Teen Damaskus en Efraim
1'n Uitspraak van die Here teen Damaskus:
Damaskus gaan ophou om 'n stad te wees,
hy word 'n puinhoop.
2Die buitedorpe van Aroër sal verlate lê,
daar sal net kleinvee wees.
Hulle sal daar lê en niemand sal hulle opjaag nie.
3Vestingstede sal verdwyn uit Efraim,
koninklike mag uit Damaskus.
Wat van die Arameërs oorbly,
sal so min mag hê soos die Israeliete,
sê die Here die Almagtige.
4Daardie dag sal Jakob se mag onbeduidend word
en sy voorspoed sal verdwyn.
5Dit sal wees soos wanneer iemand wat oes,
die graanhalms bymekaargevat en die are afgesny het.
Dit sal wees soos wanneer iemand ook die are wat geval het,
opgetel het in Spooklaagte.
6As dan nog iets agterbly om te oes,
sal dit wees soos nadat olywe afgeslaan is:
twee of drie rypes aan die punt van 'n tak,
vier of vyf aan die takkies wat gedra het,
sê die Here die God van Israel.
7Daardie dag sal die mens weer sy hoop op sy Maker vestig,
sy hulp van die Heilige van Israel verwag.
8Hy sal nie meer sy hoop vestig op die altare,
die werk van sy eie hande nie.
Hy sal nie hulp verwag van die gewyde pale
en die wierookaltare wat hy self gemaak het nie.
9Daardie dag sal Israel se vestingstede verlate lê,
so verlate soos die boswêreld
waaruit die inwoners destyds vir die Israeliete gevlug het.
Die stede sal sonder inwoner wees.
10Jy, Israel, het die God wat jou altyd gehelp het, verlaat;
jy het gemaak of die Rots wat jou toevlug was,
nie meer daar is nie.
Lê maar pragtige tuine aan vir jou afgode,
plant maar allerlei uitheemse struike;
11al kan jy hulle laat groei dieselfde dag as jy hulle plant,
hulle laat uitspruit die môre as jy hulle in die grond sit,
van die oes sal niks kom
wanneer siekte en smart jou tref nie.
12Ellende wag vir die baie nasies
wat net so onstuimig as die see is,
die opstandige volke wat te kere gaan soos magtige waters,
13die opstandige volke wat te kere gaan soos die groot waters.
Wanneer die Here hulle aanspreek, sal hulle ver weg vlug,
weggedryf oor die berge soos kaf voor die wind,
soos tolbosse voor 'n stormwind.
14Die aand nog saai die nasies verskrikking
maar voor dit môre is, is hulle weg.
Dit is wat sal gebeur met dié wat nou ons land stroop,
dit is die bestemming van dié wat ons besittings plunder.