Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 10

Genesis 33–36, Johannes 18–19

Bybelteks(te)

Jakob en Esau ontmoet mekaar

1Toe Jakob deur die spruit was, het hy vir Esau in die verte sien aankom met vier honderd man by hom. Jakob het die kinders onder Lea en Ragel en die twee persoonlike slavinne verdeel 2en die slavinne met hulle kinders op die voorpunt gesit. Lea met haar kinders was agter hulle en Ragel en Josef heel agter. 3Hy self het verbygegaan tot heel voor en toe hy nader na sy broer toe kom, het hy sewe keer diep gebuig. 4Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil. 5Esau het opgekyk en die vrouens en kinders gesien en toe sê hy: “Wie is al hierdie mense by jou?”

Jakob het geantwoord: “Dit is die kinders wat God in sy liefde aan my gegee het.”

6Die persoonlike slavinne het met hulle kinders nader gekom en gebuig 7en toe het ook Lea met haar kinders nader gekom en gebuig. Josef en Ragel was heel agter en ook hulle het nader gekom en gebuig.

8Toe vra Esau: “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” en Jakob antwoord: “Dit is om u vriendskap te wen.”

9Maar Esau sê vir hom: “Broer, ek besit self baie. Wat joune is, moet joune bly.”

10Toe sê Jakob: “Nee, as u my goedgesind is, moet u my geskenk aanvaar. Ek het na u toe gekom om u goedgesindheid te wen net soos wanneer 'n mens in die teenwoordigheid van God verskyn. En u het my vriendelik ontvang. 11Aanvaar tog my geskenk wat vir u gebring is, want God was goed vir my en ek het oorgenoeg.”

Jakob het by Esau daarop aangedring, en toe aanvaar hy die geskenk. 12Hy het vir Jakob gesê: “Breek kamp op dat ons verder kan trek. Ek sal vooruit trek om jou te beskerm.”

13Maar Jakob het hom geantwoord: “U sien tog self die ou kindertjies is maar klein en die lammertjies en die kalwers by my is nog swak. As 'n mens hulle net een dag te hard aandryf, is die hele klomp dood. 14Trek u maar vooruit voor my en dan kom ek op my gemak agterna. Ek sal volgens die pas van die vee en van die kinders na u toe kom in Seïr.”

15Toe sê Esau: “Dan los ek 'n paar van my manne by jou,” maar Jakob vra: “Waarom wil u dit doen? U is my tog goedgesind?”

16Esau is daardie dag nog terug op sy pad Seïr toe.

17Jakob het gaan tent opslaan by Sukkot en daar het hy vir hom 'n huis gebou. Hy het ook takkrale vir sy vee gemaak, en daarom word die plek Sukkot genoem.

Jakob koop grond naby Sigem

18Nadat Jakob uit Paddan-Aram weg is, het hy veilig by Sigem in Kanaän aangekom. Hy het net buite die stad kamp opgeslaan. 19Toe koop hy die stuk grond waar sy tent staan, vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor, die pa van Sigem. 20Jakob het daar 'n altaar gebou en dit genoem: Die God van Israel is God.

Dina en die mense van Sigem

1Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing. 2Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag. 3Daarna het hy al hoe meer begin hou van Dina dogter van Jakob. Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer wen. 4Hy het vir sy pa, vir Gamor gesê: “Kry vir my daardie meisie as vrou.”

5Jakob het verneem dat sy dogter Dina deur Sigem onteer is, maar omdat Jakob se seuns met die vee in die veld was, het hy niks gedoen voor hulle terug was nie. 6Toe Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gaan om met hom te praat oor Dina, 7kom Jakob se seuns juis van die veld af by die huis aan en toe hulle hoor wat gebeur het, was die manne ontsteld. Hulle was baie kwaad, want Sigem het 'n gruwelike ding aangevang toe hy met die dogter van Jakob, 'n Israelitiese meisie, gemeenskap gehad het. So iets doen 'n mens nie.

8Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem hou baie van die dogter uit julle huis. Laat haar tog met hom trou. 9Kom ons word familie van mekaar. Dan kan julle dogters met ons trou en ons dogters met julle. 10Dan bly julle hier by ons. Ons land is tot julle beskikking. Bly net hier of trek rond en kry julle eie grond hier by ons.”

11Toe sê Sigem vir Dina se pa en haar broers: “As julle instem, sal ek betaal wat julle ook al van my vra. 12Julle kan maar die vergoeding wat ek moet gee, net so groot maak soos julle wil. Ek sal ook nog enige ander geskenk gee wat julle vra. Gee net asseblief die meisie vir my dat ek met haar kan trou.”

13Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer. 14Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding. 15Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. 16Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. 17Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.”

18Gamor en sy seun Sigem het hiertoe ingestem. 19Die jongman Sigem wou nie die saak laat sloer nie, want hy was lief vir Jakob se dogter. Omdat Gamor en Sigem die meeste gesag onder hulle mense gehad het, 20het hulle na die stadspoort toe gegaan en daar vir die mans van die stad gesê: 21“Hierdie vreemde mense het met goeie bedoelings na ons toe gekom. Hulle wil hier kom bly en met hulle kuddes in ons land rond trek: die land is groot en lê oop voor hulle. Dan kan ons met hulle dogters trou en hulle met ons s'n. 22Hierdie mense sal egter net by ons kom bly en saam met ons een volk word as al ons mansmense besny word soos dit by hulle is. 23Hulle kuddes, al hulle vee, hulle besittings, word ons eiendom as ons instem, en dan sal hulle by ons bly.”

24Al die mans van die stad het na Gamor en sy seun Sigem geluister, en hulle almal is besny. 25Drie dae later toe hulle baie pyn gehad het, het Jakob se twee seuns Simeon en Levi, die broers van Dina, elkeen sy swaard gevat en sonder om agterdog te wek, die stad ingegaan en al die mans doodgemaak, 26ook vir Gamor en sy seun Sigem. Hulle het vir Dina uit Sigem se huis uit weggevat en uit die stad uit gegaan.

27Jakob se seuns het toe op die slagoffers toegesak en die stad geplunder omdat hulle suster daar onteer is: 28kleinvee, beeste, donkies, alles in die stad en alles in die veld het hulle vir hulle gevat. 29Ja, hulle het alles geplunder wat daar in die stad was, hulle het alles wat in die huise was, buitgemaak; ook die kinders en vrouens is as gevangenes saamgevat.

30Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: “Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.”

31Toe antwoord hulle: “Hy moes nie ons suster soos 'n hoer behandel het nie!”

Jakob kom weer by Bet-El

1God het vir Jakob gesê: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar 'n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.”

2Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan. 3Ons moet klaarmaak en Bet-El toe gaan. Daar moet ek 'n altaar gaan bou vir die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.”

4Hulle het toe al die afgodsbeelde in hulle besit vir Jakob gegee en ook hulle oorringe. Hy het dit onder die groot boom by Sigem begrawe. 5Toe Jakob-hulle wegtrek, het God die mense van die stede in daardie omgewing so bang gemaak vir Jakob en sy seuns dat hulle nie agtervolg is nie.

6Jakob en al die mense by hom het by Lus aangekom. Dit is die Lus wat in Kanaän geleë is, nou bekend as Bet-El. 7Hy het daar 'n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, want God het daar aan hom verskyn toe hy vir sy broer gevlug het.

8Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, het daar gesterf en hulle het haar begrawe onder die groot boom naby Bet-El, en hulle het dit Huilboom genoem.

9Nadat Jakob uit Paddan-Aram terug was, het God weer aan hom verskyn en hom geseën. 10God het vir hom gesê: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.”

God het hom toe Israel genoem.

11God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word 'n groot nasie. Baie nasies sal van jou afstam. Jy sal die voorvader wees van konings. 12Hierdie land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal Ek aan jou gee en ná jou gee Ek dit aan jou nageslag.”

13Toe het God van Jakob af weggegaan, en op die plek waar God met hom gepraat het, 14het Jakob 'n klip regop gesit, presies op die plek waar die Here met hom gepraat het. Hy het 'n drankoffer daarop uitgegiet en ook olie.

15Hy het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.

Die geboorte van Benjamin

16Jakob-hulle het van Bet-El af getrek na Efrata toe. Hulle was nog 'n ent daarvandaan toe bring Ragel 'n kind in die wêreld. Dit was 'n moeilike geboorte. 17Met dié dat Ragel so swaar ly by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Ook hierdie keer het jy 'n seun!”

18Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem. 20Jakob het 'n groot klip op haar graf gesit. Dit is die klip wat nou nog op haar graf is.

'n Stukkie familiegeskiedenis

21Israel het verder weggetrek en kamp opgeslaan anderkant Migdal-Eder. 22Terwyl Israel in daardie landstreek gebly het, het Ruben gemeenskap gehad met Bilha, sy pa se slavinvrou. Israel het dit te hore gekom.

Jakob het twaalf seuns gehad.

23Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.

24Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.

25Die seuns van Ragel se persoonlike slavin Bilha was: Dan en Naftali.

26Die seuns van Lea se persoonlike slavin Silpa was: Gad en Aser.

Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is.

27Jakob is na sy pa Isak toe in Mamre by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Isak gebly het, en vroeër ook Abraham. 28Isak het honderd en tagtig jaar oud geword 29en toe is hy dood. Hy het gesterf nadat hy oud geword en 'n vol lewe gehad het. Sy twee seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

Die familiegeskiedenis van Esau

(Vgl. 1 Kron. 1:35-37)

1Hier volg besonderhede uit die familiegeskiedenis van Esau, dit is Edom.

2Esau het getrou met Kanaänitiese meisies: met Ada dogter van Elon, 'n Hetiet, met Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, 'n Hewiet, 3en met Basemat dogter van Ismael en suster van Nebajot.

4Ada het vir Elifas in die wêreld gebring. Basemat het vir Reüel in die wêreld gebring 5en Oholibama vir Jeüs, Jalam en Korag.

Dit is Esau se seuns wat vir hom in Kanaän gebore is.

6Maar Esau het met sy vrouens en sy seuns en dogters en al die mense by hom en met sy kleinvee en grootvee en al sy besittings wat hy in Kanaän bymekaargemaak het, weggetrek na 'n ander land toe, weg van sy broer Jakob af. 7Hulle twee se besittings was te veel, hulle kon nie saam boer nie, en die land waar hulle as vreemdelinge gebly het, kon nie hulle vee dra nie.

8Esau, dit is Edom, het in die Seïrberge gaan woon.

9Hier volg die name van Esau se nageslag in die Seïrberge. Esau was die voorvader van die Edomiete. 10Die name van Esau se seuns was: Elifas seun van Esau se vrou Ada, en Reüel seun van Esau se vrou Basemat.

11Elifas se seuns was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas. 12Esau se seun Elifas het vir Timna as byvrou gehad, en sy het vir Amalek in die wêreld gebring.

Dit was die nageslag van Esau se vrou Ada.

13Die seuns van Reüel was Nagat, Serag, Samma en Missa.

Dit was die nageslag van Esau se vrou Basemat.

14Die seuns van Esau se vrou Oholibama dogter van Ana, dogter van Sibon, was Jeüs, Jalam en Korag. Hulle was Esau se seuns.

15Die volgende uit Esau se nageslag was stamhoofde. Uit Esau se oudste seun Elifas se seuns was daar Teman, Omar, Sefo, Kenas, 16Korag, Gatam en Amalek, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Elifas se huis, die nageslag van Ada.

17Uit Esau se seun Reüel was daar Nagat, Serag, Samma en Missa, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde in Edom, almal uit Reüel se huis, die nageslag van Esau se vrou Basemat.

18Die seuns van Esau se vrou Oholibama was Jeüs, Jalam, Korag, almal stamhoofde.

Hulle was stamhoofde uit die geslag van Oholibama dogter van Ana, Esau se vrou.

19Dit was Esau, dit is Edom, se nageslag, en dit was hulle stamhoofde.

Die nageslag van Seïr

(Vgl. 1 Kron. 1:38-42)

20Die eerste inwoner van die land Edom was Seïr die Goriet. Sy seuns was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, 21Dison, Eser en Disan. Hulle was die Goritiese stamhoofde, die nageslag van Seïr, in Edom.

22Lotan se seuns was Gori en Hemam. Timna was Lotan se suster.

23Sobal se seuns was Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam.

24Sibon se seuns was Aja en Ana. Dit is die Ana wat die warmbronne in die woestyn ontdek het terwyl hy sy pa Sibon se donkies opgepas het.

25Ana het 'n seun Dison en 'n dogter Oholibama gehad.

26Dison se seuns was Gemdan, Esban, Jitran en Keran.

27Eser se seuns was Bilhan, Saäwan en Akan.

28Disan se seuns was Us en Aran.

29Die stamhoofde van die Goriete was Lotan, Sobal, Sibon, Ana, 30Dison, Eser en Disan.

Dit is die Goritiese stamhoofde uit hulle families in Seïr.

Die konings van Edom

(Vgl. 1 Kron. 1:43-50)

31Daar het al konings oor Edom geregeer nog voor daar konings oor Israel geregeer het. Hier volg hulle name.

32Bela seun van Beor het in die stad Dinhaba oor Edom geregeer. 33Na sy dood het Jobab seun van Serag geregeer. Hy was afkomstig uit Bosra. 34Na sy dood het Gusam geregeer. Hy was afkomstig uit die wêreld van die Temaniete. 35Na sy dood het Hadad seun van Bedad in die stad Awit geregeer. Hadad het die Midianiete verslaan in die gebied van Moab. 36Na sy dood het Samla geregeer. Hy was afkomstig uit Masreka. 37Na sy dood het Saul geregeer. Hy was afkomstig uit Regobot-aan-die-Rivier. 38Na sy dood het Baäl-Ganan seun van Akbor geregeer. 39Na sy dood het Hadar in die stad Paü geregeer. Sy vrou was Mehetabel dogter van Matred, dogter van Me-Sahab.

Stamhoofde van Esau

(Vgl. 1 Kron. 1:51-54)

40Dit is die stamhoofde van Esau volgens hulle families en hulle woonplekke. Hulle was Timna, Alwa, Jetet, 41Oholibama, Ela, Pinon, 42Kenas, Teman, Mibsar, 43Magdiël en Iram. Dit is die name van die stamhoofde van Edom volgens hulle woonplekke in die land waar hulle besittings gehad het. Esau was die voorvader van Edom.

Jesus word gevange geneem

(Matt. 26:47-56; Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53)

1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was 'n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.

“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.

Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”

En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas

12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer

(Matt. 26:69-70; Mark. 14:66-68; Luk. 22:55-57)

15Simon Petrus en 'n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”

“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus

(Matt. 26:59-66; 27:1; Mark. 14:55-64; 15:1; Luk. 22:66-71)

19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer

(Matt. 26:71-75; Mark. 14:69-72; Luk. 22:58-62)

25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”

Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar 'n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus

(Matt. 27:2,11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5,13-19)

28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”

Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie 'n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel 'n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was 'n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word

(Matt. 27:22-31; Mark. 15:12-20; Luk. 23:20-25)

1Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. 2Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”

Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”

Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”

Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig

(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)

17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:

“Hulle het my klere

onder mekaar verdeel,

en vir my kleed het hulle geloot.”

Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe

(Matt. 27:45-56; Mark. 15:33-41; Luk. 23:44-49)

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe 'n spons vol suur wyn op 'n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Jesus word begrawe

(Matt. 27:57-61; Mark. 15:42-47; Luk. 23:50-56)

38Hierna het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat 'n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS