa by elke voetbalwedstryd was, maar op ʼn afstand op die agterste paviljoen gestaan het omdat hy skaam was vir sy reputasie as ʼn dronkaard en nie Robert se beeld wou skade aandoen nie.

Wanneer laas het jy vir die mense in jou lewe vertel dat jy hulle liefhet en waardeer? Besef jy dat al stel jou aardse ouers jou teleur, jou Hemelse Pa dit nooit sal doen nie? Luister maar na die woorde in 1 Johannes 4:7: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ʼn kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

Moenie 35 jaar lank wag totdat jy jou geliefdes vertel dat jy hulle liefhet nie. Doen dit vandag! Môre mag dit dalk net te laat wees! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS