Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 85

Miga 1–7

Bybelteks(te)

1Die woord van die Here wat gekom het tot Miga van Moreset tydens die regering van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia. Dit handel oor Samaria en Jerusalem.

Die Here wil teen julle getuig

2Luister, alle volke!

Gee aandag, aarde met al jou bewoners!

Die Here my God wil teen julle getuig,

die Here wil uit sy heilige tempel getuig.

3Die Here kom uit sy woonplek uit,

Hy kom af,

Hy kom oor die hoë plekke van die aarde.

4Berge smelt weg onder Hom,

laagtes skeur oop.

Soos was in vuur smelt, so smelt die berge,

hulle loop teen die hellings af soos water.

5Dit alles gebeur oor die sonde van Jakob,

oor die oortredings van die volk Israel.

Wat is die sonde van Jakob?

Samaria!

Wat is Juda se afgodshoogte?

Jerusalem!

6Daarom sal Ek Samaria 'n puinhoop in die oop veld maak,

'n plek om wingerde te plant.

Ek sal sy bouklip in die laagte afgooi,

sy fondamente oopgrawe.

7Al sy afgodsbeelde sal stukkend geslaan word,

sy verdienste uit prostitusie sal verbrand word.

Ek sal al sy afgode vernietig,

want hy het hulle bymekaargemaak

met sy verdienste uit prostitusie.

Hulle sal die pad gaan van verdienste uit prostitusie.

8Daarom sal ek rou en huil,

sal ek kaalvoet en sonder klere rondloop.

Ek sal skreeu soos 'n jakkals,

klaag soos 'n volstruis.

9Samaria se sweer is ongeneeslik,

dit het gesprei tot by Juda:

dit raak al aan my volk se stadspoort,

aan Jerusalem.

10Moet dit nie in Gat vertel nie,

moenie daaroor huil nie,

gaan rol liewer in die stof in Bet-Leafra.

11Gee pad, jy wat in Safir woon,

jy is kaal uitgetrek.

Jy wat woon in Saänan, kan nie uitkom nie,

die mense van Bet-Esel treur,

hy kan julle nie meer help nie.

12Jy wat in Marot woon, is siek van angs,

daar het onheil van die Here af gekom

tot by die poorte van Jerusalem.

13Span die perde voor die strydwa,

jy wat in Lakis woon!

In Lakis het die sonde van Sion begin,

die oortredings van Israel is daar gevind.

14Daarom is 'n trougeskenk aan Moreset-Gat gegee.

Die huise van Aksib is 'n teleurstelling

vir die konings van Israel.

15Jy wat in Maresa woon,

die Here laat een wat verower, na jou toe kom.

Die trots van Israel sal tot by Adullam kom.

16Skeer 'n kaal kol op jou kop,

skeer 'n kaal kol op jou kop soos dié van 'n aasvoël,

want dié oor wie jy bly is,

sal van jou af in ballingskap weggevoer word.

Ek beplan onheil teen hierdie mense

1Ellende wag vir julle

wat rampe teen ander beplan,

wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen,

wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer

omdat hulle die mag in die hande het.

2Hulle begeer 'n stuk grond en vat dit,

huise, en lê beslag daarop.

Hulle kul 'n man uit sy huis uit,

'n mens uit sy besitting uit.

3Daarom, so sê die Here:

Ek beplan 'n ramp teen hierdie mense,

hulle sal dit nie kan ontwyk nie.

Hulle sal nie meer regop kan loop nie,

want dit sal 'n tyd van swaarkry wees.

4Daardie dag sal hulle 'n spotlied oor jou maak,

hulle sal 'n klaaglied sing en sê:

“Ons is geheel en al vernietig,

my volk se besitting is opgedeel,

dit is van ons afgevat,

ons land is onder verraaiers verdeel.”

5Daarom sal jy nie meer iemand in die gemeente van die Here hê

om jou land te verdeel nie.

6Dié wat maak of hulle profete is, sê:

“Moenie jý 'n profeet probeer wees nie,

moenie oor dié dinge praat nie.

Daar sal nie ellende oor ons kom nie.”

7Volk van Jakob, moet daar gevra word:

“Is die Gees van die Here kwaad?

Doen Hy sulke dinge?”

Belowe Ek nie goeie dinge

vir dié wat opreg lewe nie?

8My volk het in die afgelope tyd 'n vyand geword

en in opstand gekom;

julle stroop die mooi klere af

van dié wat houtgerus by julle verbystap

soos soldate van die slagveld af.

9Julle jaag die vrouens van my volk

uit hulle gerieflike huise uit,

julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het,

van hulle kinders af weg.

10Maak klaar, gee pad!

Dit is nie julle blyplek nie,

want dit is onrein en verwoes,

onherstelbaar verwoes!

11Wanneer 'n rondloper, 'n bedrieër lieg en sê:

“As profeet beloof ek aan julle wyn en bier,”

sal hy vir hierdie volk dié profeet wees.

Die Here sal voor hulle wees

12Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob,

Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het,

Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal,

soos 'n groot kudde in die weiveld,

die wêreld sal dreun van mense.

13Een wat uitbreek, sal hulle lei,

hulle sal uitbreek en deur die poort gaan,

hulle sal daar uitgaan,

hulle Koning sal voor hulle uitgaan,

die Here sal voor hulle wees.

Teen die slegte leiers

1Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob,

regeerders van Israel!

Weet julle nie wat reg is nie?

2Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet,

julle wat die mense se vel van hulle afskeur,

die vleis van hulle bene af,

3wat my volk opeet asof hulle vleis is,

hulle vel afstroop

en hulle bene opkap,

wat hulle opsny vir die kookpot,

soos vleis vir die braaipan.

4Wanneer hulle tot die Here roep,

sal Hy hulle nie antwoord nie.

Dan sal Hy Hom nie aan hulle openbaar nie,

want hulle het baie verkeerd gehandel.

5So sê die Here oor die profete wat my volk verlei,

die profete wat van vrede praat so lank hulle kos kry,

en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar:

6Daar is vir julle net nag, nie 'n gesig nie,

donkerte, nie 'n voorspelling nie.

Die son sal ondergaan vir hierdie profete,

die dag sal pikdonker word oor hulle.

7Die sieners sal teleurgestel staan,

die voorspellers sal bedroë daarvan afkom.

Hulle sal almal treur en hulle baard bedek as teken van rou,

want God sal nie antwoord nie.

8Ek, daarenteen, het baie krag,

ek het die Gees van die Here, 'n sin vir reg

en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak,

aan Israel sy oortreding.

9Luister hierna, leiers van Jakob,

regeerders van Israel,

julle wat die regspraak minag

en alles verdraai,

10julle wat vir Sion met moord gebou het

en Jerusalem met onreg:

11Jou leiers lewer uitspraak vir omkoopgeld,

jou priesters gee onderrig teen salaris,

jou profete maak voorspellings teen betaling,

en tog verwag hulle hulp van die Here!

Hulle sê: “Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

12Daarom is dit julle skuld

dat Sion soos 'n stuk land geploeg sal word,

dat Jerusalem 'n puinhoop sal word,

dat die tempelberg 'n hoogte vol bossies sal word.

Uit Sion kom die openbaring

1Daar kom 'n tyd dat die berg

waarop die huis van die Here is,

'n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe

en sal uitstaan bo die heuwels.

Die volke sal daarheen stroom,

2baie nasies sal daarnatoe gaan en sê:

“Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe,

na die huis van die God van Jakob

sodat Hy ons sy wil kan leer

en ons daarvolgens kan lewe,

want uit Sion kom die openbaring,

uit Jerusalem die woord van die Here.”

3Hy sal oordeel tussen baie volke,

regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon.

Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee

en van hulle spiese snoeiskêre.

Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie,

en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.

4Elke man sal onder sy eie wingerd sit,

ongesteurd onder sy vyeboom.

Die Here die Almagtige het dit gesê.

5Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god,

ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.

6Daardie dag, sê die Here,

sal Ek dié wat kreupel is, bymekaarmaak,

sal Ek dié wat verstrooi is, vergader,

en ook dié wat Ek met rampe getref het.

7Ek sal die kreupeles die oorblyfsel maak,

die siekes 'n sterk nasie.

Ek, die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers,

nou en vir altyd.

Hulle ken nie die plan van die Here nie

8Verlate vesting, Sionsheuwel,

die beloftes aan jou sal vervul word:

jy sal weer heers soos voorheen,

Jerusalem sal weer die hoofstad wees.

9Waarom skreeu jy so hard?

Het jy nie 'n koning nie?

Het jou raadgewer omgekom

dat kraampyne jou oorval het?

10Krul van die pyn, Sion, kry geboortepyne

soos 'n vrou in kraam!

Jy moet nou die stad verlaat,

jy moet in die oop veld gaan woon

en na Babel toe gaan.

Daar sal jy gered word,

daar sal die Here jou verlos uit die mag van jou vyande.

11Nou moet baie nasies nog eers teen jou saamstaan,

hulle sê:

“Ons sal toekyk hoe Sion verontreinig word.”

12Maar hulle ken nie die plan van die Here nie;

hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie:

Hy het hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargebring.

13Maak klaar en dors die gerwe, Sion!

Ek maak jou sterk:

Ek gee vir jou bronskloue

sodat jy baie nasies kan vermorsel.

Jy sal aan die Here wy wat hulle buitgemaak het,

al hulle besittings aan die Koning van die hele wêreld.

14Jy is nou vasgevang, rowerstad!

Ons word beleër!

Die vyand sal die koning van Israel

met 'n kierie op die kakebeen slaan.

1Maar jy, Betlehem-Efrata,

jy is klein onder die families in Juda,

maar uit jou sal daar iemand kom

wat aan My behoort

en hy sal in Israel regeer.

Sy begin lê ver terug,

in die gryse verlede!

2Hy sal sy mense 'n kort rukkie prysgee,

so lank as dit 'n vrou neem om 'n kind in die wêreld te bring.

Dan sal dié uit sy familie wat die ramp oorleef het,

terugkom na die Israeliete toe.

3Hy sal na vore kom en sy volk lei

deur die krag wat die Here hom gee,

deur die sterkte van die Naam van die Here sy God.

Hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde,

want hulle leier sal sterk wees.

4Hy sal vrede bring.

Wanneer Assirië ons land binneval,

wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,

sal ons baie leiers,

genoeg generaals, teen hom uitstuur.

5Hulle sal Assirië platloop met die swaard,

die land van Nimrod met swaarde

wat reg is om te steek.

Die regeerder uit Betlehem sal ons red

uit die mag van Assirië

wanneer Assirië ons land binneval,

wanneer hy ons gebied binnekom.

6Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees,

hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom,

soos stortreëns op groen gras

wat nie vir 'n mens wag nie,

nie na mense kyk nie.

7Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen die nasies wees,

tussen baie volke,

hulle sal daar wees soos 'n leeu tussen wild

of tussen 'n trop skape:

hy verskeur as hy tussen hulle deurstap,

hy vang sy prooi,

en niemand kan dit uit sy bek ruk nie.

8Mag jy jou teenstanders oorweldig, Israel,

mag al jou vyande uitgeroei word!

9Daardie dag, sê die Here,

sal Ek jou perde uitroei,

jou strydwaens vernietig.

10Ek sal die stede van jou land vernietig,

al jou vestingstede afbreek.

11Ek sal jou toorgoed wegvat uit jou hand,

daar sal nie meer waarsêery by jou wees nie.

12Ek sal jou afgodsbeelde vernietig,

jou klippilare by jou afbreek.

Jy sal nie meer jou handewerk aanbid nie.

13Ek sal jou gewyde pale uitruk,

jou stede verwoes.

14In my toorn en gramskap

sal Ek die nasies straf

wat nie na My luister nie.

1Hoor wat die Here sê:

Maak klaar, roep die berge as getuie,

laat die heuwels hoor wat jy te sê het.

2Berge, vaste fondamente van die aarde,

julle moet luister na die saak wat die Here het.

Die Here het 'n saak teen sy volk,

Hy het Israel aangekla.

3My volk, wat het Ek jou aangedoen?

Hoe het Ek jou moeg gemaak?

Antwoord My!

4Ek het jou uit Egipte gebring,

Ek het jou uit die plek van slawerny gered,

Ek het vir Moses gestuur om jou te lei,

ook vir Aäron en Mirjam.

5My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab,

en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het.

Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal,

en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.

6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan,

as ek voor die hoë God gaan kniel?

Moet ek met offers na Hom toe gaan,

met jaaroud kalwers?

7Sal die Here duisende ramme aanvaar

saam met tienduisende offers van olie?

Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde,

hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

8Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:

Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,

dat jy liefde en trou sal bewys,

dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

9Om die Here te dien, dit is wysheid.

Die Here roep die stad;

luister, leier en julle almal wat aanhou roof:

10Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra,

of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat?

11Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek,

een met 'n sak vol vals gewigte?

12Die stad se ryk mense pleeg geweld,

sy inwoners lieg en hulle bedrieg.

13Daarom het Ek jou begin straf;

Ek het jou begin verwoes oor jou sondes.

14Jy sal eet en nie genoeg kry nie;

jy sal honger bly.

Jy sal geboortepyne hê,

maar nie 'n kind in die wêreld bring nie.

En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring,

gee Ek hom vir die swaard.

15Jy sal saai, maar nie oes nie,

jy sal olywe pars, maar jou nie met olie insmeer nie,

jy sal druiwe pars, maar nie wyn drink nie.

16Jy het Omri se reëlings nagekom,

gedoen wat Agab gedoen het,

hulle raad gevolg.

Daarom sal Ek jou verwoes,

Ek sal jou inwoners 'n bespotting maak.

Jy sal my volk se vernedering moet dra.

Maar ek sal vertrou op die Here

1Ellende wag vir my,

ek het geword soos 'n land wat afgeoes is,

soos die natrossies in die wingerd.

Daar is niks om te eet nie,

en ek wou graag voorvye gehad het.

2Daar is nie meer 'n gelowige in die land nie,

onder die mense kry jy nie 'n opregte nie,

almal stel strikke om moord te pleeg,

hulle maak met vangnette jag op hulle broers.

3Al wat die regeerder vra,

is dat hulle goed moet sondig;

die regter vra omkoopgeld,

die vername praat net oor wat hy begeer.

Hulle verdraai alles.

4Die beste onder hulle is soos 'n gifplant,

die opregte erger as 'n doringheining.

Die dag van jou straf kom,

wees op die uitkyk daarvoor!

Hulle sal binnekort in verwarring raak.

5Moenie 'n maat vertrou nie,

moenie op 'n vriend staatmaak nie,

pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.

6Die seun beledig sy pa,

die dogter kom in opstand teen haar ma,

die skoondogter teen haar skoonma.

'n Man se huismense het sy vyande geword.

7Maar ek sal vertrou op die Here,

ek sal wag vir die God wat my red.

My God sal my gebed verhoor.

8Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand,

al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan,

al sit ek in die donker, die Here is my lig.

9Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn,

want ek het teen Hom gesondig.

Wanneer Hy my saak verhoor

en oor my uitspraak lewer,

sal Hy weer lig bring in my lewe,

sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee.

10My vyand sal dit sien,

hy sal deur skaamte oorval word,

hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?”

Ek sal op my vyand neersien,

hy sal plat getrap word soos modder op die straat.

U bly nie vir altyd kwaad nie

11Die dag wanneer jou mure herbou word,

dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie.

12Dié dag sal hulle na jou toe kom

van Assirië af tot by die vestingstede,

van die vestingstad af tot by die Eufraat,

van die een see af tot by die ander

en van die een berg af tot by die ander.

13Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners,

oor alles wat hulle gedoen het.

14Pas jou volk op met jou kierie,

die kleinvee wat aan jou behoort,

wat alleen wei in die Karmelbos.

Hulle sal in Basan en Gilead wei soos lank gelede.

15Ek sal jou wonders laat sien

soos in die tyd toe jy uit Egipte getrek het.

16Die nasies sal dit sien en teleurgestel staan,

al was hulle ook hoe sterk.

Hulle sal stilbly, hulle sal hulle doof hou.

17Hulle sal stof eet soos die slange

wat op die grond seil,

hulle sal bewe

en uit hulle wegkruipplekke uitkom na die Here ons God toe.

Hulle sal skrik en vir U bang wees.

18Wie is 'n God soos U?

U vergewe sonde,

U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie.

U bly nie vir altyd kwaad nie,

U betoon liefde.

19Hy sal ons weer genade betoon,

Hy sal ons sonde tot niet maak,

U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.

20U sal getrou wees teenoor Jakob,

liefde betoon aan Abraham,

soos U in die voortyd aan ons voorvaders

met 'n eed beloof het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS