Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 84

Opvang Dag (Johannes 1, 1 Johannes 1)

Bybelteks(te)

Die Woord het mens geword

1In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Die getuienis van Johannes die Doper

(Matt. 3:1-12; Mark. 1:2-8; Luk. 3:15-17)

19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”

Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”

21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”

“Nee, ek is nie,” sê hy.

“Is jy dan die Profeet?”

“Nee!” het hy geantwoord.

22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”

23Hy antwoord toe:

“Ek is die een wat in die woestyn roep:

Maak die pad vir die Here reguit.”

Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”

26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Die Lam van God

29Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! 30Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar 'n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ 31Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”

32Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. 33Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ 34Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die eerste dissipels

35Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?”

39Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”

Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

Filippus en Natanael

43Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.

45Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

46Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.

47Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

49Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

51Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.”

Die Woord wat die Lewe is

1Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. 2Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. 3Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. 4Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

God is lig

5Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

1 JOHANNES 1AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS