Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 86

Lukas 1–6

Bybelteks(te)

'n Woord aan Teofilus

1Hooggeagte Teofilus!

Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. 2Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. 3Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. 4So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig

5In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. 6Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. 7Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.

8Op 'n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. 10Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. 11Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. 12Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, 15want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. 16Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. 17En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.”

18Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”

19Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. 20Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

21Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. 22Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel 'n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. 23Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.

24Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: 25“Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

Die geboorte van Jesus word aangekondig

26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na 'n maagd in Nasaret, 'n dorp in Galilea. 27Sy was verloof aan Josef, 'n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

34Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?”

35Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36Kyk, 'n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook 'n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37Niks is vir God onmoontlik nie.”

38Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Toe het die engel van haar af weggegaan.

Maria besoek Elisabet

39Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hard uitgeroep:

“Geseënd is jy onder die vroue

en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

43Waaraan het ek dit te danke

dat die moeder van my Here

na my toe kom?

44Kyk, net toe die geluid van jou groet

in my ore klink,

het die kindjie in my van vreugde beweeg.

45Gelukkig is sy wat glo

dat in vervulling sal gaan

wat die Here vir haar gesê het!”

Die loflied van Maria

46En Maria het gesê:

“Ek besing die grootheid van die Here,

47ek juig oor God, my Verlosser,

48omdat Hy na my

in my geringheid omgesien het.

Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,

49omdat Hy wat magtig is,

groot dinge aan my gedoen het.

Heilig is sy Naam!

50Hy bewys ontferming

van geslag tot geslag

aan dié wat Hom eer.

51Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:

hoogmoediges in hulle eiewaan

het Hy uitmekaargejaag;

52maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;

53behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes

en rykes met leë hande weggestuur.

54Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom

deur te dink aan sy beloftes van ontferming

55soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,

aan Abraham en sy nageslag

tot in ewigheid.”

56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Johannes die Doper

57Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. 58Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.

59Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. 60Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”

61Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”

62Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. 63Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. 64Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.

65Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. 66Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”

Dit was duidelik dat die Here by hom was.

Die loflied van Sagaria

67Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:

68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,

want Hy het sy volk in genade opgesoek

en vir hulle verlossing bewerk.

69'n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan

uit die huis van sy dienaar Dawid.

70So het die Here dit reeds

van oudsher belowe

deur die mond van sy heilige profete:

71om ons te verlos van ons vyande

en uit die hand van al ons haters;

72om Hom te ontferm oor ons voorvaders

en sy heilige verbond te onthou.

73Met 'n eed het Hy dit bevestig

aan ons voorvader Abraham

dat Hy sou gee dat ons,

74gered uit die hand van vyande,

Hom onbevrees kan dien

75in vroomheid en opregtheid

al die dae van ons lewe.

76“En jy, kindjie,

'n profeet van die Allerhoogste

sal jy genoem word,

want jy sal voor die Here uit gaan

om sy pad gereed te maak,

77om kennis van verlossing

aan sy volk mee te deel:

verlossing deur vergifnis van hulle sondes,

78danksy die genadige ontferming van ons God.

Soos die môreson sal Hy opgaan

en uit die hoogte op ons afstraal,

79om lig te bring aan dié wat in duisternis

en in die skaduwee van die dood lewe,

om ons voetstappe te rig

op die pad van vrede.”

80Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

Die geboorte van Jesus

(Matt. 1:18-25)

1In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die skaapwagters en die engele

8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.”

13Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

14“Eer aan God in die hoogste hemel,

en vrede op aarde

vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!”

15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Besnydenis, afsondering, reiniging

21Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.

22Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. 23In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” 24Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”

Simeon en Anna by die tempel

25Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:

29“Here, laat u dienaar nou

in vrede gaan volgens u woord,

30omdat my oë u verlossing gesien het

31wat U gereed gemaak het

voor die oë van al die volke:

32'n lig tot verligting van die nasies

en tot eer van u volk Israel.”

33Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.

34Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. 35So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”

36Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Die Kind Jesus by die tempel

41Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”

49Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

50Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.

51Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

Die prediking van Johannes die Doper

(Matt. 3:1-12; Mark. 1:1-8; Joh. 1:19-28)

1Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. 3Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 4So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja:

“Iemand roep in die woestyn:

Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word;

die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

7Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?”

Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. 20Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

Die doop van Jesus

(Matt. 3:13-17; Mark. 1:9-11)

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Die geslagsregister van Jesus

(Matt. 1:1-17)

23Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli, 24seun van Mattat, seun van Levi, seun van Melgi, seun van Jannai, seun van Josef, 25seun van Mattatias, seun van Amos, seun van Nahum, seun van Hesli, seun van Naggai, 26seun van Mahat, seun van Mattatias, seun van Semeïn, seun van Josek, seun van Joda, 27seun van Johanan, seun van Resa, seun van Serubbabel, seun van Sealtiël, seun van Neri, 28seun van Melgi, seun van Addi, seun van Kosam, seun van Elmadam, seun van Er, 29seun van Josua, seun van Eliëser, seun van Jorim, seun van Mattat, seun van Levi, 30seun van Simeon, seun van Juda, seun van Josef, seun van Jonam, seun van Eljakim, 31seun van Melea, seun van Menna, seun van Mattata, seun van Natan, seun van Dawid, 32seun van Isai, seun van Obed, seun van Boas, seun van Sala, seun van Nagson, 33seun van Amminadab, seun van Admin, seun van Arni, seun van Gesron, seun van Peres, seun van Juda, 34seun van Jakob, seun van Isak, seun van Abraham, seun van Tera, seun van Nahor, 35seun van Serug, seun van Rehu, seun van Peleg, seun van Heber, seun van Sala, 36seun van Kenan, seun van Arpagsad, seun van Sem, seun van Noag, seun van Lameg, 37seun van Metusalag, seun van Henog, seun van Jered, seun van Mahalalel, seun van Kenan, 38seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.

Die versoeking van Jesus

(Matt. 4:1-11; Mark. 1:12-13)

1Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was.

3Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.”

4Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie.

5Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. 6Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 7Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”

8Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe:

“Die Here jou God moet jy aanbid

en Hom alleen dien.

9Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: 10“As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe:

“Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm,

11“en ook:

“Op hulle hande sal hulle jou dra

sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.

12Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.

13Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat.

Jesus in Galilea

(Matt. 4:12-17; Mark. 1:14-15)

14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.

Jesus word uit Nasaret verdryf

(Matt. 13:53-58; Mark. 6:1-6)

16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:

18“Die Gees van die Here is op My

omdat Hy My gesalf het

om die evangelie aan armes te verkondig.

Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur,

19om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’ 24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar 'n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Die besetene in Kapernaum

(Mark. 1:21-28)

31Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer. 32Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.

33In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu: 34“Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!”

35Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!”

En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. 36Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?”

37En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder

(Matt. 8:14-17; Mark. 1:29-34)

38Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. 39Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

40Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. 41Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is.

Jesus verlaat Kapernaum

(Mark. 1:35-39)

42Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie. 43Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook aan die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”

44En Hy het voortgegaan om in die sinagoges van die Joodse land te preek.

Die roeping van die eerste dissipels

(Matt. 4:18-22; Mark. 1:16-20)

1Op 'n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 3Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit 'n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

4Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.”

5“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

6En toe hulle dit doen, het hulle so 'n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.”

9Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”

11En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

Die genesing van 'n melaatse

(Matt. 8:1-4; Mark. 1:40-45)

12Eendag toe Jesus in een van die dorpe was, kom Hy 'n man teë wat oortrek was van die melaatsheid. Toe die man Hom sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

13Jesus steek sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!”

En sy melaatsheid was onmiddellik weg.

14Toe gee Jesus hom opdrag: “Moet dit aan niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring offers vir jou reiniging soos Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

15Tog het die nuus oor Hom nog verder versprei, en groot menigtes het saamgedrom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. 16Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.

'n Verlamde man word gesond gemaak

(Matt. 9:1-8; Mark. 2:1-12)

17Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak.

18Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. 19Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. 20Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

21Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?”

22Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? 23Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 24Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.”

Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

25Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan. 26Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”

Die roeping van Levi

(Matt. 9:9-13; Mark. 2:13-17)

27Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.”

28Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg.

29Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. 30Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 32Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

Wat dit beteken om te vas

(Matt. 9:14-17; Mark. 2:18-22)

33Die mense sê toe vir Jesus: “Die volgelinge van Johannes vas dikwels en onderhou gereelde gebedstye, en so ook die volgelinge van die Fariseërs, en u dissipels eet en drink maar.”

34Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is? 35Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word en dan, in daardie dae, sal hulle vas.”

36Hy vertel hulle ook nog 'n gelykenis: “Niemand skeur 'n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie. As hy dit sou doen, sou die nuwe klere stukkend wees, en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.

37“En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen. 38Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.

39“En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”

Jesus is Here oor die sabbat

(Matt. 12:1-8; Mark. 2:23-28)

1Eenkeer het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en dit met die hande uitgevrywe en geëet. 2Toe sê 'n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?”

3Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie? 4Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie.”

5Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.”

Die man met die gebreklike hand

(Matt. 12:9-14; Mark. 3:1-6)

6Op 'n ander sabbatdag het Jesus weer in die sinagoge ingegaan en die mense geleer. Daar was 'n man met 'n gebreklike regterhand. 7Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die sabbatdag iemand sou gesond maak sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon kry. 8Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Staan op en kom staan hier in die middel.” En hy het daar kom staan.

9Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag 'n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

10Nadat Hy almal rondom Hom aangekyk het, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.”

11Hy het dit gedoen, en sy hand was gesond. Maar hulle het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen.

Jesus kies twaalf apostels

(Matt. 10:1-4; Mark. 3:13-19)

12In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. 13Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. 14Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, 15Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, 16en Judas Iskariot wat die verraaier geword het.

Weldade aan baie mense

(Matt. 4:23-25; Mark. 3:7-12)

17Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense 18wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. 19Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het.

Seën en ellende

(Matt. 5:1-12)

20Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê:

“Geseënd is julle wat arm is,

want aan julle behoort die koninkryk van God.

21Geseënd is julle wat nou honger het,

want julle sal versadig word.

Geseënd is julle wat nou huil,

want julle sal lag.

22Geseënd is julle wanneer die mense julle haat

en julle verstoot en uitskel

en julle naam vermy soos iets wat sleg is,

alles ter wille van

die Seun van die mens.

23Wees bly op daardie dag

en spring rond van vreugde,

want vir julle is daar

groot beloning in die hemel.

Hulle voorvaders het immers

met die profete net so gemaak.

24“Maar ellende wag vir julle wat ryk is,

want julle het julle lekker lewe al weg.

25Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet,

want julle sal honger ly.

Ellende wag vir julle wat nou lag,

want julle sal treur en huil.

26Ellende wag vir julle

as al die mense goed van julle praat.

Hulle voorvaders het immers

met die vals profete net so gemaak.”

Liefde vir die vyand

(Matt. 5:38-48; 7:12a)

27“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; 28seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. 29As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. 30Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. 31Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

32“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. 33En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. 34En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. 35Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. 36Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Moenie oordeel nie

(Matt. 7:1-5)

37“Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie.

Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie.

Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.

38Gee, en vir julle sal gegee word:

'n goeie maat,

ingestamp, geskud en propvol,

sal hulle in julle hande gee.

Met die maat waarmee julle meet,

sal ook vir julle gemeet word.”

39Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie? 40'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.

41“Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 42Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.”

'n Boom word aan sy vrugte geken

(Matt. 7:17-20; 12:34b-35)

43“Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. 44Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. 45Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”

Twee fondamente

(Matt. 7:24-27)

46“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? 47Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: 48Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou. 49Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS