Nuwe begin – dag 14
Nuwe begin … met wyse besluite
Bybelteks(te)
JESAJA 30
PSALMS 143
SPREUKE 3
Op 1 Januarie 2012 het die 33ste Dakar-tydren in Suid-Amerika afgeskop. Vir vyftien dae lank het die meer as 500 spanne ʼn afstand van 8 300 km afgelê wat deur die woestyne van Argentinië, Chili en Peru kronkel. Hierdie roete word as ʼn uithouwedren eerder as ʼn tradisionele tydren beskou aangesien die terrein baie ruwer is. Buiten vir gewone veldwerk wat die voertuie moet verrig, is daar bykomende hindernisse insluitende die oorsteek van sandduine, modder, kameelgras en rotse.
Een ding waarsonder geen tydrenbestuurder sukses sal behaal nie, is ʼn goeie navigator aan sy sy. Die navigator se taak is om die bestuurder te waarsku teen hindernisse wat in die pad mag opduik, om aan te dui waar om te draai en hoe skerp die draai mag wees, en ook om die motor se bande om te ruil indien dit pap is. Weens die geraas in die motor dra beide die navigator en die bestuurder oorfone en mikrofone sodat hulle effektief kan kommunikeer.
Ons kan met die tydrenbestuurder vergelyk word aangesien ons ook daagliks voor ʼn keuse staan: Ons kan die dag met ʼn navigator aanpak (deur God te vra om ons deur sy Heilige Gees te lei). Óf ons kan sonder ʼn navigator in die motor klim en hoop dat ons die sandduine, modder, kameelgras en rotse (in die vorm van uitdagings in die werkplek of by die huis) op ons eie sal kan kafdraf.
Luister gerus na hierdie drie beloftes as ons die Heilige Gees ons Navigator maak:
Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’ ” Psalm 143:10: “Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ʼn gelyk pad lei.” Spreuke 3:6: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”
Waarom nooi jy nie die Heilige Gees om van vandag af as jou Navigator in elke situasie op te tree nie? Hy sal jou nie net beskerm en lei nie, maar ook versterk wanneer dit voel asof jou bande begin pap word. En die beste van alles: Hy sal direk in jou ore praat. Al wat jy moet doen, is om sy stem te leer ken. Sterkte.