Nogtans – Dag 13
Nogtans sal ek positief praat
Bybelteks(te)
SPREUKE 18
PSALMS 141
ESEGIËL 37
In 2013 was die Sekondêre Skool Walmer, net buite die Kaapse middestad, se slaagsyfer vir die matriekeindeksamen slegs 50%. Die onderwysers het besef dat as hulle nie iets daadwerkliks doen nie, die skool op die afdraande sou wees. Een van die onderwysers, Nandipha Mwezo, kom toe met ʼn vreemde voorstel na vore: Elke nou en dan het sy een van die matriekleerders voor in haar klas op ʼn stoel laat sit. Vir die volgende halfuur moes die res van die klas daardie leerder opbou met komplimente. Nandipha het vertel dat sy besef het dat baie van die leerders in die klas nie dié soort ondersteuning by hul huise kry nie. Sy wou ʼn ruimte daarvoor skep.
Groot was die personeel van die Sekondêre Skool Walmer se verbasing toe hulle slaagsyfer van matrikulante in 2014 van 50% na 88% styg. Die volgende jaar was die slaagsyfer 91,5%. Dié prestasie het veroorsaak dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement die skool vereer het met ʼn toekenning vir die grootste verbetering in sy slaagsyfer sedert 2013.
Besef jy dat ons met ons woorde skep of vernietig — opbou of afbreek? In Spreuke 18:21 lees ons: “Lewe en dood is in die mag van die tong.” In Psalm 141:3 voeg die Psalmdigter by: “Sit ʼn wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.” En in Esegiël 37:4-5 wys God vir Esegiël ʼn vallei met droë bene wat Israel se geestelike toestand geïllustreer het. Dan gee Hy die opdrag aan Esegiël: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word” (1933/1953-vertaling). Esegiël het God se opdrag gehoorsaam en verstom gestaan en kyk hoe die dor mensbene bymekaarkom, vel oorkry en God sy Gees in hulle blaas om lewend te word.
In ons lewens ervaar ons ook van tyd tot tyd areas wat soos hierdie vallei met dor, droë bene voel. Dit kan ʼn geliefde wees wat sukkel met ʼn verslawing, skuld wat ophoop, ʼn huwelik sonder eenheid, ʼn uitdagende werkplek of werkloosheid, ʼn negatiewe doktersverslag of ʼn kind sonder selfvertroue. As ons vir te lank vaskyk in die droë bene, kan ons in ʼn strik trap om hopeloos te begin voel. God beveel ons egter om, soos Esegiël, positief te praat oor ons uitdagings. Met ons woorde skep óf vernietig ons; ons bou op óf ons breek verder af.
Kom ons kies vandag om verby die vallei van droë bene waarin ons tans is te kyk en in geloof te begin praat oor die situasie soos God dit sien — soos dit kan wees. Nie net sal dit ons geloof in God versterk nie; ons mag dalk, net soos Esegiël (en ook die personeel van Sekondêre Skool Walmer), in absolute verstomming staan wanneer die droë bene bymekaarkom en God sy Heilige Gees inblaas om daardie dor, droë areas lewend te maak. Sterkte.