Bible Society of South Africa
Benescke van Rensburg

Nuwe begin – dag 13

Nuwe begin … met nuwe moed om kanse aan te gryp

Bybelteks(te)

JEREMIA 29

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee Amerikaanse professors, Gary Hamel en CK Prahalad het ʼn eksperiment aangepak waar hulle vier ape in ʼn hok geplaas het met ʼn paal in die middel van die hok. Bokant die paal het ʼn tros piesangs uit die dak gehang.

Die vier ape was skaars in die hok, toe die eerste aap die piesangs gewaar en teen die paal begin uitklouter. Net toe hy sy hand na die piesangs uitsteek, is ʼn emmer koue water op hom omgekeer. Die aap het skreeuend grond toe gespring. Die tweede aap het ook probeer en dieselfde oorgekom. Só ook die derde en die vierde aap. Eindelik het al vier ape moedeloos in die hoek van die kamer gaan sit terwyl die piesangs steeds uit die dak gehang het.

Die professors vervang toe een van die vier ape met ʼn nuwe aap. Die nuweling was skaars in die hok, toe hy die piesangs raaksien en teen die paal begin uitklim. Toe die ander drie ape sien wat die nuweling beoog, het hulle nader gespring om hom van die paal af te trek en uit die gevaar te red. Na ʼn paar probeerslae het die nuweling, hoewel hy steeds nie verstaan het wat aangaan nie, nie weer teen die paal probeer uitklim nie.

Een vir een is die oorspronklike vier ape met nuwes vervang. Elke keer wanneer die nuweling die piesangs sien en teen die paal begin uitklouter, het die ander ape hom van die paal afgetrek. Kort voor lank was die hok gevul met vier ape wat nog nooit teen die paal uitgeklim het nie, maar dit uit vrees nie wou waag nie – selfs al was die emmer koue water uit die hok verwyder.

As ons ons harte nie beskerm nie, kan ons soos die ape in die hok deur ons eie of ander se vrese en mislukkings gekondisioneer raak om passief te wag op ʼn deurbraak in ons lewens – eerder as om God se leiding te vra en dit aktief na te streef.

Luister na God se woorde in Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!”

Wat is die hindernisse in jou lewe? Onthou, die sappige piesangs (in die vorm van wonderlike geleenthede en deurbrake vir ʼn nuwe jaar) hang reeds uit die dak. Dit is jou keuse of jy God gaan vra om jou deur sy Heilige Gees te lei om dit raak te sien – en te gaan pluk. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS