1Stuur uit Sela in die woestyn na Sionsberg toe
lammers vir die regeerder van die land,
2want soos voëltjies wat rondfladder nadat hulle uit die nes geskop is,
so drom die mense van Moab by die Arnon se driwwe saam.
3Hulle sê vir Juda:
“Gee vir ons raad, maak 'n plan,
laat u skaduwee oor ons val,
maak dit donker oor ons op hierdie snikhete dag,
beskerm dié wat verjaag is,
moenie die vlugtelinge uitlewer nie!
4Neem Moab se vlugtelinge in beskerming,
wees vir ons 'n skuilplek teen dié wat vir ons wil vernietig!”
Wanneer die nood verby is,
die verwoesting tot 'n einde kom
en dié wat die land vertrap, weg is,
5sal die Here in sy trou 'n troon oprig,
en daarop sal 'n heerser sit uit die nageslag van Dawid.
Hy sal betroubaar wees: hy sal hom beywer vir wat reg is,
hy sal reg laat geskied.
6Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab,
van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid,
maar sy grootpratery het tot niks gelei nie!
7Daarom huil Moab nou oor Moab,
hulle huil almal,
hulle kerm verslae oor die rosyntjiekoeke van Kir-Geres,
8want die wingerde op die terrasse van Gesbon
en die wingerde van Sibma verwelk.
Hulle wyn het heersers van nasies dronk gemaak,
dié wingerde wat gestrek het tot by Jaser,
gerank het tot in die woestyn.
Hulle ranke het welig gegroei
en tot by die see gekom.
9Ek huil saam met Jaser oor die wingerde van Sibma,
my trane vloei oor julle, Gesbon en Elale,
want julle het nie meer 'n vrugteoes en 'n graanoes nie,
daar is nie meer oesvreugde nie;
10vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde;
in die wingerde word daar nie meer gesing en gejubel nie,
in die parskuipe word daar nie meer wyn uitgetrap nie,
want Ek maak 'n einde aan die oesvreugde, sê die Here.
11Dit kerm in My oor Moab,
dit kerm soos 'n lier,
my binneste kerm oor Kir-Geres.
12Wanneer Moab na hulle hoogtes toe gaan
en hulle daar afsloof om offers te bring,
wanneer hulle na hulle heiligdomme toe gaan om te bid,
is dit tevergeefs.
13Dit is wat die Here vantevore oor Moab gesê het. 14En nou sê die Here: Binne drie jaar, drie jaar wat so ondraaglik sal wees as wat dit vir 'n dagloner is, sal van Moab se mag en van al sy baie mense min oor wees. Wat oor is, sal min en niks werd wees.