Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 62

JOSUA 22–24, HANDELINGE 22–24

Bybelteks(te)

Die stamme oos van die Jordaan vertrek na hulle gebied toe

1Josua het daarna die stamme Ruben en Gad en die een helfte van die Manassestam geroep 2en vir hulle gesê: “Julle het alles gedoen wat Moses die dienaar van die Here julle beveel het en julle was gehoorsaam aan alles wat ek julle beveel het. 3Julle het hierdie hele tyd tot vandag toe nie julle broers in die steek gelaat nie en julle het gedoen wat die Here julle God julle beveel het. 4Nou het Hy aan julle broers 'n woonplek gegee soos Hy hulle beloof het. Gaan nou terug na julle eie woonplekke toe, na julle eie gebied oorkant die Jordaan wat Moses die dienaar van die Here aan julle toegeken het. 5Sorg net dat julle die gebod en die wet wat Moses die dienaar van die Here julle opgelê het, getrou onderhou, naamlik om die Here julle God lief te hê en volgens sy wil te lewe, sy gebooie te onderhou, aan Hom getrou te bly en Hom met julle hele hart en siel te dien.”

6Josua het hulle met 'n seënwens laat gaan, en hulle is na hulle woonplekke toe.

7Vir die een helfte van die Manassestam het Moses 'n gebied in Basan gegee, en vir die ander helfte het Josua wes van die Jordaan 'n gebied gegee saam met die ander stamme.

Toe Josua die stamme na hulle woonplekke toe laat gaan met 'n seënwens, 8het hy vir hulle gesê: “Gaan terug na julle woonplekke toe met groot rykdom, met groot troppe vee, met silwer, goud, koper en yster, met baie klere, maar deel die buit wat julle van julle vyande gevat het, met julle stamgenote.”

Die gedenkaltaar by die Jordaan

9Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam is toe van die Israeliete in Silo in Kanaän af weg om na Gilead toe te gaan, na hulle eie gebied wat in besit geneem is op die bevel van die Here deur Moses. 10Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan 'n altaar, 'n groot indrukwekkende altaar.

11Die Israeliete het gehoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar gebou het en dat dit teenaan Kanaän by Gelilot aan die Jordaan was, aan die Israeliete se kant. 12Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. 13Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. 14Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. 15Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: 16“So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! 17Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. 18Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. 19As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie. 20Akan seun van Serag was ontrou met wat aan die Here gewy was, en die toorn het teen die hele Israel losgebreek. Nie net hy het vir sy sonde gesterf nie.”

21Die mense van Ruben, Gad en die halwe Manassestam het vir die hoofde van die Israelitiese familiegroep gesê: 22“Die Here alleen is God, die Here alleen is God! Hy weet, en Israel moet weet: as dit in verset en ontrou teen die Here was, dan moet julle ons vandag nie spaar nie. 23Of ons vir ons 'n altaar gebou het om die Here te verlaat en daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, dit sal die Here self vasstel. 24Nee, dit was uit kommer dat ons dit gedoen het. Ons het gedink môre-oormôre sê julle nageslag dalk vir ons s'n: ‘Wat het julle te doen met die Here die God van Israel? 25Die Here het 'n grens gestel tussen ons en julle, die Jordaan. Julle het nie 'n deel in die Here nie!’ So sou julle nageslag ons s'n kon verhinder om die Here te dien. 26Ons het toe gedink ons moet vir ons die altaar bou, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, 27maar as 'n getuie tussen ons en julle en tussen ons nageslagte, dat ons die diens aan die Here by sy heiligdom sal uitvoer met ons brandoffers, ons ander diereoffers en ons maaltydoffers, en dat julle nageslag nie later vir ons s'n sal sê: ‘Julle het nie 'n deel in die Here nie.’

28“Ons het gedink as hulle dit later vir ons of ons nageslag sou sê, sou ons nageslag kon sê: ‘Kyk die model van die Here se altaar. Ons voorvaders het dit gemaak, nie vir brandoffers of ander diereoffers nie, maar as 'n getuie tussen ons en julle.’ 29Ons dink glad nie daaraan om teen die Here in verset te kom en Hom te verlaat deur 'n altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diereoffers bo en behalwe die altaar van die Here ons God voor sy tabernakel nie.”

30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering en die Israelitiese familiehoofde wat by hom was, hoor wat die mense uit Ruben, Gad en Manasse sê, was hulle tevrede. 31Pinehas seun van die priester Eleasar het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet nou die Here is by ons; julle was nie ontrou aan die Here nie; julle het Israel aan die straf van die Here laat ontkom.”

32Pinehas seun van die priester Eleasar en die volksleiers is toe terug van die mense van Ruben en Gad af uit Gilead na Kanaän, na die Israeliete toe en het verslag gedoen. 33Die Israeliete was tevrede en het God geprys. Hulle het afgesien van die plan om die mense van Ruben en Gad te gaan aanval en die gebied waar hulle woon, te verwoes. 34Die mense van Ruben en Gad het die altaar 'n naam gegee, en gesê: “Hy is die getuie tussen ons dat die Here God is.”

Josua neem afskeid

1Dit was al lank dat die Here na alle kante toe aan Israel rus gegee het van sy vyande, en Josua was al baie oud.

2Josua het die hele Israel geroep, die leiers, die hoofde, die regters, die ampsdraers, en vir hulle gesê: “Ek is al baie oud. 3Julle het gesien wat die Here julle God alles aan hierdie nasies gedoen het ter wille van julle. Dit is Hy, die Here julle God, wat die oorlog vir julle gevoer het. 4Ek het saam met die gebiede van al die nasies wat ek uitgeroei het, ook dié van die nasies wat nog oorbly, as eiendom aan julle stamme toegeken: van die Jordaan af tot by die Groot See in die weste. 5Die Here julle God sal hulle wegstoot voor julle en hulle voor julle uit verdrywe sodat julle hulle land in besit kan neem soos die Here julle God julle beloof het.

6“Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie, 7dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam 'n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie. 8Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle tot nou toe gedoen het. 9Die Here het groot en sterk nasies voor julle uit verdryf. Niemand kon tot nou toe voor julle standhou nie. 10Een van julle jaag 'n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het. 11Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. 12As julle egter 'n ander pad loop en julle verbind aan die mense wat oor is van hierdie nasies wat nog tussen julle woon, en julle ondertrou met hulle en julle kom by hulle, en hulle by julle, 13weet dan seker dat die Here julle God hierdie nasies nie verder sal verdryf voor julle uit nie. Hulle sal vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.

14“Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie. 15Maar net soos elke goeie belofte wat die Here julle God oor julle gemaak het, nagekom is, so sal Hy elke ramp oor julle bring wat Hy aangekondig het, totdat Hy julle uitgeroei het uit hierdie goeie land wat Hy julle gegee het. 16As julle die verbondsverpligtings wat die Here julle God julle opgelê het, nie hou nie en julle dien ander gode en buig voor hulle, sal die toorn van die Here teen julle ontvlam en sal julle gou verdwyn uit die goeie land wat Hy julle gegee het.”

Die samekoms by Sigem

1Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor – anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. 3Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan. Ek het hom baie nakomelinge gegee. Aan hom het Ek vir Isak gegee, 4aan Isak vir Jakob en Esau. Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe.

5“Ek het vir Moses en Aäron gestuur en Ek het Egipte met rampe getref soos Ek dit goedgevind het. Daarna het Ek julle uitgebring: 6Ek het julle voorvaders uit Egipte gebring, en toe hulle by die Rietsee kom, het die Egiptenaars hulle agtervolg met strydwaens en ruiters. 7Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.

8“Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.

9“Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om 'n vloek oor julle uit te spreek. 10Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën. So het Ek julle gered uit die hande van Balak.

11“Julle het deur die Jordaan getrek en by Jerigo gekom. Die mense wat in besit was van Jerigo, die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee. 12Ek het al vantevore die twee Amoritiese konings laat moed verloor, en dít het hulle voor julle uit verdryf, nie julle swaarde en julle pyl en boë nie.

13“Ek het julle 'n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.

14“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. 17Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is 'n heilige God, Hy is 'n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie. 20As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en 'n end aan julle maak.”

21Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”

22Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”

23Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.”

24En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”

25Josua het daardie dag vir die volk 'n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê. 26Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, 'n groot klip gevat en dit daar onder 'n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit. 27Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”

28Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

Die dood van Josua en Eleasar

29Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar. 30Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.

31Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

32Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

33Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, 'n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.

Paulus vertel van sy bekering

(Vgl. Hand. 9:1-19; 26:12-18)

1“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.”

2Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword.

3Hy gaan toe voort: “Ek is 'n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. 4Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. 5Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word.

6“Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. 7Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ 8‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’

9“Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. 10Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’

11“Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 12'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, 13het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. 14Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, 15want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. 16En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’

17“Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak 18en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ 19Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het. 20En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’ 21Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ”

Paulus en die Romeinse kommandant

22Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!”

23Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. 24Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het. 25Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?”

26Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.”

27Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?”

“Ja,” antwoord Paulus.

28Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.”

En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.”

29Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.

30Omdat die kommandant presies te wete wou kom wat die Jode teen Paulus het, het hy die volgende dag bevel gegee dat die priesterhoofde en die hele Joodse Raad bymekaar moet kom. Hy het Paulus laat haal en voor hulle gebring.

HANDELINGE 22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus voor die Joodse Raad

1Paulus het die lede van die Joodse Raad vierkantig in die oë gekyk en gesê: “Broers, ek het heeltemal 'n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.”

2Toe beveel die hoëpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, om hom op sy mond te slaan. 3Daarop sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou skynheilige! Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geslaan moet word.”

4Die mense wat by Paulus staan, sê toe vir hom: “Skel jy die hoëpriester van God uit?”

5Daarop antwoord hy: “Ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie, broers. Dit ís soos daar geskrywe staan: Jy mag nie 'n leier van jou volk beledig nie.

6Paulus het geweet dat die Raad deels uit Sadduseërs en deels uit Fariseërs bestaan. Hy roep toe in die Raad uit: “Broers, ek is 'n Fariseër en ek kom uit 'n familie van Fariseërs. Dit is oor die verwagting dat die dooies weer sal opstaan dat ek verhoor word.”

7Toe hy dit sê, het daar rusie tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. 8Die Sadduseërs ontken dat daar 'n opstanding uit die dood is en dat daar engele en geeste bestaan, maar die Fariseërs aanvaar wel albei hierdie dinge. 9'n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. 'n Paar skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: “Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar 'n gees of 'n engel met hom gepraat.”

10Die rusie het so hewig geword dat die kommandant bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het die kommandant sy soldate beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring na die kaserne toe.

11Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.”

Die komplot teen Paulus

12Die volgende dag het die Jode 'n komplot teen Paulus gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. 13Daar was meer as veertig mense wat so saamgesweer het. 14Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde toe gegaan en gesê: “Ons het 'n dure eed afgelê dat ons niks oor ons lippe sal neem voordat ons Paulus doodgemaak het nie. 15Julle moet nou namens die Joodse Raad die versoek aan die kommandant rig dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom op pad hierheen dood te maak.”

16Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel. 17Toe laat Paulus een van die kapteins roep en sê vir hom: “Vat hierdie jongman asseblief na die kommandant toe, want hy het 'n boodskap vir hom.”

18Hy vat hom toe na die kommandant toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my laat roep en my gevra om hierdie jongman na u toe te bring. Hy het iets om vir u te sê.”

19Die kommandant vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant en vra vir hom: “Wat is dit wat jy my wil vertel?”

20Hy het geantwoord: “Die Jode het saamgesweer om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, sogenaamd om sy saak noukeuriger te ondersoek. 21U moet hulle tog nie glo nie, want meer as veertig van hulle wil hom voorlê. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom doodgemaak het nie. Hulle sit klaar en hulle wag nou net dat u hulle versoek moet toestaan.”

22Die kommandant sê toe vir hom: “Moet vir niemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.”

En hy het hom toe laat gaan.

Paulus word na Feliks toe gestuur

23Die kommandant het toe twee kapteins geroep en hulle beveel: “Maak twee honderd soldate, sewentig perderuiters en twee honderd spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand na Sesarea toe te vertrek. 24Sorg dat daar rydiere is, sodat Paulus veilig na Feliks, die goewerneur, oorgebring kan word.”

25Toe skrywe hy 'n brief met die volgende inhoud:

26“Van Claudius Lisias.

“Aan die hooggeagte goewerneur Feliks.

“Groete.

27“Die Jode het hierdie man gevang en hulle het op die punt gestaan om hom dood te maak toe ek met my soldate ingegryp en hom gered het, omdat ek te wete gekom het dat hy 'n Romeinse burger is. 28Omdat ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, het ek hom voor hulle Raad gebring. 29Dit blyk dat hulle hom aankla oor twispunte in verband met hulle wet, maar dat hy niks gedoen het wat die dood of tronkstraf verdien nie. 30Toe aan my meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee is, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Vir sy aanklaers het ek gesê om hulle klagte aan u voor te lê.”

31Die soldate het hulle opdrag uitgevoer en Paulus dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris. 32Die volgende dag het hulle die ruitery met Paulus verder laat gaan en self teruggekeer kaserne toe. 33Die ruitery het in Sesarea aangekom, die brief aan die goewerneur afgelewer en Paulus aan hom oorhandig. 34Hy het die brief gelees en vir Paulus gevra van watter provinsie hy afkomstig is. Toe hy hoor dat hy van Silisië af kom, 35het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom.”

Daarna het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes bewaak moet word.

HANDELINGE 23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die saak teen Paulus voor Feliks

1Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met 'n paar van die familiehoofde en 'n advokaat, Tertullus, daar aangekom. Hulle het voor die goewerneur verskyn om hulle aanklag teen Paulus in te dien. 2Paulus is ingeroep, en Tertullus het met die aanklag voor Feliks begin: “U Edele, onder u lewe ons in rus en vrede, en deur u beleid het daar verbeteringe vir hierdie volk ingetree. 3Dit erken ons altyd en oral met diep dankbaarheid.

4“Ek wil u nie onnodig vermoei nie. Ek versoek u om met u kenmerkende welwillendheid na 'n kort uiteensetting van ons saak te luister.

5“Ons beskou hierdie man as 'n gevaar vir die samelewing. Hy bring skeuring in die Joodse geledere dwarsdeur die wêreld. Hy is 'n leier van die dwaalrigting van die Nasareners. 6Toe hy probeer het om selfs die tempel te ontheilig, het ons hom gevange geneem. 8As ú hom oor al hierdie dinge verhoor, kan u te wete kom waarom ons hom aankla.”

9Hiermee het die Jode saamgestem en hulle het bevestig dat dit so is.

10Op 'n teken van die goewerneur het Paulus begin praat:

“Ek weet dat u al jare lank hierdie mense se regter is. Daarom verdedig ek my saak voor u met vertroue.

11“U kan self vasstel dat ek maar sowat twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om daar te aanbid. 12Niemand het my in die tempel of in die sinagoges of êrens in die stad gekry dat ek met iemand gestry of die skare tot oproer aangehits het nie. 13Die beskuldigings wat hulle nou teen my inbring, kan hulle ook nie vir u bewys nie.

14“Dit erken ek wel voor u: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus wat hulle 'n dwaalrigting noem. Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan. 15Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan. 16Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd 'n skoon gewete voor God en die mense te hê.

17“Na baie jare het ek teruggekom om my mense met 'n geldelike bydrae te help en om aan God te offer. 18Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie 'n skare of 'n gedrang om my nie. 19Daar was net 'n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring. 20Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is. 21Al wat ek daar vir hulle gesê het, was: Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo.”

22Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek. “Wanneer Lisias, die kommandant, kom, sal ek julle saak afhandel,” het hy gesê.

23Hy het die kaptein beveel om Paulus nog aan te hou, maar om hom minder streng te behandel en sy mense ook toe te laat om vir hom te sorg.

Paulus word aangehou

24Na 'n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. 25Paulus het met hom gepraat oor 'n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks laat bang word, en hy het gesê: “Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”

26Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.

27Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.

HANDELINGE 24AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS