Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 2

Nogtans sal ek glo

Bybelteks(te)

DANIËL 3

17Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

DANIËL 3:17-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

ESTER 4

16“Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”

1 SAMUEL 17

45Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.

1 SAMUEL 17:45-46AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 11

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit was warm. Dit was kokend. Inteendeel, die amptenare wat Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond moes gooi, het self doodgebrand. Tog het die drie vriende geweier om hulle knieë voor die afgodsbeeld in Babilon te buig.

Ester het daardie tree vorentoe gegee wat haar ongenooid in die koning se teenwoordigheid laat staan het, wetend dat sy kon sterf, sou die koning nie sy septer na haar uitsteek as ʼn bewys dat dit sy goedkeuring wegdra nie.

Dawid het met die vyf gladde klippies in sy sak en sy slingervel na die drie meter lange reus Goliat gestap, wetend dat hy die veldslag kon verloor.

Drie aksies wat totale geloof en hoop in God geverg het omdat hulle geen fisiese bewys of waarborg vooraf gehad het dat hulle dit sou oorleef nie. Luister weer na Sadrag, Mesag en Abednego se woorde van geloof in Daniël 3:17-18 wanneer koning Nebukadnesar hulle met die vuuroond dreig: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond … Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god … nie sal aanbid nie.” Ook in Ester 4:16 sê Ester aan haar oom Mordegai om die volk van Israel op te kommandeer om saam met haar te vas en te bid voordat sy na die koning gaan. Luister na die woorde waarmee sy die gesprek afsluit: “Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” En in 1 Samuel 17:45-46 sê Dawid aan Goliat: “Jý kom na my toe met ʼn dolk en ʼn spies en ʼn swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap.”

Beleef jy tans só ʼn oomblik waar jy in geloof moet optree terwyl daar geen waarborg van ʼn deurbraak in die toekoms is nie? Dalk is dit in jou werkplek, verhoudings, finansies of besluite oor jou toekoms? Luister weer na die woorde in Hebreërs 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Omdat Sadrag, Mesag en Abednego hulle oë op God gehou het, het Hy hulle sonder ʼn geskroeide haar uit die vuuroond gered (wat koning Nebukadnesar tot bekering gebring het). God het Ester in staat gestel om vir die oorlewing van die Israeliete te pleit (die volk waaruit Jesus later gebore is). En God het Dawid gehelp om die reus se kop te vermorsel.

God kan dieselfde vir ons ook doen. Onthou egter dat ons geloof juis gedemonstreer word deur hoe ons optree wanneer daar geen fisiese bewys of waarborg is dat ons deurbraak op pad is nie. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS