Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 8

Genesis 25–28, Johannes 14–16

Bybelteks(te)

Abraham trou weer

1Abraham het weer getrou, met Ketura. 2Sy het vir hom in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. 3Joksan was die vader van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was die nasate van Dedan. 4Die seuns van Midian was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense het van Ketura afgestam.

5Abraham het alles wat hy nagelaat het, aan Isak laat toekom, 6maar terwyl Abraham nog geleef het, het hy geskenke aan die seuns van sy byvrouens gegee en die seuns weggestuur na Kedem toe in die ooste, weg van Isak af.

Abraham sterf

7-8Abraham het op hoë ouderdom gesterf. Hy het honderd vyf en sewentig jaar oud geword en was 'n grysaard met 'n vol lewe agter die rug toe hy gesterf het. 9Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpelagrot oos van Mamre op die stuk grond wat vroeër behoort het aan die Hetiet Efron seun van Sogar. 10Abraham het hierdie stuk grond by die Hetiete gekoop, en hy en sy vrou Sara is albei daar begrawe.

11Na Abraham se dood het die Here Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.

Ismael se nageslag

12Hier volg besonderhede oor die nageslag van Abraham se seun Ismael wat deur Hagar, die Egiptiese slavin van Sara, vir Abraham in die wêreld gebring is. 13In volgorde van hulle geboorte was Ismael se seuns: Nebajot, Kedar, Adbeël, Mibsam, 14Misma, Duma, Massa, 15Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16Die name van hierdie seuns van Ismael is ook gegee aan hulle nedersettings en blyplekke. Hulle was die twaalf leiers van hulle stamme.

17Ismael was honderd sewe en dertig jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is. 18Sy nageslag het gewoon in die gebied van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte in die rigting van Assur, en hulle het met al Ismael se broerskinders oorlog gemaak.

Die tweeling Esau en Jakob

19Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham:

Abraham was Isak se pa, 20en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. Sy was die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, en 'n suster van Laban die Arameër. 21Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy vrou Rebekka het swanger geword. 22Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?”

Sy het toe die Here gaan raadpleeg, 23en Hy het vir haar gesê:

“Daar is twee nasies in jou,

twee volke uit jou sal van mekaar geskei word.

Een sal sterker wees as die ander,

die oudste sal die jongste dien.”

24Toe Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. 25Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos 'n veljas, en hy is Esau genoem. 26Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe hulle gebore is. 27Die seuns het grootgeword. Esau was 'n ervare jagter, 'n man van die veld; Jakob was 'n rustige mens, hy het tuis gebly.

28Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek.

29Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan 30en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!”

Daarom is hy Edom genoem.

31Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”

32Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?”

33Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.”

Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. 34Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap.

Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.

Isak en Abimelek

1Na die eerste hongersnood vroeër in Abraham se tyd was daar weer 'n hongersnood in die land. Isak het toe na Gerar toe getrek, na koning Abimelek van die Filistyne toe. 2Die Here het aan Isak verskyn en vir hom gesê: “Moenie Egipte toe trek nie. Bly waar Ek jou sê: in hierdie land. 3Bly 'n tyd lank hier, en Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak. Ek gee hierdie hele wêreld aan jou en jou nageslag. Ek sal die belofte nakom wat Ek met 'n eed teenoor jou vader Abraham afgelê het. 4Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees, 5want Abraham het na My geluister en hy was gehoorsaam aan my bevel: my gebooie, my voorskrifte en my wette.”

6Isak het toe in Gerar gebly. 7Die mense daar het oor sy vrou begin uitvra, en hy het gesê: “Dit is my suster.”

Hy was bang om te sê dis sy vrou, want dan sou hulle hom dalk doodmaak oor Rebekka wat 'n baie mooi vrou was. 8Toe hy 'n lang ruk daar gebly het, het koning Abimelek van die Filistyne op 'n keer deur die venster gesien hoe Isak sy vrou Rebekka liefkoos. 9Abimelek het hom laat kom en vir hom gesê: “Maar sy is dan jou vrou! Hoekom het jy gesê sy is jou suster?”

Isak het geantwoord: “Ek het gedink ek kan dalk doodgemaak word oor haar.”

10Daarop sê Abimelek: “Wat het jy ons aangedoen! Hoe maklik kon een van die mans met jou vrou gemeenskap gehad het, en dan was jy die oorsaak dat ons sonde gedoen het.”

11Abimelek het toe al sy mense gewaarsku: “Wie hierdie man of sy vrou molesteer, sal doodgemaak word.”

12Isak het in daardie gebied gesaai, en daardie jaar het die saad honderdvoudig geskiet. Die Here het hom voorspoedig gemaak, 13en hy het 'n ryk man geword, hy het vooruitgegaan sodat hy later baie ryk was. 14Hy het troppe kleinvee en grootvee gehad en baie slawe. Toe het die Filistyne uit afguns 15al die putte wat die slawe van sy pa Abraham nog in dié se tyd gegrawe het, toegegooi en opgevul.

16Toe sê Abimelek vir Isak: “Trek weg van ons af. Jy het vir ons te sterk geword.”

17Hy is toe daar weg en hy het by Gerarspruit kamp opgeslaan en daar gebly. 18Isak het toe die putte oopgegrawe wat in sy pa Abraham se tyd gegrawe is en wat na Abraham se dood deur die Filistyne toegegooi is. Isak het die name wat sy pa aan die putte gegee het, weer aan hulle gegee. 19Isak se slawe het 'n put gegrawe in die spruit en sterk water gekry. 20Toe stry die skaapwagters van Gerar met dié van Isak en sê: “Dié water behoort aan ons.”

Isak het toe die put “Rusie” genoem, omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.

21Sy slawe het 'n ander put gegrawe, en ook daaroor het die Filistyne klagtes gehad, en toe noem Isak dit “Klagte”. 22Van daar af het hy versit en 'n ander put gegrawe, en hulle het nie daaroor gestry nie. Toe noem hy die put “Ruimte”, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees.”

23Van daar af het Isak na Berseba toe getrek, 24en die nag toe hy daar kom, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou 'n groot nageslag gee ter wille van my dienaar Abraham.” 25Isak het daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het 'n put gegrawe. 26Toe kom Abimelek uit Gerar saam met Agussat sy vertroueling en Pikol die bevelvoerder van sy leër na Isak toe, 27en Isak sê vir hulle: “Waarom kom julle na my toe? En dit nogal nadat julle my onvriendelik behandel het en my van julle af weggestuur het!”

28Hulle het geantwoord: “Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou. Ons wil onder eed 'n ooreenkoms met jou aangaan. Ons wil 'n verdrag met jou sluit 29dat jy ons nie sleg sal behandel nie, net soos ons jou nie benadeel het nie. Ons het net goed aan jou gedoen en jou sonder enige skade van ons af laat weggaan. Dit is so: jy word deur die Here geseën.”

30Isak het toe vir hulle 'n maaltyd klaargemaak en hulle het geëet. 31Die volgende môre het hulle vroeg klaargemaak en hulle en Isak het aan mekaar 'n belofte onder eed gemaak. Toe het Isak hulle laat gaan en is hulle in vrede van hom af weg. 32Daardie dag het Isak se slawe gekom en hom vertel van die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry.” 33Toe noem hy dit Seba en daarom is die naam van die stad nou nog Berseba.

34Toe Esau veertig was, het hy getrou met Jehudit dogter van Beëri, 'n Hetiet, en met Basemat dogter van Elon, 'n Hetiet. 35Hulle het baie kommer in Isak en Rebekka se lewe gebring.

Isak seën vir Jakob

1Toe Isak baie oud en al blind was, het hy sy oudste seun, Esau, geroep en vir hom gesê: “My seun!” en Esau het geantwoord: “Hier is ek!”

2Isak het vir hom gesê: “Kyk, ek is al oud en ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie. 3Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe en skiet vir my 'n stukkie wild. 4Kom maak dit dan vir my lekker gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my dat ek dit kan eet en jou kan seën voor ek sterf.”

5Rebekka het gehoor wat Isak met sy seun Esau praat en toe Esau veld toe is om te gaan jag, 6het sy met haar seun Jakob gepraat en vir hom gesê: “Luister, ek het gehoor jou pa praat met jou broer Esau. Hy het vir hom gesê: 7‘Gaan haal vir my 'n stukkie wild en maak dit vir my lekker gaar dat ek dit kan eet en ek jou dan in die teenwoordigheid van die Here kan seën voor ek sterf.’ 8Nou moet jy na my luister, my seun, en doen wat ek jou sê. 9Gaan na die kleinvee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan sal ek hulle lekker gaarmaak soos jou pa daarvan hou. 10Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf.”

11Toe sê Jakob vir sy ma Rebekka: “Maar my broer Esau is harig en ek is glad. 12Miskien sal Pa aan my voel en dan dink ek skeer die gek met hom, en so sal ek 'n vervloeking oor my bring en nie 'n seën nie.”

13Sy ma het vir hom gesê: “As daar 'n vervloeking is, sal dit oor my kom, my seun. Luister jy net na my en loop vang die bokkies vir my.”

14Hy het die bokkies gaan vang en vir sy ma gebring, en sy het hulle lekker voorberei soos sy pa daarvan hou. 15Toe vat Rebekka haar oudste seun Esau se beste klere wat sy by haar in die huis gehad het en trek dit vir haar jongste seun Jakob aan. 16Sy het die bokvelletjies om sy hande en om sy kaal nek vasgemaak 17en die lekkerny en die kos wat sy voorberei het, vir Jakob gegee. 18Hy het toe na sy pa toe ingegaan en gesê: “Pa!”

Toe sê hy: “Ja, watter seun is jy?”

19Jakob het sy pa geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste seun. Ek het gedoen wat Pa gesê het. Kom sit nou regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

20Maar Isak het vir hom gevra: “Hoe het jy dan die wild so gou gekry, my seun?” en Jakob het geantwoord: “Die Here u God het my dit laat raakloop.”

21Toe sê Isak vir Jakob: “Kom nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy my seun Esau is of nie.”

22Jakob het nader gegaan na sy pa Isak toe, en toe hy aan hom voel, sê hy: “Die stem, dis Jakob se stem, maar die hande, dis Esau se hande.”

23Isak het nie vir Jakob herken nie, want sy hande was harig soos sy broer Esau s'n. Isak het toe vir Jakob geseën. 24Isak het vir hom gesê: “Jy is tog my seun Esau!” en Jakob het gesê: “Ek is.”

25Toe sê Isak: “Gee die wild aan dat ek daarvan kan eet, my seun, en jou dan kan seën.”

Hy het dit vir hom aangegee en Isak het geëet, en Jakob het vir hom wyn gebring, en hy het dit gedrink.

26Isak het vir hom gesê: “Kom nader en soen my, my seun!”

27Hy het nader gekom en hom gesoen, en toe hy die reuk kry van die klere wat Jakob aanhet, het Isak hom geseën en gesê:

“Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk,

die veld wat deur die Here geseën is.

28God gee aan jou dou uit die hemel,

die rykdom van die aarde: koring en wyn in oorvloed.

29Volke sal jou dien, nasies sal voor jou buig;

oor jou familie sal jy heers, jou broers sal voor jou buig.

Wie 'n vervloeking oor jou uitspreek, sal self vervloek wees,

wie jou seën, sal geseën wees.”

30Toe Isak vir Jakob klaar geseën het, en hy nog skaars by sy pa Isak uit was, kom sy broer Esau terug van die jag af. 31Ook hý het 'n lekker ete voorberei en dit vir sy pa gevat. Esau het vir sy pa gesê: “Sit regop, Pa, en eet van Pa se seun se wildsvleis sodat Pa my dan kan seën.”

32Toe vra sy pa Isak: “Wie is jy?” en hy antwoord: “Pa se seun Esau, Pa se oudste.”

33Isak was toe baie ontsteld en hy vra: “Maar wie het dan die wild geskiet en vir my gebring? Ek het daarvan geëet net voor jy gekom het. Ek het hóm geseën, en hy sal geseën bly.”

34Toe Esau hoor wat sy pa sê, het hy hard en bitter begin skree en by sy pa gepleit: “Pa, seën my tog ook!”

35Maar Isak sê vir hom: “Jou broer het my kom bedrieg en toe het hy jou seën gevat.”

36Esau het geantwoord: “Hy word tereg Jakob genoem. Hy het my nou al twee keer bedrieg: hy het my reg as eersgeborene gevat en nou het hy my seën gevat.”

Toe vra Esau: “Het Pa nie nog 'n seën vir my ook nie?”

37Isak het vir hom gesê: “Ek het hom alreeds aangestel om oor jou te heers en ek het sy hele familie vir hom as onderdane gegee. Ek het hom van koring en wyn voorsien. Daar is niks wat ek vir jou kan doen nie, my seun.”

38Esau het toe vir sy pa gesê: “Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!”

Toe Esau daarna begin huil, 39sê sy pa Isak vir hom:

“Jou woonplek sal ver van die aarde se rykdom af wees,

en ook ver van die dou uit die hemel af.

40Jy sal van oorlog leef en jy sal jou broer dien,

maar as jy jou kans afwag, sal jy sy juk van jou nek afgooi.”

41Esau het vir Jakob gehaat oor die seën wat sy pa aan hom gegee het, en Esau het by homself gesê: “My pa se dood is nie meer ver nie, dan maak ek my broer Jakob dood.”

42Daar is aan Rebekka vertel wat haar oudste seun gesê het. Sy het toe haar jongste seun Jakob laat roep en vir hom gesê: “Pas op! Jou broer Esau is op wraak uit. Hy wil jou vermoor. 43Luister, my seun! Vlug Haran toe, na my broer Laban toe, 44en bly 'n ruk by hom tot jou broer se woede oor is. 45As sy bui oor jou gesak het en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het, sal ek stuur en jou daarvandaan laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”

Jakob vlug

46Rebekka het vir Isak gesê: “Ek is nou siek en sat van hierdie Hetitiese vrouens van Esau. As Jakob ook met Hetitiese meisies trou, met meisies soos hulle uit hierdie land, kan ek net so wel sterf.”

1Toe roep Isak vir Jakob en neem van hom afskeid en sê vir hom: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie. 2Gaan na Paddan-Aram toe, na die huis van jou ma se pa Betuel toe, en trou daar met 'n dogter van jou oom Laban. 3God die Almagtige sal jou seën: Hy sal jou vrugbaar maak en jou 'n groot nageslag gee. Jy sal 'n baie groot volk word. 4Hy sal jou die seën laat toekom wat Hy aan Abraham gegee het: jy en jou nageslag sal die land waarin jy woon, as besitting ontvang, die land wat God aan Abraham gegee het.”

5So het Isak toe vir Jakob weggestuur, en hy is na Paddan-Aram toe, tot by die Arameër Betuel se seun Laban, broer van Rebekka die ma van Jakob en Esau.

6Esau het te wete gekom dat Isak afskeid geneem het van Jakob en dat Isak hom na Paddan-Aram toe gestuur het om daar te gaan trou, want toe Isak vir Jakob gegroet het, het hy vir hom gesê: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie.”

7Toe Esau verneem dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram toe is, 8het Esau geweet dat sy pa Isak nie van die Kanaänitiese meisies gehou het nie. 9Daarom het Esau na Ismael toe gegaan, en by die vrouens wat hy gehad het, nog 'n vrou gevat: Magalat dogter van Ismael, Abraham se seun. Sy was die suster van Nebajot.

10Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. 11Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. 12Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. 13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

18Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. 19Hy het die plek Bet-El genoem. Die stad was voorheen bekend as Lus. 20Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: “As U, o God, by my is en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, 21sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees. 22Hierdie klippilaar wat ek regop gesit het, sal 'n tempel wees, en van alles wat U my gee, sal ek vir U 'n tiende gee.”

Jesus gaan na sy Vader toe

1“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”

9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

Die Heilige Gees sal by julle bly

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.

“Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.”

Die ware wingerdstok

1“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Julle moet mekaar liefhê

9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Die wêreld sal julle haat

18“As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. 19As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. 20Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem. 21Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

22“As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie. 23Wie My haat, haat ook my Vader. 24As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader. 25Maar die woorde wat in die Skrif geskrywe staan, moet vervul word: ‘Hulle het My sonder rede gehaat.’

26“Wanneer die Voorspraak kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”

Julle moet nie van My afvallig word nie

1“Hierdie dinge sê Ek vir julle sodat julle nie afvallig word nie. 2Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs 'n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys. 3En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie. 4Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.”

Die werk van die Heilige Gees

5“Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. 6Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. 7Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. 8En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. 9Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; 10die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; 11die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Julle droefheid sal in blydskap verander

16“Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.”

17Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? 18Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê.

19Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog 'n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer 'n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? 20Dit verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 21'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar 'n mens in die wêreld gekom het. 22Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. 23Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie.

“Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Ek het die wêreld oorwin

25“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. 26Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, 27want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.”

29Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. 30Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.”

31Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? 32Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS