Nogtans – Dag 14
Nogtans sal ek in die lig leef
Bybelteks(te)
EFESIËRS 4
SPREUKE 4
PSALMS 139
1 TESSALONISENSE 5
Jeremy en Jason Holden, ʼn tweeling uit Hollywood, het onlangs besluit om fietsdiewe in die stad ʼn les te leer. Met slim bedrading aan die fiets, ʼn afstandbeheerder en ʼn verskuilde kamera, het hulle die strate ingevaar. Die fiets is sonder ʼn slot teen ʼn lamppaal in die straat geplaas as lokaas vir diewe wat dit wou steel.
Keer op keer het iemand verbygestap, gesien dat daar nie ʼn slot aan die fiets is nie, en dit gevat. Sodra die dief egter met sy sitvlak op die fiets se saal gaan sit, het die tweeling via die afstandbeheerder vir ʼn elektriese skok gesorg. Die reaksies was snaaks. Een van die diewe het só groot geskrik dat hy byna in ʼn boom vasgery het.
God is Lig en daarom moet ons in elke aspek van ons lewens daarna streef om ook in sy lig te leef. Doen ons dit nie, klim ons ook onwetend op daardie “fiets” wat die vyand vir ons uitsit as ʼn versoeking en gee ons vir hom die afstandbeheerder in sy hand om ons verder seer te maak. In Efesiërs 4:26-27 lees ons: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ʼn dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.” In ʼn ander vertaling sê dit dat ons nie die duiwel ʼn voet in die deur moet gee nie.
Hoe klim ons op die vyand se “fiets”? Ons doen dit deur byvoorbeeld nie skinderpraatjies te stop nie, maar saam te gesels; wanneer ons kies om kwaad met kwaad te vergeld, eerder as om iemand vry te spreek en te vergewe; wanneer ons ongeduldig met geliefdes raak; wanneer ons toelaat dat ons harte gevul raak met jaloesie, bedrog, kwaadpratery en wellus (Romeine 1:29-31), of wanneer ons ons integriteit prysgee, deur iets te doen wat ons weet nie volgens God se wil is nie.
In Spreuke 4:23 lees ons: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Die Psalmdigter het dit verstaan en daarom bid hy in Psalm 139:23-24 ʼn gebed wat ons daagliks moet bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes … en lei my op die ewige weg!” Ook in 1 Tessalonisense 5:19,22-23 lees ons: “Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie … en bly weg van alles wat sleg is. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!”
Is daar vandag iets in jou lewe wat vir die vyand ʼn voet in die deur gegee het? Beleef jy dalk tans die vyand se “elektriese skokke” in jou lewe? Kom ons spring van die fiets af, gooi dit eenkant toe en hardloop weg van enigiets wat ons van die teenwoordigheid van God skei. En kom ons vra God om ons, deur sy Heilige Gees, in staat te stel om onberispelik voor Hom te leef. Sterkte.