Bible Society of South Africa

Na die Woord – Dag 61

JOSUA 19–21, HANDELINGE 19–21

Bybelteks(te)

Die stamgebied van Simeon

1Die tweede loting was vir Simeon, vir die families in die stam Simeon. Hulle eiendom was binne-in dié van Juda. 2Hulle het as eiendom ontvang Berseba, Seba, Molada, 3Gasar-Sual, Baäla, Esem, 4Eltolad, Betul, Gorma, 5Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susim, 6Bet-Lebaot en Sarugen, dertien stede met hulle buiteposte, 7verder Ajin, Rimmon, Eter en Asan, vier stede met hulle buiteposte, 8en ook nog al die buiteposte in die omgewing van dié stede tot by Baälat-Beër en Rama in die Suidland. Dit was die eiendom van die families in die stam Simeon. 9Hulle het 'n deel van Juda se gebied gekry, want dié was vir Juda te groot. Die stam Simeon het dus eiendom binne-in dié van Juda ontvang.

Die stamgebied van Sebulon

10Die derde loting was vir die families in die stam Sebulon. Hulle grondgebied strek tot by Sarid. 11Die grens loop dan wes na Marala toe, teen Dabbeset en teen die spruit regoor Jokneam verby. 12Van Sarid af draai die grens oos tot teen die grens van Kislot-Tabor, loop dan na Daberat toe en op na Jafia toe, 13daarvandaan oor na Gat-Gefer aan die oostekant en na Et-Kasin toe en aan tot by Rimmon waar dit na Nea toe draai. 14Dan swaai die grens noord van Gannaton en loop dood by Ge-Jiftag-El. 15Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem kom ook by. Daar is twaalf stede met hulle buiteposte. 16Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Sebulon.

Die stamgebied van Issaskar

17Die vierde loting was vir Issaskar, vir die families in die stam Issaskar. 18Hulle gebied omvat Jisreël, Kesulot, Sunem, 19Gafarajim, Sion, Anagarat, 20Rabbit, Kisjon, Ebes, 21Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes. 22Hulle grens gaan teen Tabor, Sagasajim en Bet-Semes verby en loop dood teen die Jordaan. Daar is sestien stede met hulle buiteposte. 23Dié stede met hulle buiteposte is dan die gebied van die families in die stam Issaskar.

Die stamgebied van Aser

24Die vyfde loting was vir die families in die stam Aser. 25Hulle gebied omvat Gelkat, Gali, Beten, Aksaf, 26Alammelek, Amad en Misal. Aan die westekant gaan die grens teen Karmel en Sigor-Libnat verby. 27Dan swaai dit oos na Bet-Dagon toe, gaan teen Sebulon en Ge-Jiftag-El noordwaarts verby na Bet-Emek en Neïel toe en loop aan na Kabul in die noorde 28en na Abdon, Regob, Gammon en Kana toe tot by Groot-Sidon. 29Dan loop die grens om na Rama toe en tot by die vestingstad Tirus, dan om na Gosa toe en loop dood teen die see in die omgewing van Aksib. 30Uma, Afek en Regob kom ook by. Daar is twee en twintig stede met hulle buiteposte. 31Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Aser.

Die stamgebied van Naftali

32Die sesde loting was vir Naftali, vir die families in die stam Naftali. 33Hulle grens begin by Gelef, by die groot boom in Saänannim, en loop oor Adami-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, en loop dan dood teen die Jordaan. 34Dan draai die grens wes na Asnot-Tabor toe en loop daarvandaan aan na Gukok toe, teen Sebulon aan die suidekant en teen Aser aan die westekant verby tot teen die Jordaan aan die oostekant. 35Die gebied sluit vestingstede in: Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret, 36Adama, Rama, Hasor, 37Kedes, Edreï, En-Gasor, 38Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes. Daar is negentien stede met hulle buiteposte.

39Dié stede met hulle buiteposte is dan die eiendom van die families in die stam Naftali.

Die stamgebied van Dan

40Vir die families in die stam Dan is sewende geloot. 41Hulle grondgebied het omvat Sora, Estaol, Ir-Semes, 42Saälbim, Ajalon, Jitla, 43Elon, Timna, Ekron, 44Elteke, Gibbeton, Baälat, 45Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon, 46Me-Jarkon, Rakkon, en ook die gebied regoor Joppe.

47Die stam Dan het sy gebied verloor en het toe vir Lesem aangeval en verower. Hulle het die inwoners doodgemaak, die stad beset en daar gaan woon. Hulle het Lesem die naam Dan gegee, na hulle voorvader Dan.

48Dié stede met hulle buiteposte was die eiendom van die families in die stam Dan.

Die eiendom van Josua

49Nadat die Israeliete die land in sy onderskeie gebiede aan die stamme toegewys het, het hulle aan Josua seun van Nun 'n eiendom tussen hulle toegeken. 50Op bevel van die Here het hulle hom die stad gegee wat hy gevra het. Dit was Timnat-Serag in die Efraimsberge. Josua het die stad herbou en daar gaan woon.

51Dit was dan die woongebiede wat die priester Eleasar en Josua seun van Nun saam met die familiehoofde aan die Israelitiese stamme toegeken het. Hulle het die verdeling van die land afgehandel deur loting in Silo in die teenwoordigheid van die Here, by die ingang van die tent van ontmoeting.

Die asielstede

(Vgl. Num. 35:9-28; Deut. 19:1-13)

1Die Here het vir Josua gesê: “Sê vir die Israeliete: 2Julle moet nou die asielstede afstaan wat Ek julle deur Moses beveel het, 3sodat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug om aan die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene te ontkom.

4“Wanneer so iemand na een van dié stede toe vlug, moet hy by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel aan die leiers van die stad. Hulle moet hom dan in die stad opneem en hom 'n woonplek by hulle gee. 5As die bloedverwant van die oorledene hom agtervolg, moet die leiers hom nie aan die bloedverwant uitlewer as hy onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het en nie kwaadgesind teen hom was nie. 6Die vlugteling moet in die stad bly totdat hy voor die bevoegde vergadering tereggestaan het en totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Eers dan mag die persoon wat die dood veroorsaak het, vry teruggaan huis toe na die stad waar hy vandaan gevlug het.”

7Kedes in Galilea op die Naftaliberge, Sigem in die Efraimsberge, en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die Judaberge is toe afgesonder. 8Oos van die Jerigo-Jordaan is Beser in die woestyn op die hoogvlakte in die stamgebied van Ruben, Ramot in Gilead in die stamgebied van Gad, en Golan in Basan in die stamgebied van Manasse afgestaan. 9Dit was die stede waarop ooreengekom is. Enige Israeliet, of enige vreemdeling tussen die Israeliete, wat onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het, kon na so 'n asielstad toe vlug sodat hy nie deur 'n bloedverwant van die oorledene doodgemaak word sonder dat hy deur 'n vergadering verhoor is nie.

Die stede van die Leviete

1Die familiehoofde van die Leviete het na die priester Eleasar, na Josua seun van Nun en na die familiehoofde van die Israelitiese stamme toe gekom 2in Silo in Kanaän en vir hulle gesê: “Die Here het deur Moses beveel dat ons stede moet kry om in te woon en weiveld vir ons vee.”

3Die Israeliete het toe die bevel van die Here uitgevoer en uit hulle woongebiede vir die Leviete dorpe met weivelde gegee. 4Daar is vir die Kehatgroep geloot, en aan hierdie Leviete uit die geslag van die priester Aäron is dertien stede toegeken in die stamgebied van Juda, Simeon en Benjamin. 5Vir die res van die Kehatgroep is tien stede geloot in die gebied van die families in die stam Efraim, die stamgebied Dan en dié van die halwe Manassestam. 6Vir die Gersongroep is dertien stede geloot in die gebiede van die families in die stam Issaskar, die stamgebied van Aser en Naftali en dié van die halwe Manassestam in Basan. 7Vir die families in die Merarigroep was daar twaalf stede in die stamgebied van Ruben, Gad en Sebulon. 8Die Israeliete het die stede met weivelde aan die Leviete toegeken deur loting, soos die Here deur Moses beveel het.

9In die stamgebied van Juda en Simeon is die volgende stede wat by name aangedui is, toegeken 10aan die Leviete uit die nageslag van Aäron wat tot die Kehatgroep behoort het. Die eerste loting was vir hulle.

11Aan hulle is eerstens Kirjat-Arba toegeken, dit is Hebron in die Judaberge met sy weivelde rondom. Arba was die voorvader van die Enakiete. 12Die lande en die buiteposte van die stad is aan Kaleb seun van Jefunne as eiendom toegeken.

13Die nageslag van die priester Aäron het dus ontvang: die asielstad Hebron, en Libna, 14Jattir, Estemoa, 15Golon, Debir, 16Ajin, Jutta en Bet-Semes, elkeen met sy weiveld, nege stede van dié twee stamme, 17en van die stam Benjamin Gibeon, Geba, 18Anatot en Almon, die vier stede elkeen met sy weiveld. 19Die priesters uit die nageslag van Aäron het dus altesaam dertien stede met hulle weivelde gehad.

20Vir die Levitiese families in die res van die Kehatgroep is eerstens stede geloot in die stamgebied van Efraim. 21Aan hulle is toegeken: die asielstad Sigem in die Efraimsberge en Geser, 22Kibsajim en Bet-Goron, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 23in die stamgebied van Dan: Elteke, Gibbeton, 24Ajalon en Gat-Rimmon, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 25en in die gebied van die halwe Manassestam: Taänak en Gat-Rimmon, dié twee stede elkeen met sy weiveld. 26Die families in die res van die Kehatgroep het dus altesaam tien stede met hulle weivelde gehad.

27Aan die Levitiese families in die Gersongroep is in die gebied van die ander helfte van die Manassestam toegeken: die asielstad Golan in Basan, en Astarot, dié twee stede elkeen met sy weiveld; 28in die stamgebied van Issaskar: Kisjon, Daberat, 29Jarmut en En-Gannim, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 30in die stamgebied van Aser: Misal, Abdon, 31Gelkat en Regob, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 32en in die stamgebied van Naftali die asielstad Kedes in Galilea, en Gammot-Dor en Kartan, dié drie stede elkeen met sy weiveld. 33Die Gersonfamilies het dus altesaam dertien stede met weivelde gehad.

34Aan die Levitiese families wat oorgebly het, dié in die Merarigroep, is in die stamgebied van Sebulon toegeken: Jokneam, Karta, 35Dimna en Nahalal, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 36in die stamgebied van Ruben: Beser, Jahas, 37Kedemot en Mefaät, dié vier stede elkeen met sy weiveld; 38en in die stamgebied van Gad die asielstad Ramot in Gilead, Maganajim, 39Gesbon, Jaser, dié vier stede elkeen met sy weiveld. 40Vir die oorblywende families, dié in die Merarigroep, is dus altesaam twaalf stede geloot.

41Die Leviete het altesaam ag en veertig stede met weivelde gehad in die woongebied van die Israeliete. 42Elke stad het weiveld rondom hom gehad. Dit was die geval met al dié stede.

43Die Here het aan Israel die hele land gegee wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Hulle het dit in besit geneem en daar gaan woon. 44Die Here het hulle na alle kante toe rus gegee soos Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. Nie een van al hulle vyande kon teen hulle standhou nie. Die Here het al hulle vyande in hulle mag oorgegee. 45Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.

Paulus in Efese

1Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy 'n groepie gelowiges gekry 2vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.

3“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.

“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.

4Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”

5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7Hulle was altesaam omtrent twaalf.

8Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het.

Die seuns van Skeva

11God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. 12Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.

13Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” 14Dit was die sewe seuns van 'n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het.

15Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?”

16Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het.

17Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys. 18Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak. 19Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.

20So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.

Die oproer in Efese

21Na hierdie gebeurtenisse het Paulus besluit om deur Masedonië en Agaje te reis en na Jerusalem toe te gaan. “Nadat ek daar was,” het hy gesê, “moet ek Rome ook besoek.”

22Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit gestuur Masedonië toe, maar self nog 'n tyd lank in die provinsie Asië agtergebly.

23Juis toe het daar 'n groot opskudding ontstaan oor die leer van die Here. 24'n Silwersmid met die naam Demetrius het silwerbeelde van die tempel van Artemis gemaak en vir die vakmanne 'n goeie verdienste verskaf. 25Hy roep hulle en ander mense wat soortgelyke werk doen, toe bymekaar en sê vir hulle: “Mense, julle weet dat ons voorspoed van hierdie werk afhang. 26Julle sien en hoor self dat hierdie Paulus daarin geslaag het om nie net in Efese vir hom 'n groot aanhang te kry nie, maar ook in byna die hele provinsie Asië. Hy sê dat goed wat met die hand gemaak word, nie gode is nie. 27Ons bedryf staan in gevaar om 'n slegte naam te kry. En nie net dit nie. Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word, hierdie godin wat in die hele provinsie Asië en oor die hele wêreld vereer word.”

28By die aanhoor hiervan het hulle woedend geword en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29Die oproer het oor die hele stad uitgebrei. Soos een man het die mense na die amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep.

30Paulus wou self met die skare gaan praat, maar die gelowiges wou hom dit nie toelaat nie. 31Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat goedgesind was teenoor Paulus, vir hom 'n boodskap gestuur om hom te waarsku om nie na die amfiteater toe te gaan nie.

32Almal het deurmekaar geskreeu, en die hele vergadering was in die war. Die meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie. 33Toe die Jode vir Aleksander vorentoe stoot, het party van die mense vir hom gesê wat aan die gang is. Hy het met sy hand gewys dat hy iets vir die volk wil sê. 34Maar toe hulle merk dat hy 'n Jood is, het hulle almal byna twee uur lank uit een mond aangehou skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35Uiteindelik het die stadsklerk daarin geslaag om die skare tot bedaring te bring. “Efesiërs,” het hy gesê, “watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? 36Niemand kan dit betwis nie. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie. 37Julle het hierdie mans hierheen gebring alhoewel hulle nie die tempel berowe of ons godin belaster het nie. 38Die hofsittings word gehou, en daar is regters. As Demetrius en sy vakmanne 'n klag teen iemand het, laat hulle mekaar daar gaan aankla. 39En as julle verder wil gaan, moet die saak op 'n wettige volksvergadering behandel word, 40want ons loop gevaar om van opstand aangekla te word oor die dinge wat vandag hier gebeur het. Daar is geen rede vir hierdie oploop nie, en ons sal dit nie kan verantwoord nie.”

Deur dit te sê, het hy die byeenkoms uitmekaar laat gaan.

HANDELINGE 19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland toe

1Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. 2Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig.

Hy kom toe in Griekeland aan, 3waar hy drie maande gebly het. Toe hy op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van 'n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan.

4Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. 5Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag. 6Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met 'n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly.

Paulus in Troas

7Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou. 8Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was.

9'n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood.

10Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: “Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!”

11Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog lank met hulle gepraat, tot dagbreek, en daarna vertrek. 12Die mense het toe die seun lewend weggebring huis toe.

Hulle was buitengewoon bemoedig deur alles.

Die reis van Troas na Milete

13Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan. 14Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar. 15Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog 'n dag later Milete.

16Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees.

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe

17Van Milete af het Paulus 'n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. 21Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.

22“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. 23Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. 24Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

25“Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. 26Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, 27want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie. 28Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane. 32Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.

33“Ek het niemand se geld of klere begeer nie. 34Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. 35Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.”

36Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. 38Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie.

Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.

HANDELINGE 20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Paulus reis Jerusalem toe

1Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons aan boord gegaan. Ons het reguit koers gehou en by die eiland Kos aangekom. Die volgende dag het ons Rodos bereik en daarvandaan by Patara aangekom. 2Daar het ons 'n skip gekry wat na Fenisië toe sou vaar, en ons het aan boord gegaan en weggevaar. 3Ons het Siprus in sig gekry en is aan die suidekant daarvan verby Sirië toe. In Tirus, waar die skip sy vrag moes aflaai, het ons afgeklim. 4Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie. 5Maar toe die sewe dae verby was, het ons verder gereis, en hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid 6en van mekaar afskeid geneem. Daarna het ons aan boord gegaan, en hulle het omgedraai huis toe.

7Van Tirus af het ons die seereis voortgesit na Ptolemaïs toe. Daar het ons die gelowiges gegroet en 'n dag by hulle gebly. 8Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het die evangelis Filippus, een van die sewe, opgesoek en by hom tuis gegaan. 9Hy het vier ongetroude dogters gehad wat die gawe besit het om te profeteer.

10Nadat ons reeds 'n hele paar dae daar was, het daar 'n profeet met die naam Agabus van Judea af aangekom. 11Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.”

12Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. 13Toe antwoord Paulus: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.”

14Toe ons hom nie kon oorreed nie, het ons daarin berus en gesê: “Laat die wil van die Here geskied.”

15Na 'n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek. 16Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds 'n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan.

Paulus besoek vir Jakobus

17By ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang.

18Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het.

20Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. 21Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.

22“Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is. 23Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat 'n gelofte afgelê het. 24Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou. 25Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan 'n afgod geoffer is, en bloed en 'n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.”

26Die volgende dag het Paulus die manne geneem en die reinigingshandeling saam met hulle verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee op watter dag die reiniging verby sou wees, wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.

Paulus word by die tempel gevange geneem

27Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp. 28“Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.”

29Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het.

30Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit. 31Die mense wou hom net doodmaak. 'n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is. 32Hy het onmiddellik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop. Toe die skare die kommandant en sy soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan. 33Die kommandant het na Paulus toe gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Daarna het hy probeer vasstel wie die man is en wat hy gedoen het.

34Die skare het so deurmekaar geskreeu dat hy in die lawaai nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Hy het toe beveel dat Paulus na die kaserne toe gevat moet word. 35By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra, 36want al die mense het agterna geloop en geskreeu: “Weg met hom!”

Paulus verdedig homself

37Net voor hulle Paulus die kaserne wou inbring, sê hy vir die kommandant: “Mag ek u iets vra?”

Daarop sê die kommandant: “Ken jy Grieks? 38Dan is jy nie die Egiptenaar wat 'n rukkie gelede in opstand gekom en met vier duisend terroriste die woestyn in getrek het nie?”

39Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”

40Die kommandant het ingewillig, en Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die mense gewys om stil te bly. Toe dit baie stil geword het, het hy hulle in Hebreeus toegespreek.

HANDELINGE 21AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS