Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 94

JESAJA 16–20, PSALM 144

Bybelteks(te)

1Stuur uit Sela in die woestyn na Sionsberg toe

lammers vir die regeerder van die land,

2want soos voëltjies wat rondfladder nadat hulle uit die nes geskop is,

so drom die mense van Moab by die Arnon se driwwe saam.

3Hulle sê vir Juda:

“Gee vir ons raad, maak 'n plan,

laat u skaduwee oor ons val,

maak dit donker oor ons op hierdie snikhete dag,

beskerm dié wat verjaag is,

moenie die vlugtelinge uitlewer nie!

4Neem Moab se vlugtelinge in beskerming,

wees vir ons 'n skuilplek teen dié wat vir ons wil vernietig!”

Wanneer die nood verby is,

die verwoesting tot 'n einde kom

en dié wat die land vertrap, weg is,

5sal die Here in sy trou 'n troon oprig,

en daarop sal 'n heerser sit uit die nageslag van Dawid.

Hy sal betroubaar wees: hy sal hom beywer vir wat reg is,

hy sal reg laat geskied.

6Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab,

van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid,

maar sy grootpratery het tot niks gelei nie!

7Daarom huil Moab nou oor Moab,

hulle huil almal,

hulle kerm verslae oor die rosyntjiekoeke van Kir-Geres,

8want die wingerde op die terrasse van Gesbon

en die wingerde van Sibma verwelk.

Hulle wyn het heersers van nasies dronk gemaak,

dié wingerde wat gestrek het tot by Jaser,

gerank het tot in die woestyn.

Hulle ranke het welig gegroei

en tot by die see gekom.

9Ek huil saam met Jaser oor die wingerde van Sibma,

my trane vloei oor julle, Gesbon en Elale,

want julle het nie meer 'n vrugteoes en 'n graanoes nie,

daar is nie meer oesvreugde nie;

10vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde;

in die wingerde word daar nie meer gesing en gejubel nie,

in die parskuipe word daar nie meer wyn uitgetrap nie,

want Ek maak 'n einde aan die oesvreugde, sê die Here.

11Dit kerm in My oor Moab,

dit kerm soos 'n lier,

my binneste kerm oor Kir-Geres.

12Wanneer Moab na hulle hoogtes toe gaan

en hulle daar afsloof om offers te bring,

wanneer hulle na hulle heiligdomme toe gaan om te bid,

is dit tevergeefs.

13Dit is wat die Here vantevore oor Moab gesê het. 14En nou sê die Here: Binne drie jaar, drie jaar wat so ondraaglik sal wees as wat dit vir 'n dagloner is, sal van Moab se mag en van al sy baie mense min oor wees. Wat oor is, sal min en niks werd wees.

Teen Damaskus en Efraim

1'n Uitspraak van die Here teen Damaskus:

Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees,

hy word 'n puinhoop.

2Die buitedorpe van Aroër sal verlate lê,

daar sal net kleinvee wees.

Hulle sal daar lê en niemand sal hulle opjaag nie.

3Vestingstede sal verdwyn uit Efraim,

koninklike mag uit Damaskus.

Wat van die Arameërs oorbly,

sal so min mag hê soos die Israeliete,

sê die Here die Almagtige.

4Daardie dag sal Jakob se mag onbeduidend word

en sy voorspoed sal verdwyn.

5Dit sal wees soos wanneer iemand wat oes,

die graanhalms bymekaargevat en die are afgesny het.

Dit sal wees soos wanneer iemand ook die are wat geval het,

opgetel het in Spooklaagte.

6As dan nog iets agterbly om te oes,

sal dit wees soos nadat olywe afgeslaan is:

twee of drie rypes aan die punt van 'n tak,

vier of vyf aan die takkies wat gedra het,

sê die Here die God van Israel.

7Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig,

sy hulp van die Heilige van Israel verwag.

8Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare,

die werk van sy eie hande nie.

Hy sal nie hulp verwag van die gewyde pale

en die wierookaltare wat hy self gemaak het nie.

9Daardie dag sal Israel se vestingstede verlate lê,

so verlate soos die boswêreld

waaruit die inwoners destyds vir die Israeliete gevlug het.

Die stede sal sonder inwoner wees.

10Jy, Israel, het die God wat jou altyd gehelp het, verlaat;

jy het gemaak of die Rots wat jou toevlug was,

nie meer daar is nie.

Lê maar pragtige tuine aan vir jou afgode,

plant maar allerlei uitheemse struike;

11al kan jy hulle laat groei dieselfde dag as jy hulle plant,

hulle laat uitspruit die môre as jy hulle in die grond sit,

van die oes sal niks kom

wanneer siekte en smart jou tref nie.

12Ellende wag vir die baie nasies

wat net so onstuimig as die see is,

die opstandige volke wat te kere gaan soos magtige waters,

13die opstandige volke wat te kere gaan soos die groot waters.

Wanneer die Here hulle aanspreek, sal hulle ver weg vlug,

weggedryf oor die berge soos kaf voor die wind,

soos tolbosse voor 'n stormwind.

14Die aand nog saai die nasies verskrikking

maar voor dit môre is, is hulle weg.

Dit is wat sal gebeur met dié wat nou ons land stroop,

dit is die bestemming van dié wat ons besittings plunder.

Die mense van Kus sal geskenke bring

1Ellende wag vir die land met die insekteplae,

die land aan die riviere van Kus!

2Hy stuur gesante oorsee,

hy stuur hulle in papirusbote oor die water.

Gaan terug, gesante wat so haastig is,

gaan terug na julle lang mense toe, hulle met die blink velle,

julle volk wat wyd en syd gevrees word,

wat gewoond is om alles met mag plat te trap,

en wie se land deur riviere deursny word.

3Julle almal wat in die wêreld woon,

julle bewoners van die aarde,

kyk wanneer die vaandel opgesteek word op die berge,

luister wanneer die ramshoring blaas!

4So het die Here vir my gesê:

Ek sal rustig uit my woonplek ondertoe kyk,

ongestoord soos die hittegolwe op 'n warm dag,

soos 'n miswolk in die somerhitte.

5Voor die tyd van die graanoes,

wanneer die bloeityd van die wingerd verby is,

en die blomme druiwe geword het wat besig is om ryp te word,

word die wingerdlote met snoeimesse afgesny

en die ranke afgebreek en weggegooi.

6Die ranke word oorgelaat aan die roofvoëls uit die berge

en aan die wilde diere.

In die somer sit die roofvoëls op die ranke,

in die winter lê die wilde diere daarop.

7In dié tyd sal daar geskenke aan die Here die Almagtige gebring word uit

die land wat deur riviere deursny word.

Dit sal kom van die lang mense met die blink velle,

die volk wat wyd en syd gevrees word,

die nasie wat gewoond is om alles met mag plat te trap.

Hulle sal die geskenke bring na Sionsberg toe,

na die plek toe waar die Here die Almagtige geroem word.

Teen Egipte

1'n Uitspraak van die Here teen Egipte:

Die Here ry op 'n vinnige wolk,

Hy gaan na Egipte toe.

Egipte se gode is bang vir Hom,

die Egiptenaars se harte verstyf van angs.

2Ek, die Here, sal die een Egiptenaar die vyand van die ander maak:

broer sal teen broer veg, vriend teen vriend,

stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.

3Egipte se planne sal tot niet gaan,

Ek sal sy planne verydel.

Hulle sal gode gaan raadpleeg,

besweerders, mediums, spiritiste.

4Ek sal die Egiptenaars oorgee in die mag van 'n harde regeerder,

'n streng koning sal oor hulle heers,

sê die Here die Almagtige, die Koning.

5Die water van die Nyl sal wegdroog,

die rivier sal leeg word en opdroog.

6Die kanale sal stink,

Egipte se waterstrome sal sak en opdroog.

Die riete en biesies sal verdroog,

7die waterplante langs die Nyl by die Nylmond.

Alles wat langs die Nyl gesaai is, sal verdroog,

dit sal wegwaai en verdwyn.

8Die vissers sal kla en huil:

almal wat met 'n hoek visvang

en dié wat hulle nette in die rivier oopgooi, sal verdwyn.

9Dié wat vlas verwerk, sal nie hulle werk kan doen nie,

dié wat die vlas uitkam en weef, sal moed verloor.

10Egipte se wewers sal platgeslaan wees,

al sy loonarbeiders sal bekommerd wees.

11Die leiers van Soan is dwaas,

die slimste raadgewers van die farao gee slegte raad.

Hoe kan julle vir die farao sê:

“Ons is van die slim manne,

afstammelinge van die konings van vroeër”?

12Egipte, waar is jou wyse manne nou?

Laat hulle jou tog vertel sodat jy kan weet

wat die Here die Almagtige teen Egipte besluit het.

13Die leiers van Soan se planne het niks gehelp nie,

die leiers van Memfis het bedroë daarvan afgekom.

Die beste raadgewers van Egipte het hom op 'n dwaalspoor gebring.

14Die Here het hulle verwar;

wat Egipte ook al doen,

hulle het hom op 'n dwaalspoor gebring.

Soos 'n dronk mens waggel hy in sy braaksel rond.

15Niemand in Egipte kan hom meer red nie,

nie die leiers of die slawe nie,

nie dié met aansien of dié daarsonder nie.

16Daardie dag sal die Egiptenaars soos vrouens wees. Egipte sal bewe van angs wanneer hulle sien dat die Here die Almagtige sy hand teen hulle optel om hulle te straf. 17Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees; elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het.

18Daardie dag sal die inwoners van vyf Egiptiese stede Hebreeus praat, en wanneer hulle 'n eed aflê, sal hulle dit in die Naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal Die Verwoeste Stad genoem word.

19Daardie dag sal daar binne-in Egipte 'n altaar en op sy grense 'n klippilaar wees wat aan die Here gewy is. 20Hulle sal dien as tekens en hulle sal getuig van die Here die Almagtige se teenwoordigheid in Egipte. As die Egiptenaars tot die Here roep omdat hulle verdruk word, sal Hy 'n redder vir hulle stuur. Hy sal hulle saak behartig en hulle red. 21Dan sal die Here Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en op daardie dag sal hulle Hom leer ken. Hulle sal die Here met diereoffers en met graanoffers dien, en hulle sal hulle geloftes aan Hom nakom. 22Die Here sal die Egiptenaars straf, Hy sal straf en genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer, en Hy sal hulle goedgesind wees en hulle genees.

23Daardie dag sal daar 'n grootpad van Egipte af tot by Assirië loop. Die Assiriërs sal Egipte besoek, en die Egiptenaars Assirië, en hulle sal saam die Here dien.

24Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot 'n seën wees.

25Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê:

Geseënd is my volk Egipte,

geseënd is Assirië wat deur My geskep is,

en geseënd is Israel, my eiendom.

Die teken van 'n kaal profeet

1Op 'n keer het koning Sargon van Assirië die hoof van sy leër na die Filistynse stad Asdod toe gestuur. Hy het teen dié stad oorlog gemaak en dit verower. 2In daardie tyd het die Here vir Jesaja seun van Amos gesê: Trek jou klere uit en ook jou skoene.

Jesaja het dit gedoen: hy het sonder klere en sonder skoene rondgeloop. 3Toe Asdod ingeneem is, het die Here gesê: Soos my dienaar Jesaja drie jaar lank sonder klere en sonder skoene rondgeloop het as 'n lewende getuie teen Egipte en teen Kus, 4so sal die koning van Assirië die krygsgevangenes uit Egipte en die ballinge uit Kus, oud en jonk, sonder klere en sonder skoene, kaal, in ballingskap wegvoer. Dit sal vir Egipte 'n skande wees.

5Hulle wat op Kus vertrou het en oor Egipte grootgepraat het, sal teleurgestel staan en bedroë daarvan afkom.

6Daardie dag sal die inwoners van die kuslande sê: “Kyk wat het gebeur met die mense op wie ons vertrou het, na wie toe ons gehardloop het om ons teen die koning van Assirië te help en ons uit sy mag te red. Hoe sal ons nou vrykom?”

U is my krag

1Van Dawid.

Geloof sy die Here, Hy is my rots.

Hy leer my hande om oorlog te maak,

my vingers om te veg.

2U is my krag en my skuilplek,

my veilige vesting en my redder,

my beskermer by wie ek skuil,

wat my volk aan my onderdanig maak.

3Here, wat is 'n mens dat U hom sou wil ken,

'n mensekind dat U aan hom sou dink?

4'n Mens, hoe verganklik is hy tog:

sy dae gaan soos 'n skaduwee verby.

5Buig u hemele, Here, en daal neer,

raak die berge aan dat hulle rook!

6Laat die weerligstrale blits en jaag die vyande uitmekaar,

stuur u pyle en jaag hulle op loop!

7Strek u hand van bo af uit,

bevry my, red my uit die geweldige waters,

uit die mag van vreemdelinge

8wie se woorde en dade leuens en bedrog is.

9Ek wil tot u eer 'n nuwe lied sing, o God,

tot u eer wil ek sing met begeleiding van die lier,

10U wat aan konings die oorwinning skenk,

wat u dienaar Dawid red.

11Red my van die swaard wat my bedreig,

bevry my uit die mag van vreemdelinge

wie se woorde en dade leuens en bedrog is.

12Mag ons seuns wees soos plante

wat hoog groei in hulle jeug,

ons dogters soos hoekpilare,

uitgebeitel soos vir 'n paleis.

13Mag ons skure vol wees

en oorloop van kant tot kant.

Mag ons kleinvee in hulle duisende aanteel,

in hulle tienduisende vermenigvuldig op ons weivelde.

14Mag ons beestrop 'n groot kalweroes lewer.

Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie,

mag daar geen klaagkreet op ons pleine gehoor word nie.

15Gelukkig is die volk met wie dit so gaan.

Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS