Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 87

Lukas 7–12

Bybelteks(te)

Die genesing van die offisier se slaaf

(Matt. 8:5-13; vgl. Joh. 4:43-54)

1Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan.

2'n Offisier daar het 'n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. 3Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe 'n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. 4Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, 5want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.”

6Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier 'n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net 'n woord, en my slaaf is gesond. 8Ek is self 'n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir 'n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

9Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.”

10En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond.

Die opwekking van 'n weduwee se seun by Nain

11Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan, 12en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. 13Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

14Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!”

15Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” 17Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.

Jesus en die vraag van Johannes die Doper

(Matt. 11:2-19)

18Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep 19en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

20Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?”

21Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. 22Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. 23En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

24Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 25Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise. 26Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. 27Dit is hy van wie daar geskrywe staan:

“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;

hy sal die pad vir jou regmaak.’

28“Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.”

29Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. 30Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie.

31Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? 32Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep:

“Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie!

Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!

33“Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ 34Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ 35Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Jesus by Simon, die Fariseër

36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem.

37'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie 38en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.”

40Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.”

“Meneer, sê dit maar!” antwoord hy.

41Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?”

43Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.”

“Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Vroue wat vir Jesus gesorg het

1In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.

Die twaalf was saam met Hom 2en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, 3en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.

Gelykenis van die saaier

(Matt. 13:1-9; Mark. 4:1-9)

4Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:

5“'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 6'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 7Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. 8Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”

Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Die doel van die gelykenisse

(Matt. 13:10-17; Mark. 4:10-12)

9Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is. 10Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat

“hulle kyk sonder om te sien

en hoor sonder om te verstaan.

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

(Matt. 13:18-23; Mark. 4:13-20)

11“Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. 12Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. 13Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net 'n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. 14Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. 15Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”

Die gelykenis van die lamp

(Mark. 4:21-25)

16“Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 17Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.

18“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”

Die moeder en die broers van Jesus

(Matt. 12:46-50; Mark. 3:31-35)

19Die moeder en die broers van Jesus het na Hom toe gekom, maar vanweë die gedrang kon hulle nie tot by Hom kom nie. 20Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan buite en wil met U praat.”

21Maar Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.”

Jesus maak die storm stil

(Matt. 8:23-27; Mark. 4:35-41)

22Op 'n dag het Jesus en sy dissipels in 'n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê: 23“Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”

Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. 'n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was. 24Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!”

Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. 25Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?”

Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”

'n Besetene word van bose geeste bevry

(Matt. 8:28-34; Mark. 5:1-20)

26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was 'n bose gees wat hom al baie keer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.

30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.

32Daar het 'n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.

34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”

Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.

Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing

(Matt. 9:18-26; Mark. 5:21-43)

40Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. 41Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, 42want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud.

Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. 43Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. 44Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: 45“Wie het My aangeraak?”

Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”

46Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”

47Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

49Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

50Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”

51Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma. 52Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”

53Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. 54Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”

55Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. 56Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.

Jesus stuur die twaalf uit

(Matt. 10:5-15; Mark. 6:7-13)

1Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. 2Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. 3Hy het vir hulle gesê:

“Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie. 4En as julle in 'n huis tuis gaan, bly dan in dieselfde huis totdat julle die reis voortsit. 5As daar mense is wat julle nie wil ontvang nie, moet julle van so 'n plek af weggaan en die stof van julle voete afskud as aanklag teen hulle.”

6Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.

Die onsekerheid van Herodes

(Matt. 14:1-12; Mark. 6:14-29)

7Herodes, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: “Johannes is uit die dood opgewek;” 8party: “Elia het verskyn,” en ander: “Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.”

9Maar Herodes het gesê: “Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?”

En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.

Die vermeerdering van die brood

(Matt. 14:13-21; Mark. 6:30-44; Joh. 6:1-14)

10Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. 11Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak.

12Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.”

13“Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle.

Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?”

14Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend.

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.”

15Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. 16Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. 17Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.

Die belydenis van Petrus. Die eerste lydensaankondiging

(Matt. 16:13-23; Mark. 8:27-33)

18Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

19Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.”

20“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.”

21Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel, 22“want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”

Om Jesus te volg

(Matt. 16:24-28; Mark. 8:34 – 9:1)

23Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, 24want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.

25“Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? 26Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. 27Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”

Die verheerliking op die berg

(Matt. 17:1-8; Mark. 9:2-8)

28Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. 29Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. 30Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. 31Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi.

32Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. 33Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”

Hy het nie geweet wat hy sê nie.

34Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. 35Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.”

36Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is.

Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie.

Jesus maak 'n seun gesond

(Matt. 17:14-18; Mark. 9:14-27)

37Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. 38Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 39'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. 40Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.”

41Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.”

42Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee. 43Almal was verslae oor die grootheid van God.

Jesus kondig die tweede keer sy dood en opstanding aan

(Matt. 17:22-23; Mark. 9:30-32)

44Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.”

45Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra.

Wie is die belangrikste?

(Matt. 18:1-5; Mark. 9:33-37)

46Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. 47Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan. 48Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”

Wie nie teen julle is nie, is vír julle

(Mark. 9:38-40; vgl. Matt. 12:30; Luk. 11:23)

49Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

50Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.”

'n Samaritaanse dorp wys Jesus af

51Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin 52en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. 53Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was.

54Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?”

55Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. 56Daarna het hulle die reis voortgesit na 'n ander dorp toe.

Hoe Jesus gevolg moet word

(Matt. 8:19-22)

57Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.”

58Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”

59Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.”

Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.”

60Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.”

61Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.”

62Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

Die sending van die twee en sewentig

(Vgl. Matt. 11:20-24)

1Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

4“Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ 6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ 10Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ 12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!

16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

Die terugkoms van die twee en sewentig

17Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”

18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”

Die blydskap van Jesus

(Matt. 11:25-27; 13:16-17)

21By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

22“My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.”

23Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien, 24want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”

Die barmhartige Samaritaan

(Matt. 22:34-40; Mark. 12:28-34)

25Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na 'n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Op besoek by Marta en Maria

38Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Onderrig oor die gebed

(Matt. 6:9-15; 7:7-11)

1Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”

2En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:

“Vader, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom.

3Gee ons elke dag ons daaglikse brood;

4en vergeef ons ons sondes,

want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie.”

5Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ 8Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.

9“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? 12Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? 13As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Jesus en Beëlsebul

(Matt. 12:22-30; Mark. 3:20-27)

14Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder, 15maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.” 16Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra.

17Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar. 18As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul. 19As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is. 20Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

21“Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig. 22Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit.

23“Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”

Die terugkoms van die onrein gees

(Matt. 12:43-45)

24“Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ 25Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. 26Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin.”

Die ware geluk

27Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het 'n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: “Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!”

28Maar Hy sê: “Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”

Die teken van Jona

(Matt. 12:38-42; Mark. 8:12)

29Toe die mense aanhou saamdrom, het Jesus hulle begin toespreek en gesê: “Die mense van hierdie tyd is 'n verdorwe geslag. Hulle vra 'n wonderteken, maar daar sal geen teken aan hulle gegee word nie behalwe die teken van Jona. 30Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag. 31Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo! 32Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!”

Die lig van die liggaam

(Matt. 5:15; 6:22-23)

33“'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 34Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. 35Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. 36As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”

Jesus bestraf die Fariseërs en die wetgeleerdes

(Matt. 23:1-36; Mark. 12:38-40; Luk. 20:45-47)

37Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 38Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. 39Maar die Here sê vir hom:

“Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. 40Julle dwase! Het Hy wat die buitekant gemaak het, nie ook die binnekant gemaak nie? 41Gee liewer wat in die bekers en borde is, vir die armes, dan sal alle dinge vir julle rein wees. 42Maar ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement en wynruit en elke soort kruie, maar verontagsaam die geregtigheid en die liefde vir God. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie nalaat nie.

43“Ellende wag vir julle, Fariseërs, want julle hou van die ereplek in die sinagoges en om op straat eerbiedig begroet te word. 44Ellende wag vir julle, want julle is soos onherkenbare grafte waaroor die mense loop sonder om dit te weet.”

45Toe sê een van die wetgeleerdes vir Jesus: “Meneer, as u so praat, beledig u ons ook.”

46Daarop antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die laste te dra nie.

47“Ellende wag vir julle, want julle bou grafmonumente vir die profete, maar julle voorvaders het hulle vermoor. 48So bewys julle dat julle die dade van julle voorvaders goedkeur, want húlle het die profete vermoor en júlle bou die grafte. 49Daarom het Die Wysheid van God gesê: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, maar hulle sal sommige van hulle doodmaak en ander vervolg.’ 50So is die huidige geslag dan skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is van die skepping van die wêreld af: 51van die bloed van Abel af tot by die bloed van Sagaria, wat tussen die altaar en die tempel doodgemaak is. Ja, Ek sê vir julle, hulle bloed sal van die huidige geslag geëis word!

52“Ellende wag vir julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem. Self het julle nie ingegaan nie, en dié wat wel wou ingaan, vir hulle het julle verhinder.”

53Toe Hy uit die huis weggaan, het die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom heftig begin aanval. Oor allerlei dinge het hulle aan Hom strikvrae gestel 54en fyn opgelet of Hy iets sou sê waarop hulle Hom kon vastrek.

'n Waarskuwing teen huigelary

(Matt. 16:6; 10:26-27; Mark. 8:15)

1Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. 2Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 3Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.”

Wie gevrees moet word

(Matt. 10:28-31)

4“Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. 5Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees.

6“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. 7Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Aansporing om Christus te bely

(Matt. 10:32-33; 12:32; 10:19-20)

8“Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. 9Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word.

10“Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

11“Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, 12want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.”

Die gelykenis van die ryk dwaas

13Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”

14Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”

15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ 20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ 21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Die sorge van die lewe

(Matt. 6:25-34; 6:19-21)

22Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. 23Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. 24Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. 25Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? 26As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

27“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! 29Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. 30Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het. 31Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.

32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

Die gelykenis van die waaksame slaaf

(Matt. 24:45-51; vgl. Mark. 13:33-37)

35“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! 36Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. 37Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien. 38Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. 39Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. 40Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”

41Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?”

42En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? 43Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! 44Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

45“Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, 46sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel.

47“Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry. 48Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

Jesus die oorsaak van die verdeeldheid

(Matt. 10:34-36)

49“Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!

50“Maar daar is 'n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! 51Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, 52want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. 53Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die tekens beoordeel

(Matt. 16:2-3)

54Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle 'n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. 55En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. 56Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”

Vroegtydige versoening

(Matt. 5:25-26)

57“Waarom maak julle nie vir julleself uit wat die regte ding is om te doen nie?

58“Terwyl jy saam met jou teenstander op pad is hof toe, moet jy moeite doen om die saak met hom te skik, sodat hy jou nie voor die regter sleep en die regter jou aan die polisie oorgee en die polisie jou in die tronk sit nie. 59Ek verseker jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS