Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 9

Genesis 29–32, Johannes 17

Bybelteks(te)

Jakob werk vir Laban

1Jakob het sy reis voortgesit na die land van die mense in die ooste toe. 2Hy het onverwags uitgekom by 'n put in die veld waar drie troppe kleinvee lê. Die wagters het die kleinvee by hierdie put laat suip. Daar was 'n groot klip op die bek van die put, 3en wanneer al die veetroppe daar bymekaar is, rol die wagters die klip weg en dan gee hulle vir die vee water. Daarna sit hulle weer die klip terug op sy plek op die bek van die put.

4Jakob het hulle gevra: “Van waar is julle, my vriende?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”

5Toe vra hy vir hulle: “Ken julle vir Laban uit die geslag van Nahor?” en hulle antwoord: “Ons ken hom.”

6Hy vra hulle toe: “Hoe gaan dit met hom?” en hulle antwoord: “Goed, hier kom sy dogter Ragel nou net aan met die kleinvee.”

7Toe sê Jakob: “Die son sit nog hoog en dis nog nie tyd om die kleinvee in die kraal te jaag nie. Laat hulle suip en vat hulle om te wei.”

8Maar die wagters antwoord: “Ons kan hulle nie laat suip voor al die troppe hier bymekaar is nie. Dan word die klip van die bek van die put afgerol en laat ons die vee suip.”

9Terwyl hy nog met hulle staan en praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee. Sy het hulle opgepas. 10Toe Jakob vir Ragel, die dogter van sy ma se broer Laban, sien met haar pa se kleinvee, het Jakob nader gekom en die klip van die put af weggerol en Laban se kleinvee laat suip. 11Daarna het Jakob vir Ragel gesoen en toe het hy begin huil. 12Nadat hy vir haar gesê het hy is familie, Rebekka se seun, het sy gehardloop en dit vir haar pa gaan vertel. 13Toe hy hoor dat Jakob sy susterskind is, het hy na hom toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Laban het hom na sy huis toe gevat, en toe vertel Jakob hom alles. 14Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!”

Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het, 15het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. 17Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. 18Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad. 21Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, 23maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. 24Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. 27Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. 29Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee.

30Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

Jakob se kinders

31Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het.

32Lea het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.”

33Lea het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en sy het gesê: “Die Here het gehoor dat ek nie liefde ontvang nie. Daarom het Hy my hierdie seun gegee.” Sy het hom Simeon genoem. 34Sy het weer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê sy: “Na hierdie keer sal my man aan my gebind wees, want ek het nou al drie seuns vir hom in die wêreld gebring.” Daarom het sy die seun Levi genoem.

35Sy het nog 'n keer swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Sy het gesê: “Hierdie keer prys ek die Here.” Daarom het sy die seun Juda genoem.

Daarna het sy vir eers nie weer kinders gehad nie.

1Toe Ragel merk dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld bring nie, het sy jaloers geword op haar suster. Ragel het vir Jakob gesê: “Gee vir my seuns, anders sterf ek.”

2Jakob het hom vererg vir Ragel en vir haar gevra: “Kan ek God se werk oorneem? Dit is Hy wat sorg dat jy nie swanger word nie.”

3Ragel het vir hom gesê: “Hier is my slavin Bilha. Hou gemeenskap met haar sodat sy haar kind op my knieë in die wêreld kan bring en ek deur haar 'n kind kan hê.”

4Ragel het vir Bilha aan Jakob gegee as vrou en hy het met haar gemeenskap gehad. 5Sy het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. 6Toe sê Ragel: “God het in my guns uitspraak gelewer, Hy het my gebed verhoor en vir my 'n seun gegee.” Daarom het sy hom Dan genoem. 7Bilha die slavin van Ragel het weer swanger geword en 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring. 8Ragel het toe gesê: “Ek was in 'n bitter swaar stryd gewikkel met my suster, maar ek het gewen.”

Toe noem sy die seun Naftali.

9Toe Lea besef sy bring nie meer kinders in die wêreld nie, het sy haar slavin Silpa gevat en vir Jakob gegee as vrou. 10Sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, 11en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!”

Sy het die seun Gad genoem. 12Daarna het Lea se slavin Silpa 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring, 13en Lea het gesê: “Hoe gelukkig is ek. Die vrouens sal my Die Gelukkige noem!”

Toe noem sy die seun Aser.

14Op 'n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.”

15Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?”

Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.”

16Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap. 17God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en 'n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring. 18Sy het gesê: “God het my 'n loon gegee omdat ek my slavin aan my man gegee het.”

Toe noem sy die seun Issaskar.

19Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring. 20Toe sê sy: “God het hierdie keer 'n mooi geskenk aan my gegee. Nou sal my man by my bly, want ek het ses seuns vir hom in die wêreld gebring.” Toe noem sy die seun Sebulon.

21Daarna het sy 'n dogter in die wêreld gebring en haar Dina genoem.

22God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie. 23Sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring en toe sê sy: “God het my skande weggeneem.”

24Toe noem sy die seun Josef, “want,” het sy gesê, “die Here sal my nog 'n seun gee.”

Laban bedrieg vir Jakob

25Nadat Ragel vir Josef in die wêreld gebring het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my trek. Ek wil na my geboorteland toe gaan. 26Gee my nou my vrouens en kinders vir wie ek by u gewerk het, want ek wil weggaan. U weet hoe goed ek vir u gewerk het.”

27Maar Laban het vir hom gesê: “Dink tog aan wat jy vir my beteken. Ek het die tekens gelees en agtergekom dat die Here my seën om jou ontwil.” 28Verder het Laban vir Jakob gesê: “Stel self jou loon vas, en ek betaal jou dit om vir my te werk.”

29Daarop sê Jakob vir hom: “U weet hoe ek vir u gewerk het, en hoe dit met u kudde gegaan het terwyl hulle by my was. 30Die bietjie wat u gehad het voor ek gekom het, het baie geword, want die Here het u geseën vandat ek by u gekom het. Wanneer sal ek vir my huis kan begin werk?”

31Toe vra Laban: “Wat moet ek jou betaal?” en Jakob antwoord: “U hoef my niks te betaal nie. Ek sal weer u kleinvee oppas as u my dit wil laat doen. 32Ek sal vandag al u kleinvee deurgaan om al die gestreepte en bont skaaplammers en al die swart skape en die bont en gestreepte bokke af te keer. Dit sal my betaling wees. 33Wanneer u dan eendag kom kyk na wat ek by u verdien het, sal dit duidelik wees of ek eerlik was of nie: alles onder my bokke wat nie gestreep of bont is nie, en al die skape wat nie swart is nie, sal vee wees wat ek gesteel het.”

34Laban het geantwoord: “Goed! Laat dit wees soos jy gesê het.”

35Maar dieselfde dag nog het Laban al die gevlekte en bont bokramme en al die gestreepte en bont bokooie afgekeer en ook alles waaraan iets wits was en al die swart skape, en dit alles onder die sorg geplaas van sy seuns. 36Hy het hierdie trop van hom op 'n afstand van drie dae se trek van Jakob af laat oppas. Jakob self het Laban se ander vee opgepas.

37Jakob het toe jong lote van populiere, amandels en plataanbome gevat en stroke daarvan afgeskil, sodat daar wit strepe op die lote was. 38Hy het die lote wat hy so afgeskil het, in die waterkrippe gesit, reg voor die kleinvee waar hulle kom suip het. Wanneer die ooie dan op hitte kom en kom suip, 39is hulle by die lote gedek en het hulle gevlekte en gestreepte en bont lammers gekry. 40Jakob het die skape uitgekeer en hulle laat kyk in die rigting van die gevlekte en swart vee van Laban. So het Jakob vir hom sy eie kuddes opgebou en hy het hulle nie by Laban se kleinvee laat kom nie. 41Wanneer die sterk diere gedek moes word, het Jakob die lote voor hulle in die krippe gesit sodat hulle by die lote gedek kon word. 42Maar hy het nie die lote by die swak diere gesit nie. So het dit gekom dat Laban die swakkes gekry het en Jakob die sterkes. 43Die man het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.

Jakob trek na Kanaän toe

1Jakob het die seuns van Laban hoor sê: “Jakob het alles gevat wat aan Pa behoort. Hy het hierdie hele rykdom verkry uit wat aan Pa behoort.”

2Jakob het ook aan Laban gemerk dat hy nie meer soos voorheen oor hom voel nie. 3Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”

4Toe laat Jakob vir Ragel en Lea veld toe roep, na sy kleinvee toe. 5Hy het vir hulle gesê: “Ek merk aan julle pa dat hy nie meer soos voorheen oor my voel nie. Maar die God van my vader was by my. 6Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa. 7Tog het hy my bedrieg en my loon kort-kort verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie. 8Wanneer julle pa sê: ‘Die gestreepte kleinvee is jou loon,’ kry die hele trop gestreepte lammers, en wanneer hy sê: ‘Die gevlektes is jou loon,’ kry die hele trop gevlekte lammers. 9So het God die besitting van julle pa gevat en vir my gegee.

10“In die paartyd van die kleinvee het ek in 'n droom gesien dat die ramme waardeur die ooie gedek word, gevlek, gestreep en gespikkel is.

11“Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’

12“Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het. 13Ek is die God van Bet-El waar jy olie op 'n klippilaar uitgegiet en 'n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”

14Daarop het Ragel en Lea vir Jakob gesê: “Ons het nie meer enige aandeel aan ons vaderhuis nie. 15Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik. 16Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.”

17Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, 18en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

Jakob en Laban maak 'n ooreenkoms

19Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies. 20Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.

21Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe. 22Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het. 23Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.

24Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”

25Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan. 26Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is. 27Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere. 28Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen. 29Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’ 30Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?”

31Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat. 32Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.”

Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie.

33Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe. 34Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie. 35Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.”

Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie.

36Toe word Jakob kwaad en hy verwyt vir Laban: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek oortree dat u my agternagesit het? 37U het my besittings gefynkam. Wat het u gekry wat uit u huis kom? Sit dit hier voor ons familie neer sodat hulle as regters tussen ons twee kan optree.

38“Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie. 39Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis. 40Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie. 41Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses vir kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander. 42As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”

43Laban het vir Jakob geantwoord: “Dit is my dogters en my kinders en my kleinvee: alles wat jy hier sien, is myne. Waarom sou ek vandag my dogters of die kinders wat deur hulle in die wêreld gebring is, iets aandoen? 44Kom ons maak liewer 'n ooreenkoms. Laat daar 'n getuienis wees om ons daaraan te herinner.”

45Toe vat Jakob 'n klip en sit dit regop neer as herinneringsklip. 46Hy het vir die mense by hom gesê: “Maak nog klippe bymekaar.” Hulle het dit gedoen en 'n kliphoop gepak. Toe het hulle daar by die kliphoop geëet. 47Laban het die kliphoop genoem: Jegar-Sahaduta, en Jakob het dit genoem: Galed.

48Laban het toe gesê: “Hierdie kliphoop word vandag vir ons 'n getuienis,” en hy het dit Galed genoem. 49Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa, want die Here hou 'n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie. 50Dan sal jy nie my dogters mishandel nie en ook nie vir jou nog vrouens vat nie. Wanneer daar niemand anders by ons is nie, sal God getuie wees in die saak tussen ons.”

51Verder het Laban vir Jakob gesê: “Kyk na hierdie kliphoop en kyk na die klippilaar wat ek regop gesit het. Dit staan tussen ons. 52Hierdie kliphoop is 'n teken en die klippilaar is 'n teken: ek sal nie hier verbygaan na jou toe om jou aan te val nie, en jy sal nie hier verbykom om my aan te val nie. 53Die God van Abraham, die God van Nahor, die God van hulle twee se vader sal as regter optree.”

Toe het Jakob 'n eed afgelê in die Naam van die Beskermer van Isak. 54Jakob het daar op die berg geoffer en toe het hy die mense by hom genooi om te eet. Nadat hulle klaar geëet het, het hulle daar by die berg oornag. 55Vroeg die volgende môre het Laban sy kleinseuns en sy dogters met seënwense gegroet. Hy het toe vertrek, terug huis toe.

Jakob se naam word verander

1Jakob het sy koers gegaan, en engele van God het hom teëgekom. 2Toe Jakob hulle sien, sê hy: “Dit is 'n leër van God,” en Jakob het die plek Maganajim genoem.

3Daarna het Jakob boodskappers vooruitgestuur na sy broer Esau toe, na die Seïrstreek toe, die gebied van Edom.

4Jakob het vir hulle gesê: “So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly. 5Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”

6Die boodskappers het na Jakob toe teruggekom en kom sê: “Ons het by u broer Esau aangekom, maar toe was hy al op pad na u toe met vier honderd man by hom.”

7Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval. Toe deel hy die mense by hom, en die kleinvee, die beeste en die kamele in twee groepe, 8want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.

9Daarna het Jakob gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my, 10ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe. 11Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders. 12U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”

13Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besitting 'n geskenk vir sy broer Esau: 14twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme, 15dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste. 16Hy het elke trop aan 'n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou 'n afstand tussen die troppe.”

17Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’ 18moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”

19Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter 'n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom. 20Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.”

Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in 'n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.

21So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly.

22Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. 23Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan. 24Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei. 25Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. 26Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”

Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”

27Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”

28Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

29Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?”

Hy het vir Jakob net daar geseën, 30en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”

31Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup, 32en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

Jesus bid vir sy dissipels

1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS