Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 77

1 Samuel 21–25, Psalms 34 & 54 (opsioneel: Psalms 52 & 56)

Bybelteks(te)

Dawid kom in Nob by Agimelek

1Dawid het in Nob by die priester Agimelek gekom. Agimelek het Dawid ontsteld tegemoet gegaan en gevra: “Waarom is u alleen? Waarom is daar niemand by u nie?”

2Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het my 'n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’ Ek het my manskappe op 'n sekere plek bestel. 3Maar nou iets anders: wat het u byderhand? Gee my tog vyf brode of net wat u beskikbaar het.”

4Die priester het Dawid geantwoord: “Ek het nie gewone brood byderhand nie, hier is net gewyde brood. As die manskappe hulle tog maar van vrouens weerhou het.”

5Toe sê Dawid vir die priester: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame van die manskappe rein. Al is dit ook 'n gewone onderneming, is die liggame vandag tog rein.”

6Die priester het toe aan hom gewyde brood gegee, want daar was nie gewone brood nie, net die offerbrood wat op 'n bepaalde tyd uit die tempel verwyder word om dit deur vars brood te vervang.

7Een van Saul se slawe moes daardie dag in die tempel deurbring. Sy naam was Doëg. Hy was 'n Edomiet, die hoof van Saul se veewagters.

8Dawid het ook vir Agimelek gesê: “Is hier nie miskien 'n spies of 'n swaard byderhand nie? Ek kon selfs nie eens my swaard of my ander wapens vat nie, want die saak van die koning was dringend.”

9Die priester het hom geantwoord: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die dal by die groot boom verslaan het, is hier, toegedraai in 'n mantel agter die skouerkleed. Vat dit vir u as u wil, want in hierdie plek is daar niks behalwe hierdie een nie.”

En Dawid sê: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.”

Dawid vlug na Akis toe

10Hierná het Dawid klaargemaak en dieselfde dag nog van Saul af weggevlug na koning Akis van Gat toe. 11Akis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Sing hulle nie vir hom in koordanse nie:

“Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende!”

12Toe Dawid besef wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat. 13Daarom het Dawid hom voor die Filistyne waansinnig gehou, en terwyl hy by hulle was, het hy hom soos 'n mal mens gedra. Hy het teen die deure van die poort gekrap en sy spoeg in sy baard laat afloop.

14Akis het vir sy amptenare gesê: “Julle kan mos sien die man is mal. Waarom bring julle hom na my toe? 15Het ek behoefte aan mal mense dat julle hierdie een na my toe bring om by my mal te wees? Moet hý in my huis inkom?”

Dawid skuil in Moab

1Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. 2Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom. 3Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra: “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.”

4Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was. 5Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe.”

Dawid het toe na die Geretbos toe gegaan.

Saul laat die priesters van Nob doodmaak

6Terwyl Saul in Gibea op 'n hoogte onder 'n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. 7Saul het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê: “Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde? 8Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie; niemand van julle het medelye met my nie; niemand het my vertel dat my seun 'n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my 'n bedreiging is nie.”

9Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê: “Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het. 10Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”

11Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom.

12Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.”

En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”

13En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?”

14Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis. 15Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”

16Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.”

17Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.”

Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.

18Toe sê die koning vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.”

Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.

Abjatar vlug na Dawid toe

19Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee. 20Maar een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug. 21Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het.

22Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel. 23Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”

Dawid bevry Keïla

1Op 'n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.”

2Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?”

Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.”

3Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?”

4Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.”

5Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in 'n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.

Abjatar raadpleeg die Here vir Dawid

6Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het hy die skouerkleed saamgevat. 7Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in 'n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.”

8Saul het al die manskappe opgekommandeer vir die oorlog, om op te trek na Keïla toe en Dawid en sy manne te beleër. 9Maar Dawid het te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.”

10Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. 11Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.”

En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.”

12Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?”

Die Here het hom geantwoord: “Ja.”

13Dawid en sy manne, ongeveer ses honderd man, het klaargemaak, uit Keïla uitgegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla ontsnap het en Saul het sy agtervolging gestaak. 14Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. 15Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn.

Dawid en Jonatan vernuwe hulle verbond

16Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God. 17Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is.”

18Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa gebly, en Jonatan het huis toe gegaan.

Siffiete verklap Dawid

19Daarna het Siffiete na Saul in Gibea toe gegaan en gesê: “Dawid kruip by ons weg in die skuilplekke in Goresa, op die Gakilarant suid van die onherbergsame gebied. 20U Majesteit, as dit dan nou u begeerte is om op te trek, trek op en ons sal sorg dat hy aan u uitgelewer word.”

21Toe antwoord Saul: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel. 22Gaan dan nou, stel weer vas waar Dawid is, kyk goed en verken die plek: waar sy spore is en wie hom daar gesien het, want iemand het vir my gesê hy is baie uitgeslape. 23Gaan kyk en stel haarfyn vas waar hy oral skuil. Bring vir my sekerheid terug. Dan sal ek saamgaan. Indien hy nog in die land is, sal ek hom opspoor met al die afdelings van Juda.”

24Die Siffiete het klaargemaak en voor Saul uit na Sif toe gegaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die vlakte suid van die onherbergsame streek.

25Toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, is dit aan Dawid vertel, en hy het na die kliprant toe gegaan, nog in die Maonwoestyn. Saul het dit verneem en Dawid in die Maonwoestyn agtervolg. 26Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang, 27kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval.”

28Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.

Dawid spaar Saul se lewe

1Daarvandaan het Dawid in die skuilplekke by En-Gedi gaan bly. 2Net toe Saul van die veldtog teen die Filistyne af terugkom, is aan hom vertel: “Dawid is in die En-Gediwoestyn.”

3Saul het drie afdelings manskappe wat uitgesoek is uit die hele Israel, gevat en gegaan om Dawid en sy manne op te spoor in die omgewing van Klipbokrotse. 4Onderweg het Saul afgekom op skaapkrale met 'n grot daarby. Hy het daar ingegaan om homself te ontlas, terwyl Dawid en sy manne agter in die grot sit.

5Dawid se manne sê toe vir hom: “Kyk daar, vandag sê die Here vir jou: Ek gee jou vyand in jou hand en jy moet met hom maak soos jy dit goedvind.”

Dawid het opgestaan en ongemerk die punt van Saul se mantel afgesny. 6Maar agterna het Dawid se gewete hom gepla omdat hy Saul se mantelpunt afgesny het. 7Hy het vir die manne gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen my koning, die gesalfde van die Here, oplig, want hy is die gesalfde van die Here.”

8So het Dawid sy manne met sy woorde gekeer en hulle nie toegelaat om teen Saul op te tree nie. En Saul het opgestaan en sy koers gegaan uit die grot uit.

9Dawid het ook klaargemaak en uit die grot uitgegaan. Hy het agter Saul aan geroep: “U Majesteit, die Koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep gebuig.

10Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang? 11U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as 't ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ 12My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem. 13Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie. 14Soos die spreekwoord van die voorgeslag lui:

“ ‘Boosheid gaan uit van die boosdoeners,’

“maar ek sal nie teen u wees nie. 15Agter wie aan het die koning van Israel opgetrek? Agter wie kom u aan? Agter 'n dooie hond aan; agter een enkele vlooi aan! 16Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig en aan my reg verskaf teenoor u.”

17Nadat Dawid dit alles vir Saul gesê het, het Saul gevra: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?”

Toe begin Saul hard huil 18en hy sê vir Dawid: “Jy is 'n beter man as ek, want jy het aan my goed gedoen en ek het jou kwaad aangedoen. 19Jy het so pas duidelik getoon watter weldaad jy my bewys het deurdat jy my nie doodgemaak het toe die Here my in jou hand oorgegee het nie. 20Sal iemand sy vyand ongedeerd sy koers laat gaan as hy hom raakloop? Mag die Here jou met weldade beloon vir wat jy vandag aan my gedoen het. 21En nou, ek weet jy sal koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand bestendig wees. 22Lê dan nou in die Naam van die Here 'n eed af dat jy nie my nageslag sal uitroei nie en so in my familie aan my naam 'n einde sal maak nie.”

23Nadat Dawid vir Saul 'n eed afgelê het, het Saul huis toe gegaan, maar Dawid en sy manne het opgegaan na die bergskuiling toe.

Samuel se dood

1Samuel is oorlede, en die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom begrawe by sy huis in Rama.

Nabal beledig vir Dawid

Dawid het klaargemaak en na die Paranwoestyn toe getrek. 2Daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, 'n baie ryk man. Hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Hy was besig om sy skape in Karmel te skeer. 3Die naam van die man was Nabal en die naam van sy vrou Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof. Hy was 'n Kalebiet. 4Toe Dawid in die woestyn verneem dat Nabal skape skeer, 5het hy tien jong manne gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Karmel toe, en as julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. 6En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit! 7Ek het verneem dat hulle besig is om by u te skeer. U skaapwagters was by ons en ons het hulle nie kwaad aangedoen nie. Hulle het niks vermis solank hulle in Karmel was nie. 8Vra maar u veewagters sodat hulle dit kan vertel. Wees dan tog my mense goedgesind. Ons het op die regte tyd gekom. Gee asseblief wat u kan afstaan aan u seun Dawid en sy manne.”

9Die jong manne van Dawid het gekom en Dawid se hele boodskap aan Nabal oorgedra en gewag. 10Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af. 11Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”

12Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel.

13Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het.

14Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar. 15Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie. 16Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het. 17Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.”

18Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.

19Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.”

Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie. 20Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom. 21Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. 22Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly.

23Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom 24en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde. 25Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie. 26Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek. 27Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg. 28Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie. 29En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel. 30Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het, 31mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”

32Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. 33Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem. 34Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”

35Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.”

36Toe Abigajil by Nabal kom, het hy in sy huis 'n feesmaal gehad soos 'n koning. Nabal was opgeruimd en baie dronk. Voor die oggend met ligdag het sy hom hoegenaamd niks vertel nie. 37Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy 'n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam. 38Omtrent tien dae later het die Here hom weer met 'n aanval getref, en het hy gesterf.

Dawid trou met Abigajil

39Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Geloof sy die Here wat my regsaak behartig het oor die onreg wat Nabal my aangedoen het, en my van kwaad weerhou het. Die Here het Nabal se kwaad op sy eie kop laat afkom.”

Daarna het Dawid gestuur en met Abigajil laat praat om haar as vrou vir hom te neem. 40Die manne van Dawid het by Abigajil die Karmeliet gekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur om u as vrou vir hom te neem.”

41Sy het opgestaan en gebuig en gesê: “Ag nee, ek wil net 'n slavin wees om die voete van Meneer se manne te was.”

42Abigajil het toe gou klaargemaak en op 'n donkie gery terwyl haar vyf slavinne te voet gevolg het. Sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword.

43Dawid was reeds met Aginoam uit Jisreël getroud. Hy het nou twee vrouens gehad. 44Saul het sy dogter Mikal, die vrou van Dawid, aan Palti die seun van Lajis uit Gallim gegee.

Die Here is naby

1'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee.

2Ek sal die Here altyd weer prys,

sy lof sal altyd op my lippe wees.

3Ek sal die roem van die Here sing;

dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.

4Sing saam met my oor die grootheid van die Here

en laat ons saam sy Naam prys.

5Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord,

Hy het my gered uit alle doodsgevare.

6Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap,

hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.

7Ek is een van die ellendiges wat geroep het.

Die Here het gehoor,

uit al my benoudhede het Hy my gered.

8Die Engel van die Here slaan sy laer op

rondom dié wat die Here dien, en red hulle.

9Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!

Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.

10Julle wat aan die Here behoort, dien Hom!

Wie Hom dien, het geen gebrek nie.

11Selfs leeus ly gebrek en kry honger,

maar wie die Here se hulp vra,

kom niks kort van al die goeie dinge nie.

12Kom, kinders, luister na my!

Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.

13As iemand die lewe liefhet

en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet,

14moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat

en sy lippe van leuens.

15Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is,

soek vrede en jaag dit na!

16Die Here sorg vir die regverdiges

en luister na hulle hulpgeroep.

17Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen

en vee selfs die herinnering aan hulle van die aarde af.

18As die regverdiges om hulp roep,

hoor die Here hulle

en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.

19Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

20Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,

die Here red hom uit almal.

21Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige:

geen been word gebreek nie.

22Die kwaad wat die goddelose doen,

bewerk sy eie ondergang:

vir sy vyandskap teen die regverdige sal hy boet.

23Die Here maak sy dienaars vry.

Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige behandel word nie.

Die Here hou my lewe in stand

1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Siffiete gekom en vir Saul gesê het: Dawid kruip by ons weg.

3Red my deur u mag, o God,

laat aan my reg geskied deur u krag.

4Hoor my gebed, o God,

luister na my woorde,

5want vyande staan teen my op,

geweldenaars soek my lewe,

hulle hou geen rekening met God nie. Sela

6Maar vir my help God altyd,

die Here hou my lewe in stand.

7Laat die onheil wat my teëstanders beplan, op hulleself neerkom.

U is getrou: vernietig hulle.

8Dan sal ek offers aan U bring, selfs meer as wat U vra,

ek sal u Naam loof, Here, want U is goed,

9U het my uit elke benoudheid gered

en my oor my vyande laat triomfeer.

God is goed

1Vir die koorleier. 'n Gedig van Dawid, 2na aanleiding daarvan dat die Edomiet Doëg gekom en aan Saul vertel het: Dawid was in die huis van Agimelek.

3Jy wat jou groot hou,

jy spog verniet oor jou slegte dade!

Onthou, God sorg altyd vir my.

4Jy wil ander se ondergang bewerk,

met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog.

5Jy het die kwaad liewer as die goeie,

en die leuen liewer as die waarheid. Sela

6Jy saai graag verwarring met jou leuens!

7Maar God sal jou vir altyd vernietig.

Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek,

Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes. Sela

8As die regverdiges dit sien,

sal hulle met ontsag vervul word

en smalend van jou sê:

9“Dis nou die man

wat nie op God se krag wou steun nie,

maar op sy eie rykdom vertrou het

en hom sterk wou maak deur inhaligheid.”

10Maar ek staan sterk soos 'n welige olyfboom;

ek is in die huis van God

en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.

11Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het.

Voor u dienaars sal ek u Naam prys,

want U is goed.

In God stel ek my vertroue

1Vir die koorleier: op die wysie van “Die duif in die hoë bome”. Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat die Filistyne hom in Gat gevange geneem het.

2Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag,

vyande wat my vervolg van die môre tot die aand.

3Vroeg en laat jaag my teëstanders my,

en ek het baie vyande, o Allerhoogste.

4Die dag as ek bang word,

vertrou ek net op U.

5In God, wie se woord ek prys,

in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n blote mens aan my doen?

6Hulle vergal my lewe gedurig met beskuldigings teen my,

al hulle bose planne is teen my gerig.

7Hulle lê op die loer en hou my dop,

hulle bly op my hakke,

so gretig wag hulle op my dood.

8Moenie dat hulle ongestraf bly vir hierdie vyandigheid nie!

Laat u toorn hulle vernietig, o God!

9My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie,

U het op my trane gelet.

In u boek staan hulle opgeteken.

10Die dag wanneer ek na U roep om hulp,

val my vyande terug.

Dít weet ek: God is aan my kant.

11In God, wie se woord ek prys,

in die Here, wie se woord ek prys,

12in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie.

Wat kan 'n mens aan my doen?

13Ek moet my geloftes aan U nakom, o God,

ek wil U met dankoffers betaal,

14want U het my van die dood gered,

my voet nie laat struikel nie,

en met God by my kon ek my pad aanhou loop

en die lewenslig bly sien.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS