Nuwe begin – dag 15
Nuwe begin … met die vertroue dat God ons gebede hoor
Bybelteks(te)
MATTEUS 7
Gebedsverhoring
MATTEUS 7
[AGTERGROND: Ek deel graag getuienisse van twee lesers wat getuig dat God elke gebed hoor wat ons bid.]
Koos: “In 2003 het ek by ʼn maatskappy in Douglas gewerk. Ek moes elke oggend die stoorkamer vir die werkers oopsluit. Deel van my roetine was om eers voor die stoor te parkeer en dan later my voertuig weg te trek na my parkeerplek.
“Een oggend kom my werkgewer en vra dat ek saam met hom na kliënte ry. My voertuig was steeds voor die stoorkamer geparkeer. Toe ons terugkeer wou ek my voertuig wegtrek, maar ontdek toe dat my sleutel uit my broeksak geval het!
“Ons het oral waar ek was gesoek – sonder sukses. My spaarsleutels was by die huis, maar om sake te vererger was my huissleutel ook in my motor. Ek het desperaat tot God gebid en Hom gevra om my te wys waar my sleutel is.
“Daardie aand toe ek gaan slaap, nadat ek by ʼn klein venstertjie by my huis kon inklouter, het ek ʼn droom gehad. In die droom het die dag se gebeure voor my afgespeel. Ek het gesien hoe ek werk toe ry, die stoor oopsluit en by my werkgewer in die motor klim. Toe ons vertrek, kon ek sien hoe my sleutel uit my broeksak gly, agter die bestuurder se sitplek inval en onder die matjie beland.
“Ek het my werkgewer die volgende dag met ʼn breë glimlag ingewag. Hoewel hy eers my storie afgelag het, het ek sy voertuig oopgemaak, die sitplek vorentoe geskuif en die matjie weggevat. Meteens het ons na ons asems gesnak: My sleutel het, net soos in die droom, daar gelê! Ek het die Here gedank en besef dat ek net moet vra en glo en Hy sal voorsien!”
Frans: “In Desember 1992 het ek en my vyf jong seuns saam met my visvangfamilie op die strand gestaan en hengel. My swaer en die ander manne het ʼn klomp elwe uitgetrek, maar niks het aan my lyn gebyt nie. Dit was vir my baie sleg om te sien hoe my seuns om die ander hengelaars drom terwyl ek niks gehad het om te wys nie.
“Ek het ʼn entjie weg op ʼn rots gaan sit en vir God gevra om asseblief vir my ʼn vis te stuur wat ek kon vang. Ons is later weg en ek het steeds niks gevang nie.
“Die volgende oggend 04:00 het my swaer my wakker gemaak en gevra of ek saam met hulle wou gaan hengel. My aanvanklike antwoord was ‘nee’. ʼn Stem het egter by my opgekom en gesê dat ek dan vir ʼn vis gevra het. Ek het twee van my seuns gaan wakker maak en ons het saam see toe vertrek.
“My visstok is heel eerste uit die voertuig gelaai. Ek het aas aan die stok gesit en my lyn sowat 40 meter die see in gegooi. Na twee minute was daar ʼn geweldige sterk pluk aan my lyn. My swaer het nader gestaan en gesê dis ʼn haai en dat ek die lyn moet afsny. Ek het egter besluit om aan te hou. Die einde van die storie? Na sowat ʼn uur se gesukkel het ek ʼn massiewe koningsvis van 28,5 kg uitgetrek – terwyl my kinders die keer trots om mý gedrom het! Ek glo die Here is altyd by ons. As jy Hom iets vra, gee hy met oorvloed!”
Koos en Frans is reg. Niks wat ons vir God kan vra is ooit te groot of te klein om sy aandag in beslag te neem nie. In Matteus 7:7,9-11 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word … Watter mens onder julle sal vir sy seun ʼn klip gee as hy brood vra, of ʼn slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”
Gaan gerus na God en gesels met Hom oor jou uitdaging. Hy stel belang – al vra jy ook vir motorsleutels of ʼn vis. Sterkte!