Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Nogtans – Dag 16

Nogtans bly my oë op U, my Voorsiener

Bybelteks(te)

JAKOBUS 4

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

MATTEUS 7

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

MATTEUS 7:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 11

24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

MARKUS 11:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ter agtergrond: Daar was al heelwat lesers wat via e-pos vertel het dat hulle God vir ʼn deurbraak of vir voorsiening vertrou. Hier is ʼn uittreksel uit ʼn e-pos wat my geïnspireer het, omdat die skrywer in geloof vasstaan te midde van ʼn storm: “Vir die afgelope tien maande gaan dit finansieel baie swaar met ons. Daar was oomblikke waarin ek gewonder het hoe ons deur die week gaan kom, maar God het keer op keer ingegryp en vir ons voorsien. Ons het nog nie een aand honger gaan slaap nie. Ek weet vandag dat Hy die Voorsiener is en dat ons ons lewens sonder vrees in sy hande kan plaas! Alle eer aan Hom.”

Benodig jy vandag om God se voorsienende hand in jou lewe te beleef? Dalk kry julle ook finansieel swaar, smag jy na ʼn baba van jou eie, ʼn huweliksmaat, ʼn beter werksgeleentheid of sommer net iets materieel soos ʼn motor of huis van jou eie. Of dalk wil jou kind op ʼn skooltoer gaan, maar jy weet nie hoe julle dit gaan bekostig nie. Of dalk is jou behoefte emosioneel van aard soos vertroosting van ʼn gebroke hart nadat ʼn verhouding nie uitgewerk het nie, of jy smag na vriende, maar jy weet nie waar om te begin nie. God weet wat ons benodig nog voordat ons dit van Hom vra, maar Hy wil hê dat ons dit van Hom vra omdat Hy ʼn verhouding met ons begeer.

Moet ons God vra om te voorsien?

Ja. In Jakobus 4:2b lees ons: “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.” Ook in Matteus 7:7-8 staan geskryf: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” ʼn Aksie word dus benodig om te ontvang. In Psalm 24:1 lees ons dat alles in die wêreld aan God behoort. Hy is die Bron van ons voorsiening en daarom mag ons met vrymoedigheid met Hom oor ons behoeftes gesels.

Wat moet ons doen as ons klaar vir God gesê het wat ons benodig?

In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” En in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ons kan dus, nadat ons vir God gesê het wat ons benodig, solank in geloof begin dankie sê met die wete dat die deurbraak op pad is (Hebreërs 11:1).

Soms kry ons presies waarvoor ons gebid het. Ander kere kry ons iets heeltemal anders. Wat ons egter moet onthou, is dat God die toekoms ken. Hy is in staat om veel meer te doen as wat ons kan bid of dink (Efesiërs 3:20-21), maar Hy weet of dit waarvoor ons bid vir ons gaan goed wees of nie. Wanneer ʼn deurbraak dus langer neem as wat ons wil hê dit moet, of in ʼn ander vorm kom, kan ons weet dat Hy ons heel moontlik beskerm of vir ons iets beters gee as wat ons gevra het.

Kom ons begin om God vandag by voorbaat te dank vir wie Hy is en hoe Hy kan voorsien. Só demonstreer ons ons geloof in Hom. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS