Nogtans – Dag 3
Nogtans sal ek onthou dat God vir my veg
Bybelteks(te)
LEVITIKUS 14
DEUTERONOMIUM 20
2 KRONIEKE 20
Ek kyk nou die dag ʼn animasierolprent saam met my dogtertjie. In een van die tonele staan twee eekhorings op die strand en uitkyk oor die see. Meteens gewaar hulle ʼn brander wat soos ʼn tsunami lyk en die kus met ʼn spoed nader. Vrees verskyn op beide eekhorings se gesigte omdat hulle besef dat dit hulle heel moontlik gaan verswelg.
Die reaksie van die twee eekhorings is egter verskillend. Terwyl die eerste eekhoring paniekerig begin rondhardloop en desperaat na ʼn wegkruipplek soek, staan die ander eekhoring met selfvertroue die brander en dophou — kompleet asof hy glo dat iets of iemand die brander gaan stop. Dan, net voordat die brander die kus tref om die eekhorings te verswelg, vries dit meteens. Van êrens agter die brander was die water besig om te vries en die ys het die brander op die regte tyd bereik voordat dit die kus kon tref.
In ons lewens gebeur dit ook van tyd tot tyd dat dit voel asof ʼn reusebrander in ons rigting op pad is om ons te verswelg. Dit kom in die vorm van byvoorbeeld ʼn onregmatige dissiplinêre verhoor in die werkplek, ʼn dreigende egskeiding, finansiële verlies of dalk slegte nuus oor jou gesondheid. Wanneer dit voel asof vrees ons wil lamlê het ons ook ʼn keuse om óf soos die een eekhoring paniekerig rond te hardloop en desperaat na ʼn uitkoms te soek, óf om die saak met God te bespreek en soos die ander eekhoring in geloof en vertroue op die strand stelling in te neem met die wete dat Hy namens ons sal veg.
Laasgenoemde is wat die Israeliete gedoen het. In Eksodus 14 lees ons dat hulle hulself in ʼn situasie bevind het waar die bruisende see hulle van voor begroet het en die gevreesde Egiptenare van agter. Luister na Moses se woorde in Levitikus 14:13-14: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Ook in Deuteronomium 20:4 lees ons: “Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.” En in 2 Kronieke 20:17 is ʼn oormag op pad om Juda te verswelg. Weer is God se opdrag aan die volk: “Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.”
Wanneer ons besef dat ʼn situasie buite ons beheer is en ons God, die Skepper van die heelal, aanroep met ʼn rein hart, kan ons net soos die tweede eekhoring met selfvertroue en geloof stelling inneem met die wete dat God namens ons veg. Al is die brander steeds op pad, is die ys ook. Die antwoord en deurbraak is dalk baie nader as wat jy dink. Maak Hom jou vennoot en laat Hy namens jou veg. Sterkte.