Nogtans – Dag 18
Nogtans sal ek hoop behou
Bybelteks(te)
GENESIS 50
PSALMS 37
Het jy jouself al ooit in ʼn situasie bevind waar dit gevoel het of die mat onder jou uitgeruk is? Jy kyk na jouself in die spieël en vind dit moeilik om te glo dat dit werklik jou lewe is. Dalk het jou krisis ingesluit ʼn gestremdheid, ʼn egskeiding, ʼn siektetoestand, ʼn amputasie, ʼn buite-egtelike verhouding, sekwestrasie, mishandeling, ʼn verslawing of selfs net ʼn teleurstelling in iemand wat jy werklik vertrou het. Sulke situasies laat ʼn mens plat teen die grond — gestroop van hoop. Tog moet ons onthou dat daar altyd hoop is.
ʼn Pienk sjibazakoera-blom is wat die verskil vir ʼn Japanese paartjie in Sjintomi in Japan gemaak het. Toshiyuki en sy vrou, Yasuko Kuroki, is in 1956 getroud. Daarna het hulle hard gewerk as melkboere en saam met hul twee kinders ʼn gelukkige lewe gebou. Die egpaar se droom was om ná hul aftrede saam deur Japan te reis.
Op 52-jarige ouderdom het Yasuko egter binne ʼn week se tyd, weens komplikasies met haar diabetes, haar sig verloor. Buiten vir die fisiese uitdagings, het die blindheid haar van haar lewenslus beroof en in ʼn diep depressie laat verval. Al haar man se pogings om haar op te beur was telkens onsuksesvol, maar hy het egter nie moed opgegee nie.
Op ʼn dag ontdek Toshiyuki die pienk sjibazakoera-blom. Vir die volgende twee jaar het hy derduisende van dié blomme in hul tuin rondom die huis geplant. Met die aanbreek van lente was hulle tuin nie net helderkleurig en mooi nie, maar ʼn heerlike geur het in die lug gehang. Gou het toeriste begin om die Kuroki’s se plaas te besoek. Vandag stroom bykans 7 000 besoekers per dag in die lente na die Kuroki’s se plaas. En om alles te kroon het Yasuko weer ʼn glimlag op haar gesig!
Yasuko se blindheid het die Kuroki’s voor ʼn keuse geplaas: Hulle kon óf gaan lê en alles en almal rondom hulle verwyt vir wat gebeur het, óf hulle kon hul “nuwe normaal” aangryp en die beste daarvan maak. Hulle het laasgenoemde gekies en daarby beleef hoe besoekers nie net die tuin geniet nie, maar ook geïnspireer word deur ʼn storie van hoop, deursettingsvermoë en onvoorwaardelike liefde.
In Genesis lees ons dat Josef se broers, wat hom eens weens jaloesie in ʼn put gegooi het en later aan die Ismaeliete verkoop het, voor hom in Egipte buig om kos in ʼn hongersnoodtyd te koop. Aanvanklik herken hulle hom nie. Wanneer hulle egter uitvind wie hy is, vrees hulle vir hul lewens. In Genesis 50:20 sê Josef egter: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ʼn groot volk nou in die lewe gebly het.” Hy het besef dat God alles ten goede kan laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28). Ook in Psalm 37:5 lees ons: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”
ʼn Besigheid wat sy deure moes sluit, is nie die einde van ʼn besigheidsloopbaan nie; dit is dalk net die begin van ʼn veel beter een omdat belangrike lesse geleer is. Jou egskeiding voel dalk vir jou soos die einde van die wêreld, maar is God dan nie in staat om aan jou ʼn tweede kans op geluk te gee nie? En jou gestremde kind waaroor julle aanvanklik so gehuil het, mag dalk in retrospeksie vir julle die grootste seëning wees omdat hy of sy julle daagliks van God se teenwoordigheid en genade bewus maak. Kom ons hou ons oë op Hom en vind ons hoop in Hom. Dit maak nie saak hoe donker ʼn situasie lyk nie, daar is altyd hoop in Hom! Sterkte.